Wees versigtig op ons paaie oor Paasnaweek

paaie verkeer
Die Automobiel Assosiasie (AA) sê dat die paaie baie besiger gaan wees oor Paasnaweek omdat dit saamval met die skoolvakansie. Meer as 1700 mense is op Suid-Afrikaanse paaie oor die 2016/2017-Desembervakansietydperk dood, wat mense moet laat besef dat dit gevaarlik op paaie gedurende feestye is.
Dit sal veral baie besig wees Maandag 17 April na die Paasnaweek omdat baie mense dan ook eers van hulle vakansie af terugkom, want die skole begin weer op 18 April. Die AA sê verkeervolumes regoor die land sal verhoog veral op die N3, N1 en N2 na Kaapstad.
“Dis belangrik dat mense wat beplan om dan op die paaie te wees net bewus is daarvan dat die verkeer besiger as gewoonlik gaan wees. Jy moet die korrekte houding op die paaie hê, die padreëls nakom, ander motoriste respekteer en jou en ander passasiers se veiligheid verseker,” sê die AA.
Motoriste moet ook verseker dat hulle voertuie in ‘n goeie toestand is. “Jou bande is byvoorbeeld baie belangrik vir padveiligheid. As jy jou bande moet vervang voor jy ry, doen dit betyds. Daar is net een week oor voor die vakansie begin,” sê die AA.
Die AA gee raad aan motoriste wat beplan om op die paaie te wees oor die Paasnaweek en vakansie:
- Dra jou veiligheidsgordel ten alle tye en sorg dat jou passasiers ook hulle s’n dra
- Moenie bestuur indien jy onder die invloed van drank of dwelms is nie
- Wees bedagsaam teenoor ander bestuurders
- Rus wanneer jy moeg is of elke twee ure of 200 km
- Gehoorsaam die spoedgrens en ry ‘n spoed wat by die padtoestande pas
- Kyk na jou bande, vervang indien nodig en maak seker jy het ‘n spaarwiel
- Kyk dat jou remme en skokbrekers in ‘n goeie toestand is
- Kyk vir krake en splinters in jou voorruit, dit kan erger word as jy langpad ry
- Kyk of jou ruitveërs werk vir ingeval dit reën
- Kyk dat al jou elektriese komponente van jou voertuig werk
“Dit is belangrik dat elke persoon op die paaie verstaan dat hulle ‘n belangrike rol speel om die paaie veilig te hou en om verantwoordelik op te tree,” sê die AA..
Bron: AA