Waterkrisis: Daar is ‘n oplossing

andre water 1
Nombuso Buthelezi, burgemeerster van Umzinyati-distriksmunisipalteit, drink van die skoon water wat deur AfriVista se stelsel vir inwoners van KwaNjengabanu in KwaZulu-Natal beskikbaar gestel is. (Bron:Verskaf)
Talle gebiede in Suid-Afrika ervaar ‘n afname in watergehalte, infrastruktuur projekte wat sloer en munisipaliteite wat versuim om bestaande infrastruktuur in stand te hou. Boonop raak waterrade bankrot, terwyl wanbesteding van fondse en korrupsie ook ‘n tol eis.
In sy begrotingstoespraak vroeër vanjaar het David Mahlobo, adjunkminister van Water en Sanitasie, daarop gewys dat die land se waterbehoeftes die afgelope 30 jaar toegeneem het weens bevolkingsaanwas, ekonomiese groei en ontwikkeling klimaatsverandering en toenemende besoedeling.
Volgens hom kon 105 van die 144 munisipaliteite wat ook waterowerhede is, nie hulle mandaat volgens die departement se Blue Drop-verslae kon uitvoer nie. Hierdie munisipaliteite word deur verskeie uitdagings, insluitend onstabiliteit, korrupsie en wangedrag, verouderende infrastruktuur, waterlekkasies en -verliese, en finansiële en operasionele ondoeltreffendheid in die gesig gestaar.
‘n Verslag wat vroeër vanjaar publiseer is dui aan dat die situasie veral in KwaZulu-Natal so versleg het dat die beskikbare water merendeels nie vir menslike gebruik geskik is nie.
Volgens die 2023 Blue Drop-verslag, het slegs drie van KwaZulu-Natal se 172 waterverskaffingsdienste aan die standaarde voldoen; 34 se diens was power, en 21 het feitlik in geheel in duie gestort.
Infrastruktuur wat weens gebrek aan onderhoudswerk verkrummel en ‘n gebrek aan fondse is die hoofoorsaak van die situasie. Waterrade speel bankrot. Volgens Senselwe Mzila, woordvoerder van die Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake (Cogta) worstel die provinsie met die druk van bevolkingsaanwas, klimaatsverandering en ongelyke verspreiding van waterbronne. Dit word verder vererger deur vermorsing van tot 50% van die water deur lekkasies en water wat gesteel word en waaruit geen inkomste verkry word nie.
Intussen het die kabinet die hersiene Nasionale Waterwet (Wet no. 36 van 1998) goedgekeur en dit sal nou aan die parlement voorgelê word. Die Hersiene Nasionale Waterwet sal onder meer voorsiening maak vir meer gelyke waterverdeling en dat die land se waterbronne beter bestuur, beskerm en bewaar word.
In die woorde van President Cyril Ramaphosa tydens die opening die Africa Water Investment Summit in Kaapstad in Augustus: “Kom ons bou ‘n wêreld waar elke druppel tel en elke gemeenskap floreer, ‘n wêreld waar water as elke mens se reg erken word en nie as wapen teen vroue, kinders en gemeenskappe gebruik word nie.”

Vroue van KwaNjengabantu in KwaZulu-Natal vier die eerste skoon water wat AfriVista se inoniseringstelsel gelewer het. (Bron:Verskaf)
KwanJengabantu: Water vir ‘n desperate gemeenskap
André Hollander, stigter en besturende direkteur van AfriVista, bevestig dat die watersituasie veral in landelike gebiede in die provinsie haglik is. “Gelukkig is daar ‘n oplossing,” sê hy. “Nuwe tegnologie maak dit moontlik om volhoubaar skoon, vars water aan landelike gemeenskappe te lewer.”
André het AfriVista in 2015 tot stand gebring om ter wille van voedselsekerheid en menslike en dieregesondheid volhoubaar skoon water nie net aan landbou nie, maar ook aan landelike gemeenskappe te verskaf.
KwaNjengabantu is ‘n landelike gebied op die buitewyke van Durban in KwaZulu-Natal. Die naam verwys na die berg Njengabantu (1165 m) in die Umvoti plaaslike munisipaliteit binne die Umzinyati distriksmunisipaliteit val. Die heuwelagtige gebied het ‘n bevolking van ongeveer 3 000.
KwaNjengabantu word bestuur deur die stamhoof Nkosi Mduduzi Ngubane en sy hoofmanne.
Die gebied lê 896 m bo seespieël en het ‘n gemiddelde reënval van 880 mm per jaar wat gewoonlik in Oktober voorkom. Die gemiddelde temperatuur is 19 °C. Die warmste maand is Januarie (23 °C) en die koudste Junie (14 °C). Plantegroei bestaan hoofsaaklik uit grasveld en struikgewas.
Die gemeenskap gaan gebuk onder verskeie uitdagings: Werkloosheid, armoede, siekte, gebrek aan infrastruktuur wat hospitale, skole, water en elektrisiteit insluit.
Die gemeenskap kan nie ‘n bestaan maak uit boerdery nie. Die meeste mans werk of soek werk in stede soos Johannesburg en Durban. Daar is skole in die gebied en baie kinders is in netjiese skooldrag geklee, maar die vooruitsigte vir werk vir matrikulante is hopeloos.

Voorheen was vroue in KwaNjengabantu afhanklik van besoedelde strome vir hulle water vir huishoudelike gebruik. (Bron:Verskaf)
Skoon water
Die gebrek aan skoon water maak die situasie nog meer haglik. Meer as 200 huise is sonder lopende water.
AfriVista het Nkosi Ngubane ontmoet en sowat 25 gehuggies in die gebied besoek. “Die watersituasie is oral benard. Die watertenkwaens is ongereeld en baie van die watertenks is gebreek. Ma’s, oumas en kinders moet kilometers ver loop om 20 liter-kan water uit ‘n besoedelde spruit of rivier te gaan skep,” vertel André.
AfriVista het die gebiede met die haglikste toestande identifiseer. Die eerste stap was om boorgate te sink. Met die hulp van geoloë is geskikte plekke vir die boor van gate aangedui.
Afrivista se stelsel is by twee plekke installeer wat elk minimum 10 000 liter water per dag met sonkragenergie produseer. Die stelsel suiwer nie net die water nie, maar verwyder ook patogene wat siektes kan veroorsaak.
“Ons gepatenteerde tegnologie maak besoedelde water skoon deur baie klein gelaaide deeltjies van koper, silwer en broom vry te stel. Hierdie deeltjies (ione) val skadelike bakterieë, virusse en swamme aan deur die buitewande te beskadig en sodoende hulle oorlewingsvermoë te ontwrig. Sodra die kieme se beskermende lae breek, sterf hulle natuurlik af en word die water skoon, veilig en drinkbaar sonder die gebruik van skadelike chemikalieë.
Volgens André is 200 landelike gebiede met ernstige waterprobleme in die provinsie identifiseer. “Die situasie is glad nie uniek nie; dit is ‘n wekroep vir dringende ingrype deur vennootskappe tussen gemeenskappe, plaaslike leiers, korporatiewe befondsers en plaaslike waterowerhede. Ons is in gesprek met verskeie instansies om soortgelyke projekte elders in die gebied uit te rol.”
Die projek is befonds deur Blue Label Telekoms.

Die ioniseringstelsel is by Neo Fresh in die Moambadistrik in Mozambiek installeer waar dit skoon water aan hulle voedselverwerking lewer (Bron:Verskaf)
Ander afdelings van AfriVista sluit in
Landbou Kleinhandelsektor: Uitgebreide agtergrond in die verskaffing en bestuur van landbou-oplossings vir markbehoeftes;
Bemestingsprodukte: Kundigheid in vind en verspreiding van kunsmis van hoë gehalte vir volhoubare oesproduksie;
Dierevoedingsprodukte: Kundigheid in die vervaardiging en verskaffing van voedingryke voere vir lewende hawe;
Dieregesondheid en voedingryke voerprodukte: Verseker die gesondheid en welstand van diere deur gevorderde voedingryke oplossings;

Water wat deur AfriVista se suiweringstelsel behandel (links), is merkbaar skoner as rivierwater. (Bron:Verskaf)
Hierdie dienste word aan die volgende plaaslike sektore gelewer:
- Landelike gemeenskappe
- Dorpies in die landelike gebiede
- Dorpe en stede
- Skole, hospitale en militere basisse
- Plase en kweekhuise
- Vrugteboorde en pakhuise
- Kommersiele voedselverwerkingsaanlegte
Volgens André word watersuiwering- en sanitasiestelsels plaaslik en internasionaal in Saudi Arabië, die Demokratiese Republiek van die Kongo en Mosambiek gelewer.
Nkosi Ngubani se visie
Nkosi Ngubani beklemtoon die belangrikheid van gemeenskapsbetrokkenheid en die bemagtiging van die jeug deur opleiding en vaardigheidsontwikkeling.
Sy visie sluit in:
- Landbou-inisiatiewe om jongmense toe te rus met landboukennis en praktiese vaardighede om voedselsekerheid en selfversorging te bevorder;
- Infrastruktuur-vaardighede deur opleiding in vaardighede wat bydra tot die verbetering van behuising, paaie en gemeenskapsfasiliteite;
- Veiligheid en sekuriteit deur die ontwikkeling van vaardighede en inisiatiewe wat help om plaaslike veiligheid te versterk en die gemeenskap te beskerm.
Hierdie benadering bemagtig nie net die jeug nie, maar lê ook die grondslag vir langtermyn ekonomiese groei en volhoubare ontwikkeling in KwanJengabantu.

Mark Levy, uitvoerende hoof van Blue Label Telkoms saam met Nkosi Ngubane tydens die opening van die stelsel in Kwanjengabantu. (Bron:Verskaf)
Kontakbesonderhede
Kontak André Hollander van Simdan Investments (Edms) Bpk, handeldrywend as AfriVista by 083-625-8826 of stuur ‘n e-pos aan André@afrivista.africa
Bronverwysings
Deputy Minister David Mahlobo: Water and Sanitation Dept Budget Vote 2025/26. 09 Jul 2025. https://www.gov.za/news/speeches/deputy-minister-david-mahlobo-water-and-sanitation-dept-budget-vote-202526-09-jul
Jack, S. (2025) Urgent action needed for water quality in KwaZulu-Natal. Daily News. https://dailynews.co.za/news/2025-08-11-urgent-action-needed-for-water-quality-in-kwazulu-natal/#google_vignette
KwaNjenabantu, Wikipedia. https://ceb.wikipedia.org/wiki/KwaNjengabantu
Neethling, B. (2025) South Africa’s forgotten water crisis threatening people’s lives Daily Investor. https://dailyinvestor.com/south-africa/95624/south-africas-forgotten-water-crisis-threatening-peoples-lives/?source=newsletter
Odendaal, N. (2025) Cabinet green-lights water Bills Creamer Media. https://www.engineeringnews.co.za/article/cabinet-green-lights-water-bills-2025-08-08
Ryan, C. (2025) Fixing SA’s water woes means curtailing municipalities’ free-spending ways Moneyweb. https://www.moneyweb.co.za/news/south-africa/fixing-sas-water-problem-means-curtailing-municipalities-free-spending-ways/
Shomolekae, T (2025) ‘Water must be financed, tracked, championed’ – Ramaphosa launches Water Investments Council Creamer Media. https://www.polity.org.za/article/water-must-be-financed-tracked-championed-ramaphosa-launches-water-investments-council-2025-08-13