Waterbeperkings moontlik ingestel vir boere

gariepdam
Na aanleiding van vergaderings wat die afgelope paar weke plaasgevind het, het Vrystaat Landbou (VL) hulle lede ingelig oor die volgende waterbeperkings wat binnekort in die Staatskoerant gepubliseer gaan word. VL sal hulle lede in kennis stel sodra dit in werking tree. Die voorgestelde beperkings is:
Caledonrivier: ’n 100%-beperking, omdat die duur water van die Katsedam net vir menslike gebruik uitgehou word (na skatting sal dit vir die duur van vier maande gedurende die winter wees) en ’n 75%-beperking gedurende die ander tye.
Oranjerivier: ’n 15%-waterbeperking
Vaalrivierstelsel: Luidens ’n berig op Netwerk24 is die Departement van Water en Sanitasie van plan om onmiddellik waterbeperkings in Gauteng, dele van Mpumalanga, dele van die noord-Vrystaat en dele van Noordwes in te stel. Volgens hierdie beplanning sal boere hulle watergebruik met 20% moet verminder. Die Vaalrivierstelsel se water is tans 23% minder as ’n jaar gelede, terwyl die Vaaldam nou 40,4% vol is teenoor ’n jaar gelede se 74%.
VL se Waterkomitee het insette aan die Oranjerivier-beplanningskomitee gelewer, waar voortgesette druk gelei het tot ’n onderneming dat Eskom minder water vir hidro-kragopwekking ten koste van besproeiingsekerheid sal gebruik. Die uitkoms is ’n 15% waterbeperking vir besproeiing in plaas van die oorspronklik voorgestelde beperking van 20%. VL het ook gehelp om boere wat vanuit die Vanderkloofstelsel besproei, se watergebruik beter te laat bestuur deur die Watergebruikersvereniging (WGV), wat toekomstige ongemaklikheid en regskostes gespaar het.
Bron: Vrystaat Landbou nuusflitse