Categories: Artikels, GewasproduksiePublished On: 27th June 2025

Wat is dan lekkerder as ‘n blikkie Koo “Baked Beans”

By 4 min read
837 words

Koo Product Beans in Tomato Sauce2x

Sousbone op roosterbrood, saam met ՚n stewige ontbyt of selfs in sop. Of jy nou mal is oor KOO se sousbone (Baked Beans) of nie, hierdie blikkie bone in tamatiesous is reeds sedert 1946 ՚n staatmaker in Suid-Afrikaanse huishoudings. Jy sal ՚n blikkie sousbone in sewe uit tien huishoudings in Suid-Afrika se koskaste kry.

Hoekom dan sousbone?

Bone, wat sousbone insluit, is een van die top vyf bronne van proteïne in Suid-Afrika en danksy die toename in die gebruik van plantgebaseerde proteïnebronne het die gebruik van bone die afgelope paar jaar gestyg. Dit is een van die mees bekostigbare proteïnbronne wat dit toeganklik maak vir lae-inkomste huishoudings.

Tiger Brands is die voorloper vir sousbone in Suid-Afrika en die maatskappy bekom sowat 19 000 ton klein witbone van boere in hoofsaaklik die Mpumalanga- en Noordwes-provinsies elke jaar.

83% van hulle bone kom van plaaslike boere, en die oorblywende 17% voer hulle in. Die hoeveelheid word egter bepaal deur die beskikbaarheid van klein witbone in die land. Hulle einddoel is om 100% van hulle bone vanaf Suid-Afrikaanse boere te verkry.

Tiger Brands werk saam met gesertifiseerde landboukundiges en boere om te verseker dat die gehalte van die bone wat aan hulle gelewer word net die beste is. Hulle ondersteun die boere wat vir hulle bone plant deur onder meer agronomiese hulp te verleen vir grondmonsters, besproeiing, en oesbestuur. Hulle het ook stropers aangeskaf om boere te help om die oes so doeltreffend as moontlik in te samel.

Van die plaas tot by die fabriek

Vanjaar kon die boneboere baie meer bone van ՚n hoër gehalte lewer as gevolg van die reën. Die plantseisoen vir hierdie bone strek van Januarie tot Mei. Daarna loop die oes-seisoen tot einde Junie. Gedurende die oes-seisoen word die klein witbone met die hand uit die grond getrek en dan in windrye gepak om uit te droog vir ՚n dag of twee, voordat ՚n stroper die windrye optel.

Die bone word dan na ՚n skoonmaakaanlegvervoer waar klippe en ander vreemde materiaal verwyder word. Die skoonmaakproses is ՚n droë proses en geen water word tydens hierdie stap gebruik nie.

Dit is hier waar die proses vir die beste bone begin. Die bone word dan gesorteer volgens hulle kleur en grootte. Hulle word geklassifiseer as ՚n graad een, -twee of -drie boon. KOO gebruik net eerstegraadse bone vir hulle sousbone. Hier word daar gekyk vir gebreekte of gesplete bone, verkleuring, donker kolle en gekraakte bone om die gehalte van die bone te bepaal.

“As die gehalte nie KOO-standaarde haal nie, word dit nie in ons blikke gesit nie,” sê Dumo Mfini, besturende direkteur van die Tiger Brands Culinary-vervaardigingsperseel.

Dan is dit tyd vir die bone om na die Tiger Brands Culinary-vervaardigingsperseel in Boksburg vervoer te word. Hier word die bone weer deur ՚n droë skoonmaakproses gestuur om enige moontlike oorblywende klippe en vreemde materiaal uit te haal.

Die bone word dan gesorteer, gewas en afgespoel voordat dit ՚n paar dae lank in warm water geweek word sodat dit kan sag word. Na nog ՚n sortering word hulle in die bekende KOO-blikkies gesit. Die geheime tamatiesous word dan ook bygevoeg en die blikkies word verseël.

Die bone word binne die blikke en die sous gekook en dan gelos om af te koel. KOO se sousbone gaan deur ՚n inkubasieproses van tien dae voordat die gehaltespan die bondel toets en mikro-ontledings doen om te verseker dat dit aan KOO se streng voedselveiligheidmaatreëls voldoen.

Vandaar kry die blikke hulle etikette. Vervoerbande vervoer die blikke na etiketmasjiene en dan word hulle in kaste van twaalf gegroepeer en verseël. Die kaste word dan op ՚n palet geplaas, reg om uitgestuur te word na Suid-Afrikaanse verbruikers.

Tiger Brands het ses inmaaklyne en vyf etiketeringslyne by hulle vervaardigingsperseel, waarvan KOO-sousbone op vier verpakkingslyne loop. Die inmaakaanleg kan 150 ton klein witbone per dag verwerk en produseer meer as 240-miljoen blikkies KOO-sousbone per jaar. Hulle stuur 424 palette vol sousbone na verspreidingsentrums elke dag.

՚n Stroper tel die windrye bone op.

Die boontjieboere

Tiger Brands het tydens die 2024/2025-seisoen vir die eerste keer gebruik gemaak van dertien boere van die SE Holdings-maatskappy, waarvan ses vroueboere is, om hulle witbone te plant. Altesaam is daar 1 527 hektaar bone geplant.

Hierdie boere vorm deel van SE Holdings, ՚n maatskappy wat in 2014 gestig is om opkomende boere regoor die land te ondersteun om selfonderhoudende ondernemings te skep en ook toegang tot die mark te kry. Altesaam het die boere van SE Holdings vanjaar 1 530 van die 19 000 ton witbone wat nodig was verskaf.

Klein witbone is reg om ge-oes te word.

“Ons weet boere staar baie uitdagings in die gesig, en die meeste daarvan is buite hulle beheer. SE Holdings wil boere help om hierdie uitdagings te oorkom deur gebruik te maak van die oplossings wat ons bied.

Ons is ook baie opgewonde om aan te kondig dat ons van hommeltuigtegnologie begin gebruik maak op die plase. Dit gaan die jonger geslag boere weer opgewonde maak om na die veld terug te keer,” vertel Mpumi Maesela, uitvoerende beampte van SE Holdings.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0