Categories: NewsPublished On: 19th January 2018

Vrystaatkenners wys Karooboere hoe om intensief te boer

By 2 min read
474 words

Cronje Broers – outomatieseerde skaapvoersisteem in voerkraal (Large)

‘n Groep Oos-Kaapse boere het tydens twee leersame dae ‘n handvol kenners in die Vrystaat ontmoet wat gebruik maak van tegnieke wat hulle skaapboerderye intensifiseer.

Zeis Jordaan, David du Plessis, Billy van Zyl en Jako en André Moolman, wolboere in die Cradock-distrik het verlede week saam met die Colesberg-boere, Carel Kritzinger, Henri Smith en sy twee seuns Rassie en WP vanuit Middelburg vertrek na Beskuitfontein, die plaas van Stefan Erasmus, waar ‘n indrukwekkende en funksionele stoor ingerig is vir lamhokkies. Die hokkies is van hout gemaak en die hele stoor het ‘n hortjiesvloer. Die sukses van die lamhokke en alles wat daarmee gepaard gaan,  blyk duidelik uit die verhoging in speenpersentasie van 157%.

Vandaar is besoek afgelê by Hans-Willie Wiplinger in Brandfort wat oorval is met vrae oor lamhokkies, outomatiese voerstelselsen alles rondom die reproduksiesiklus van ‘n ooi. Hy koop volbek ooie in en paar hulle met Dormer-ramme om te verseker hy kry lammers wat vinnig groei. Sy ramme word geselekteer op GDT. Hy spons sy ooie en laat hulle dan natuurlik paar waarna hulle elke 14 dae in hokkies lam. Sy infrastruktuur word maksimaal bestuur en soos ‘n fabriek staan niks stil nie. Sy topwenk aan boere:  Gebruik eerder organisasies wat spesialiseer in ‘n spesifieke terrein as iemand wat iets van alles weet.

Die groep boere het so skuins voor sononder op Heilbron aangekom en Riaan Schutte van RSA Grain Storage Solutions se aanlegte besigtig waar hulle blootgestel is aan nuwe tegnologie om die voer van skape in lamhokke te vergemaklik, vermorsing uit te skakel en arbeidkostes oor tyd te bespaar.

Cronjé Boerdery in die Vrede-distrik het ‘n sterk fokus op die hoendereierbedryf en dit was opvallend hoe netjies die hokke vertoon. Hulle boer ook met wolskape  en die lammers word in ‘n voerkraal tot op 50 kg gevoer met ‘n geoutomatiseerde voerstelsel. Slim idees vir die gebruik van voerbakke is uitgeruil voor die lamhoksisteem, wat in aanbou is, bekyk is.

Tussen Smithfield en Bethulie is die laaste besoek afgelê by Adam Swanepoel, wat saam met sy twee seuns 600 lamhokke onderdak het en tans besig is om ‘n geoutomatiseerde voerstelsel vir die hokke in te sit. Interessant om te weet dat die hokkies van swart plastiekpyp vervaardig is, wat ‘n mens weer eens laat besef dat dit klein goedjies is wat ‘n boer se werk makliker maak en kostes bespaar. ‘n Indrukwekkende stoor met hokkies en ‘n eenvoudige stelselmet seil langs die kante om die hok toe te maak tydens ongure weer, is waargeneem.

Die Cradock- en Colesbergboere het die NWKV Oos-Kaap bedank vir hulle bydrae en borgskap om die tweedag-toer moontlik te maak en die waardevolle geleenthede wat geskep is om nuwe inisiatiewe waar te neem wat die winsgewendheid van wolskaapboerdery kan verhoog.

Boere wat soortgelyke toere wil onderneem is welkom om NWKV se produksie-adviseurs te skakel of Juan Venter by 079-693-1953.

Bron: NWKV

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0