Categories: NewsPublished On: 12th April 2016

Vrystaat Landbou vra vrae oor polisiebetrokkenheid by plaasaanvalle

By 2 min read
390 words

witkruismonument web

Vrystaat Landbou veroordeel die moontlike betrokkenheid van “polisiebeamptes” by plaasaanvalle.

Vrystaat Landbou (VL) het sy kommer uitgespreek oor die onlangse plaasaanval wat op die plaas van Adri Conradie in die Bothaville-distrik plaasgevind het.  Na wat berig word is ‘n verdagte, wat in besit was van ‘n polisie glimbaadjie en boeie, in Orkney in hegtenis geneem. Hy sal binnekort in die hof  verskyn. 

Daar is aanvanklik berig dat daar vyf aanvallers by die misdaad betrokke was. ‘n Verdere verdagte wat op die plaas werksaam is, is ook gearresteer. Dit wil voorkom asof al die items wat van die plaas geroof is teruggevind is. 

Die aanval laat die vraag ontstaan oor die betrokkenheid van sekere polisiebeamptes by die pleging van plaasaanvalle en/of ernstige geweldsmisdade op landbougrond.  

VL se beleid is om met die polisie saam te werk binne die Landelike Beveiligingsplan sê Tommy Esterhuyse, voorsitter van die Wet en Orde-komitee van VL.

Hy sê: “Wat egter kommerwekkend is, is dat hierdie ernstige geweldsmisdade waarby moontlike polisiebeamptes na bewering by betrokke is, die wedersydse vertroue tussen die polisie en boere nadelig kan beïnvloed.  Sodanige voorvalle skaad ook verdere vertroue wat noodsaaklik is om vennootskappe tussen boere en die polisie te vestig. Daar word ‘n ernstige beroep op die polisie se topbestuur gedoen dat as dit sou blyk dat polisiebeamptes wel betrokke was by die pleging van sodanige misdrywe, daar ‘n voorbeeld van die skuldiges gemaak moet word.

“Borgtog moet in die eerste plek teengestaan word deur ondersoekbeamptes. Tweedens moet daarop gelet word dat dit die polisie se beeld skaad ten opsigte van persepsies dat polisiebeamptes toenemend betrokke kan wees by misdadigheid.”

Vrystaat Landbou het ook hulle lede weer eens gewys op die plaasprotokol waarvolgens toegang tot plase tussen georganiseerde landbou en die polisie op die hoogste vlak  beding is. Dit beteken dat polisiebeamptes eers met die eienaars moet kontak maak voor hulle ‘n plaas besoek, anders kan enige misdadiger wat in polisie-uniform geklee is onder ‘n valse voorwendsel boere mislei om toegang tot plase te bekom. Boere word ook aangemoedig om daarop aan te dring dat polisiebeamptes die plaasprotokol nakom.

Cornay Bothma, veiligheidsverteenwoordiger van die Gebiedskantoor van VL in die Bothaville distrik, sê dat voorvalle soos hierdie boere meer paraat maak en dat hulle meer georganiseerd raak ten opsigte van mobilisasie om die veiligheid van mede-boere te verseker.  

Bron: Vrystaat Landbou

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0