Vrystaat Landbou se Jongboer van die Jaar 2016

DJ van der merwe
Vrystaat Landbou het die wenner van hulle Jongboer van die Jaar 2016-kompetisie op ‘n glansgeleentheid by Monte Bello Landgoed in Bloemfontein bekend gemaak. Die wenner is DJ van der Linde (31). DJ van die plaas St Helena naby Vierfontein.
Die ander twee finaliste was Hendrik Heyns van Rouxville en PJ Badenhorst van Dewetsdorp. Die beoordelaarspan sê die droogte het unieke uitdagings vir die wedstryd gebied.
Prof Pieter Fourie, assosiaat professor by die Sentrale Universiteit van Tegnologie (SUT) Vrystaat se Departement van Landbou en sameroeper van die beoordelaars, sê die droogtetoestande het beoordeling gekompliseer. Die toestande het al drie die finaliste geraak en verskeie aspekte moes oorweeg word. Prof Fourie sê dit was uitdagend om ’n wenner te kies, want die finaliste het almal goed presteer.
DJ het op ‘n plaas grootgeword, en sy reis as boer het tydens ’n uitdagende tyd in sy lewe ’n aanvang geneem. Na sowat agt maande in die onderwys moes hy na die plaas terugkeer na sy pa ernstig siek geword het. Sy pa is in 2012 oorlede, en DJ het die plaas en boerdery geërf. Hy boer reeds agt jaar.
Tydens die beoordeling asook as deel van sy inskrywing het DJ aangedui dat hy graag planne maak met die toerusting en vaardighede wat op die plaas beskikbaar is om by veranderde omstandighede aan te pas. Hy sê al kan hulle nie gereeld toerusting en werktuie vervang met nuwer tegnologie nie, pas hy dit wat hulle het aan om by die vinnig ontwikkelende bedryf by te hou.
Hy het die boerdery sedert 2012 stelselmatig uitgebrei, sy planttegnieke verfyn en aanplantings en oeste met meer presisie begin bestuur. Die boerderyvertakkings sluit in witmielies, geelmielies, sonneblom en beeste.
DJ is trots daarop dat hy en sy span op die plaas op gelyke voet met ander boerderye in die omgewing kan meëding. Hy gaan daagliks hulle uitgawes en inkomste na, sodat hy kan weet wat vir die toekoms beskikbaar is. Hy hou ook deeglik dagboek van reënval in elke landery. Hy gebruik dieselfde metode om probleme in landerye aan te teken, sodat hy kan toesien dat enige probleem wel aandag geniet.
DJ is baie trots op sy span op die plaas. “Ons het ‘n puik span en behandel mekaar met respek. My mense kry twee keer meer verlof as ander plaaswerkers in die omgewing en hulle weet hulle kan kom praat oor probleme.”
Volgens hom is die jongboere van vandag die planmakers en die toekoms van die bedryf. “Ons is die boere van môre en ons moet weer sorg dat ons kinders kos vir Suid-Afrika plant.”
Positiwiteit speel ‘n groot rol in die boerdery se bestuur. “Ek sien altyd die positiewe agter iets raak. Mens kan liewer enige situasie met positiwiteit aanpak en regmaak as om die hele dag negatief te wees. Die droogte van 2015/2016 het my net ‘n beter mens en boer gemaak.”
Dit is die 20ste jaar wat dié kompetisie aangebied word.
Bron: Vrystaat Landbou