Categories: Crop productionPublished On: 22nd September 2017

Vrouekrag: Só word kos vir die siel verbou

By 3 min read
639 words

vroueboer2

Dis mos mielies, wys Carin.

Blomme is kos vir die siel en om ’n blomplaas suksesvol te bedryf, is ’n sielsroeping. Carin van den Berg-van Geest wou van kleintyd af boer, maar haar lewe het ’n paar ander draaie gemaak voordat sy so agt jaar gelede by haar ma aangesluit het om die familie-onderneming, Lilly Valley, naby Tarlton aan die Wesrand te bestuur.

In die tyd het sy ’n graad in ekonomie behaal en was vir tien jaar oorsee. Haar ma, Liesbeth van den Berg, het lank die skip aan die seil gehou nadat haar pa in ’n plaasaanval vermoor is.

“Ek dink as dit nie vir my ma as rolmodel was nie, sou ek miskien nie hiervoor kans gesien het nie,” vertel Carin. “Sy is ’n regte Voortrekkervrou!”

Vroue speel ’n groot rol in die boerdery en Carin het al ’n vernuftige span bestuurders om haar bymekaar gemaak. Winnie Marera hanteer die hele Woolworths-rekening en Nomsa Ngema bestuur die pakhuis en afleweringsvragmotor.

Tertius Nell is een van die min hane onder henne en hy is onder meer verantwoordelik vir die mielie-aanplantings. Carin sê die mark het haar gedwing om te diversifiseer en op die gedeeltes van die 400-hektaar plaas wat nie onder blomme is nie, plant sy mielies vir graan en oulandsgras om te baal.

Sy sê: “Ek probeer om elke jaar met iets uit te brei en het drie jaar gelede vir die eerste keer mielies aangeplant. Ons het begin met so 100 hektaar, toe 120 en vanjaar het ons 170 hektaar geplant.”

Tertius sê hulle gebruik twee van Monsanto se DEKALB stapelgeenbasters, omdat dit die bestuur van die mielies soveel makliker maak. Kommandowurms het ook in die gebied feesgevier, maar met die Bt-mielies was dit gelukkig vir hulle geen probleem nie. Die witmielies het ’n goeie 7,8 t/ha op droëland gelewer.

Carin sê Monsanto gee al die nodige bestuursinligting in ’n nuttige handleiding.

Vir die blomboerdery is ondervinding waarskynlik die beste leermeester. Dit is werklik ’n geval van kophou, want sewe dae van die week moet daar vars blomme afgelewer word. Viermiljoen blomme word elke jaar op die plaas gesny!

Lilly Valley voorsien aan Multiflora en Carin het ook ’n tweede onderneming, Bloomex, wat blomme regstreeks aan Woolworths voorsien. Die blomsoorte sluit in: lelies, (wat die hele jaar deur geplant word), freesias, ranonkels, swaardlelies, sonneblomme, tulpe, irisse, leeubekkies en naelblomme (dianthus)

Daar is ongeveer 3 hektaar plastiekhuise en 10 hektaar nethuise. Daar word elke week blomme geplant, sodat daar volgehoue produksie is. Wanneer ’n stelsel leeggepluk is, word die bolle uitgehaal en groenbemesting soos bladramenas word aangeplant om die grond voor te berei vir die volgende seisoen se blomme.

Een van die interessantste blomsoorte in die intensiewe verbouingstelsel is tulpe. Die tulpbolle word gevries in blombakke van Nederland af ingevoer. Op ’n streng tydrooster word die bolle word toegelaat om wortel te skiet en ’n eerste klein loot uit te stoot. Daarna word hulle weer gevries en presies 16 dae voor jy die pragtige tulpe wil pluk, word die bolle weer uitgehaal. Die stam en blom ontwikkel in die tyd.

“Ons het geleer hoe die natuur werk en ons produksiestelsel so aangepas dat ons die natuur se geheime kan inspan vir beter produksie.”

Carin sê met die ondersteuning en riglyne van Woolworths volg hulle streng programme om die grond te bewaar en water te bespaar, asook om elektrisiteit slim te gebruik. Daar is ook streng maatreëls vir die hantering van die plantmateriaal en natuurlik ook die personeel.

“Ek is hulle MA en hulle MAnager,” spot sy. “Die kuns is om te verstaan wanneer om wat te wees!” Sy sê sy het ’n fantastiese span wat al jare op die plaas werk. “Toewyding, die vermoë om aanpasbaar te wees en positiewe vasbyt is ons resep vir sukses.”

Winnie Marera en Carin van den Berg-van Geest tussen die lelies in een van Lilly Valley se indrukwekkende blomhuise.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0