Categories: Resource managementPublished On: 16th August 2017

Vroueboer se hande staan vir niks verkeerd nie

By 4 min read
700 words
vroueboer Zoey

zoey 6

“’n Boer klok sesuur in en nooit weer uit nie,” sê Zoey Botha, ’n regte vroueboer met ’n rok en vellies van die plaas, Doringdraai, net buite Orania. Sy boer met lusern en sy glo ’n boer moet betrokke wees by alles op sy (of haar!) plaas.

Zoey het begin met ’n skaapboerdery, maar sy was nie goed genoeg ingerig daarvoor nie en het gesukkel om arbeid te kry om haar te help. Sy het ook te geheg aan haar skaapfamilie geraak.

“My familie het gesien dat die skape nie die slagpale gaan haal nie en net op die plaas gaan bly, want ek het vir die skape name begin gee. So toe het ek op die ou einde besluit om hulle maar eerder te verkoop.”

Nou boer Zoey met gewasse. “Maar ek sal weer eendag met skape boer as ek kan. Ek mis veral lamtyd,” sê sy.

Doen dit self

Zoey plant 18 hektaar lusern en het twee viertoring spilpunte en ’n eenhektaar wateraangedrewe spilpuntjie op Doringdraai. Sy is nie die tipe boer wat staan en kyk hoe dinge gedoen word nie, sy dien self kunsmis toe en bestuur die spilpunte. Sy sny, hark en baal ook self, maar vir die stroop- en plantproses kry sy kontrakteurs.

Zoey se besproeiingsgrond het goeie bewerking en bemesting nodig: “Ons skeurploeg (rip), dan strooi ek eers hoendermis en ander voedingstowwe vir die grond, en laastens stuur ons die Vibroflex-saadbedvoorbereider deur om ’n egalige, gelyke land te hê.”

Dan is dit planttyd. Haar oupa Machiel het vir haar ’n John Deere 2140-trekker gegee waarmee sy bale laai en die klein plaaswerkies doen soos waens sleep. Die trekker se naam is Giellie, vernoem na haar oupa. Vir die swaarder bewerkings en tapkarsleep het sy ’n John Deere 6240. Die belangrikste stuk gereedskap wat ’n boer op sy plaas moet hê, volgens Zoey, is ’n draadtang. Haar hande staan immer reg om die goed wat pla reg te maak.

Pype gee vir Zoey die meeste moeilikheid op die plaas, maar dit is hoe ’n mens leer. “Van ’n pyp en ’n passtuk kan jy my niks vertel nie.”

Wat die liefde aanbetref, is sy nie haastig nie. “Mens trou nie meer vir liefde nie, maar wel vir waterregte,” sê Zoey met ’n glimlag.

Zoey boer al van die einde van 2013 af en het net een werker wat haar help, Frederik van Antwerpen. “Hy boer al twee jaar saam met my en hy is die lojaalste en betroubaarste werker wat al saam met my gewerk het. Ek is baie bevoorreg om hom in my span te kan hê,” sê Zoey. Haar skaaphond, Shadow, boer ook saam met haar.

Haar liefde vir boerdery het sy van haar oupa af gekry. Hy boer nog self met mielies en koring (droëland) en is baie trots op sy kleindogter. “Ek hou my oupa op hoogte met foto’s en hy vra baie uit oor hoe die besproeiingsdinge werk. Hy het vir my goeie raad gegee oor die hoendermis wat ek nou elke keer inwerk voor ek plant. Ek is baie bevoorreg om ’n rolmodel soos hy te kan hê; ek kyk op na hom.”

As jy haar vra hoe ’n jong meisie dit regkry om van jongs af te boer, sê sy dit is meer domheid as enigiets anders, want wie wil nou so sukkel? “Maar as jy ’n liefde het vir iets, moet jy hard werk om dit uit te leef en as jy gelukkig is op ’n plek moet jy die beste daarvan maak.”

’n Vrou van vele talente

Sy boer nie meer met skape nie, maar werk nog met wol. Sy koop wol aan en maak wolpantoffels wat sy dan in Orania verkoop. Haar klein organisasie se naam is ZB Boots. “In die nag maak ek pantoffels en in die dag is ek ’n boer,” sê Zoey.

Sy hou daarvan om haar hande besig te hou en naaldwerk te doen. Baie mense frons oor ’n vrou wat boer, maar dit skeel Zoey min. “Party mense het gedink ek gaan net ses maande hou en toe verbaas ek hulle.”

Giellie, Zoey se staatmakertrekker wat sy na haar oupa vernoem het.

vroueboer Zoey

Monsanto borg met trots die reeks oor: VROUEKRAGMonsanto

 

0

Deel hierdie artikel.

7 Comments

  1. Cas Swanepoel 21st August 2017 at 18:03 - Reply

    Zoey, ek dink jy is puik!!! Baie geluk met jou sukses en sterkte en net van die beste vir die toekoms. Hoop dat jy eendag jou “waterregte” sal kry, maar hy sal moet murg in sy pype he!! Dankie Orania vir die plasing hiervan. Het gewonder wat van haar geword het nadat jul lank gelede n artikel oor haar skaapboerdery geplaas het. Zoey, jy is pragtig en ons is trots op jou. Ek sluit sommer weer by die Orania-beweging aan na hierdie artikel!!! Hul moet maar bel!

  2. Punch Chapman 18th August 2017 at 17:01 - Reply

    Well done Zoey, It is really fantastic to read of your dedication to farming . Good luck for the future and maybe try a McCormick or Landini tractor. Possibly your output costs will decrease !! Keep well and go for it.
    Regards,
    PunchChapman.

  3. charl 17th August 2017 at 13:41 - Reply

    Hi Zoey

    Ek het geen twyfel dat jy nog groot genoeg gaan word (deur die verkryging van nog waterregte) om eendag ‘n AgriCAD implement in te span nie.

    Groete Charl

  4. Anne Anholts 17th August 2017 at 13:34 - Reply

    Goed gedoen Zoey. Soos die verjaardagliedjie sê: Mag die HERE jou seën en nog baie jare spaar.

  5. P Fourie 17th August 2017 at 10:57 - Reply

    Baie GELUK Zoey met jou Pragtige Ondernemersgees ….. jy is n MOOI Voorbeeld vir ons jong boere ……. Hou so aan en jou sukses sal baie GROOT wees ! ! groete van ons Verkeerdevlei – boere , oom Petrus .

  6. Lucia 16th August 2017 at 22:47 - Reply

    Jy is n pragtige voorbeeld Jou hande staan vir niks verkeerd nie Bid jou sterkte en gesondheid toe xxx

  7. etienne 16th August 2017 at 22:27 - Reply

    trots

Leave A Comment

0