Vroue in die landbou: Nie mielies nie, maar Magda
Monsanto vier elke Augustus vroue in die landbou met ‘n reeks spesiale dae op die platteland.
Sê jy Monsanto, dink landbouskrywers nie mielies nie, maar Magda, Magda du Toit. Sy is die verteenwoordiger van die tegnologie- en saadmaatskappy, die een na wie jy gaan as jy ‘n vraag het. En Magda het die antwoord, of sal hom kry, want sy is al byna twee dekades die gesig en stem van Monsanto in Suid-Afrika.
Eers in die landbou, dan nooit weer weg nie, verduidelik sy oor haar lang diens in belang van die land se boere, groot en klein. Dis ‘n liefde wat nie vergaan nie, sê sy.
Sy woon in Pretoria, het haar graad in kommunikasie in Potchefstroom verwerf, by ‘n koerant in Warmbad gaan werk, ‘n nagraadse diploma in bemarkingbestuur aan Unisa verwerf en by die Department van Landbou as joernalis aangesluit en was na ‘n tyd redaktrise van Landbou se weeklikse nuusbrief. Sy is daar getroud met Neels en hulle het ‘n dogter en ‘n seun.
En toe na Monsanto. Daar is ‘n groot deel van haar werk om mense oor biotegnologie in te lig – dit doen sy via verskeie kanale: korporatief, die media, landbou-organisasies.
Hier is vrae wat aan Magda gerig is:
- Hoe lank is jy in landbou en waar het dit alles begin?
Dertig jaar. Ek het my loopbaan by ‘n plaaslike koerant begin en het boeredae, die plaaslike skou en ander landbou-stories gedek. Toe het die Departement van Landbou my ‘n pos aangebied en sedertdien is landbou in my bloed.
- Wanneer het jy by Monsanto aangesluit en wat is jou rol?
Dit was sewentien jaar gelede – in Julie 2000. Sommige mense wonder of mens so lank by een maatkappy moet bly maar ek is steeds gelukkig, vervul en het nog heelwat uitdagings wat my besig hou. Monsanto is ‘n wonderlike maatskappy om voor te werk en bied baie geleenthede om te groei. Ek is die bestuurder verantwoordelik vir korporatiewe betrokkenheid en kommunikasie in Suid-Afrika en skakel met die media en die nywerheid. Ek is gek daarna om die Monsanto-storie te vertel. Ek is ewe gek na die interaksie met boere en die landbougemeenskap.
- Wat is vervullend aan jou werk en wat dink jy is jou grootste bydrae?
Om die storie van Monsanto te vertel en mense in te lig oor die voordele om tegnologie te gebruik ongeag die skaal waarop jy boer. Ek is absoluut passievol oor biotegnologie, dalk omdat my man en seun tipe een diabete is en ek ervaar elke dag watter voordele moderne biotegnologie in mense se lewens bring. Dit maak my woedend as mense net agter die mode aanpraat en ‘n maatskappy en ons tegnologie kritiseer sonder om die feite vas te stel of die betrokke mense te leer ken. Mense kla oor biotegnologie of kritiseer boere sonder om die vaagste benul te hê waar hulle kos werklik vandaan kom of wat dit is om ‘n boer te wees. Boere staan voor baie uitdagings. Dit laat my snags beter slaap as ek sien hoe ons ‘n bydrae lewer om hulle boerdery meer volhoubaar en winsgewend te maak en hulle op hulle plase te hou en help om landelike gemeenskappe te steun.
- Dink jy daar is plek vir vroue in die landbou?
Natuurlik! Toe ek begin werk het was daar nie baie vroue in die sektor nie maar ek glo vroue kan net so goed boer, navorsing doen, bereken en verkoop as mans. Daar is baie loopbane in die landbou – ‘n mens hoef nie net te boer nie. Daar is geleenthede vir rekenmeesters, sake-ontleders, biotegnoloë, patoloë, veeartse, kommunikeerders en joernaliste. Daar is selfs advertensiemaatskappye wat in die sektor spesialiseer.
- Wat van die pad vorentoe?
Ek het al ‘n aantal kortverhale geskryf, en gedigte en spirituele opheffingstukke maar ek sal graag ‘n roman wil skryf.
- Wat is jou boodskap aan ander vroue?
Volg jou hart. Aanvaar wie en wat jy is. Bly getrou aan jouself maar hou aan om jouself te probeer verbeter en skakel daardie klein foutjies uit. Jy hoef nie soos ‘n man te wees om die werk te kan doen nie – jy kan jou werk doen en jou droom volg net soos jy is en wie jy is.
Bron: Meropa