Voorligtingsessies oor diversifikasie opsies vir boere

TLU sa logo
Kommersiële boere het eersdaags die geleentheid om in ‘n enkele voorligtingsessie meer inligting te bekom oor die verskillende verskansingstrategieë wat daar beskikbaar is.
Gesonde sake- en risikobestuursbeginsels vereis dat boere deeglik oorweeg en beplan hoe om die onsekere omgewing waarin boerdery bedryf word, te bestuur. Daar is verskeie bestaande inisiatiewe en moontlikhede vir boere om behoorlike diversifikasie te bewerkstellig en aanbiedings is gereël waar ‘n oorsig gegee gaan word oor die verskillende opsies.
Die sessies word in verskillende streke aangebied deur Old Mutual, die TLU SA en Agri All Africa waar kundiges die opsies en die oorwegings wat in ag geneem moet word by elkeen sal toelig. Die inligtingsessies het ten doel om boere in staat te stel om opsies te vergelyk om uiteindelik ingeligte besluite te kan neem. Die sessies word in Afrikaans aangebied.
Die sessies is gratis en oop vir alle boere en belangstellendes. Vooraf registrasie is egter ‘n vereiste en kan geskied by die kontakpersone vir die verskeie streke soos gelys in die tabel hieronder.
Volgens Bennie van Zyl, hoofbestuurder van die TLU SA, “maak die onsekere beleidsomgewing en toekoms van landbou in SA dit noodsaaklik dat opsies oorweeg moet word om belange buite die Suid-Afrikaanse ekonomie te diversifiseer. In dié opsig het TLU SA reeds moontlikhede in Georgië en Bulgarye wat landbouvriendelike geleenthede aan boere bied ondersoek.”
“Dit is egter belangrik dat alle opsies oorweeg moet word en daarom wil ons boere ook bekendstel aan geleenthede in Afrika, vandaar die samewerking met Agri All Africa, asook verskansings-moontlikhede wat beskikbaar is deur finansiële instellings en platforms, waar Old Mutual as vennoot betrek is”, sê Bennie.
Dr Theo de Jager, Voorsitter van Agri All Africa sê: “Ons neem graag deel aan die inisiatief om voorligting aan boere te gee oor die moontlikhede wat in Afrika bestaan. Die kundigheid van SA boere is in groot aanvraag en ons poog om hierdie geleenthede in Afrika te ontsluit met advies en ondersteuning aan boere en landboubesighede.”
Volgens Koos Nel, van Old Mutual Agrimark, is “dit belangrik dat boere bewus is van beleggingsgeleenthede en opsies wat nou beskikbaar en toeganklik is.”
Hy sê: “Bates en beleggings buite die primêre boerderybesigheid is ‘n fundamentele bousteen van ‘n weldeurdagte finansiële en sakeplan om sekerheid te skep vir die toekoms van families. Ons maak vak-spesialiste van Old Mutual Wealth beskikbaar om die opsies te bespreek. Elbe Thatcher, ‘n fidusiêre kundige, gaan praat oor trusts en gepaardgaande risiko’s wat oorweeg moet word. Riaan Craven, streekbestuurder van Old Mutual International sal oorsese opsies toelig en Greg Potgieter, ‘n aandele portefeuljebestuurder sal meer inligting bied oor hoe boere hulle kan verskans deur plaaslike en oorsese aandeleportefeuljes.”
Vier sessies is geskeduleer en verdere voorligtingsessies sal volgens behoefte aangebied word. Belangstellendes kan by die onderstaande kontakpersone registreer vir bywoning of skakel met Lynne Kayser by 012-804-8031 of media@tlu.co.za vir verdere navrae.
| Streek | Plek | Lokaal | Datum / Tyd | Kontak |
| Oos | Ermelo | DLU Saal op Hoërskool gronde | 8 Februarie
10h00 |
Danie du Plessis
Sel: 082-929-3347 |
| Sentraal / Gauteng | Devon | Devon BU saal reg oorkant SAPD stasie | 9 Februarie
10h00 |
Lynette du Plessis
Tel: 012-804-8031 |
| Noordwes | Lichtenburg | Indaba Konferensie sentrum, Kerkstraat 34 Lichtenburg | 1 Maart
10h00 |
Gert Cruywagen
Sel: 082-497-0386 |
| Noord / Limpopo | Potgietersrus / Mokopane | Potgietersrus Gholfklub | 2 Maart,
10h00 |
Drickus Botha
Sel:082-774-9287 |
Bron: TLU SA