Categories: Artikels, Vee en WildPublished On: 22nd May 2026

Voorkom winterterugslae met die regte aanvullings vir jou vee

By 4 min read
724 words

beef-cattle-supplements-south-africa25

Met groot dele van Suid-Afrika wat vanjaar goeie reën ontvang het, lyk die veld op baie plekke uitstekend. Beeste blink in die son, skape is in goeie kondisie en boere haal asem ná uitdagende seisoene. Maar volgens Kobus du Plessis van Feedtek is dit juis nou die tyd wanneer boere versigtig moet wees om nie die winter se uitdagings te onderskat nie.

“Ons het ’n baie goeie somer agter die rug,” vertel Kobus tydens NAMPO. “Die probleem is egter dat baie volume gras nie noodwendig goeie gehalte voeding vir jou vee beteken nie. Met die baie reën kon die gras se voedingswaarde afgeneem het, en dit is waar winteraanvullings nou ’n kritieke rol begin speel.”

Wanneer die winter aanbreek en veld begin verouder, verloor gras vinnig proteïen en energie. Hoewel daar dalk steeds genoeg materiaal op die veld is, beteken dit nie jou diere kry alles wat hulle nodig het om kondisie te behou nie. Dit is juis hier waar baie boere later in die seisoen die gevolge begin sien, diere verloor gewig, reproduksie word beïnvloed en kalf- en lamseisoene ly daaronder.

Volgens Kobus is dit belangrik dat boere nou reeds vooruit beplan en nie wag totdat die eerste tekens van kondisieverlies sigbaar raak nie. “Die winter lê nog voor en dit kan ’n rowwe winter wees,” sê hy. “Die groot gevaar is dat diere op die oog af nou goed lyk, maar dat die voedingstekorte later begin deurkom wanneer die veldgehalte verder verswak.”

Hy verduidelik dat vee in die winter hoofsaaklik aanvullings van ureum, energie, fosfaat en ander makro- en mikro-minerale benodig om die tekortkominge van die veld aan te vul. Sonder hierdie aanvullings kan die dier se vermoë om ruvoer effektief te benut drasties afneem.

Feedtek bied verskeie oplossings om boere deur die winter te help. Produkte soos Veld Grazer en Econograzer is spesifiek ontwikkel om die voedingstekorte van winterveld aan te vul. Hierdie konsentrate bevat onder meer ureum, fosfaat en noodsaaklike minerale en kan saam met sout, mielies of chop gemeng word om ’n praktiese en koste-effektiewe winterlek saam te stel.

“Die doel van hierdie aanvullings is om jou diere te help om die beskikbare veld beter te benut,” verduidelik Kobus. “As die rumen reg funksioneer en die nodige voedingstowwe beskikbaar is, kan jou diere baie beter deur die winter kom.”

Merino breed sheep with wool coats in a pen on a sheep farm

Nog ’n produkreeks waarmee Feedtek die afgelope twee jaar hande gevat het, is die Ecovite-produkte. Volgens Kobus het hierdie produkte reeds goeie ondersteuning onder boere ontvang, veral waar energie-aanvulling noodsaaklik is.

“Ecovite is gebaseer op droë molassepoeier en bied ’n uitstekende energiebron vir diere gedurende die wintermaande,” verduidelik hy. “Ons het ook ’n nuwe produk, Dripro 64, wat op dieselfde beginsel gebaseer is. Dit help om energie en proteïen aan te vul wanneer die veld nie meer genoegsame voedingswaarde het nie.”

Hy beklemtoon dat voldoende energie- en proteïen-inname gedurende die winter van kardinale belang is, veral vir dragtige koeie en ooie wat binnekort moet kalf of lam. Wanneer diere gedurende die winter te veel kondisie verloor, beïnvloed dit nie net produksie nie, maar ook vrugbaarheid in die volgende generasie jong diere.

“Ons wil boere gerusstel dat daar genoegsame produkte beskikbaar is vir die winter,” sê Kobus. “Ons wil boere ook herinner om nou reeds gereed te maak. Moenie gaan slaap omdat die veld mooi lyk en die diere nou goed vertoon nie.”

Kobus du Plessis van Feedtek en Johan de Klerk van Ecovite tydens NAMPO.

Vir Suid-Afrikaanse veeboere bly die winter elke jaar ’n toets van bestuur, vooruitbeplanning en voeding. Boere wat betyds begin aanvul, pluk gewoonlik later die vrugte wanneer kalf- en lamseisoen aanbreek en diere steeds sterk en produktief is.

Kobus se raad aan boere is eenvoudig: ken jou veld, monitor jou diere se kondisie en maak seker die nodige aanvullings is betyds beskikbaar. “Onthou, winteraanvullings gaan nie net daaroor om diere aan die lewe te hou nie. Dit gaan daaroor om jou kudde se potensiaal te beskerm en seker te maak jy gaan die volgende produksieseisoen met sterk, gesonde diere binne,” sluit hy af.

Vir meer inligting oor Feedtek se winteraanvullings, konsentrate en die Ecovite-produkreeks, kontak jou naaste Feedtek-agent of besoek Feedtek se webtuiste. Kontak hulle by 086-111-5362 of stuur ’n e-pos na info@feedtek.co.za.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0