Categories: NuusPublished On: 6th February 2025

Voëlgriep: ‘n Dief in die nag terwyl regering sluimer

By 5 min read
925 words

voelgriep 10

Die plaaslike pluimveebedryf is weens verskeie faktore, soos die gesloer met die inentingsveldtog, vergoeding vir verliese, invoer van goedkoop hoenderprodukte en duur voer, onder groot druk.

Die nadraai van die dramatiese omvang van voëlgriep in die VSA het oor die naweek ‘n ontstellende wending geneem met die diefstal van 100 000 eiers in die deelstaat Pennsilvanië Saterdagnag gesteel is. Die eiers is glo $40 000 dollar werd (sowat R747 178).

Alhoewel mens nie aldag hoor van diewe wat wegkom met soveel eiers nie, is die situasie eintlik glad nie komies nie: Dit onderstreep die erns van die voëlgriepepidemie in die VSA, waar die eiertekort die gevolg is van miljoene lêhenne wat van kant gemaak moes word sedert die siekte in 2024 in alle erns daar uitgebreek het.

SA hoenderboere onder druk

Plaaslik is die voëlgriepsituasie ook op ‘n mespunt omdat daar gesloer word met inenting daarteen en kompensasie vir hoenderboere se ekonomiese verliese. Volgens Izaak Breitenbach, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging (SAPV) heers daar versigtige optimisme oor die bedryf maar die hoogs patogene voëlgriep (HPAI) bly ‘n kopseer

Die plaaslike pluimveebedryf is ‘n nasionale bate van om en by R65 miljard –  die tweede grootste in die landbousektor, en die grootste werkgewer van sowat 58 000 mense in die hele waardeketting.

Volgens Breitenbach het die bedryf baie daarin belê om die aantal hoenders wat per week geslag word van 19,5 miljoen per week tot 22,5 miljoen uit te brei, al word net 21,5 miljoen tans geslag. Hy meen die volle potensiaal van die slaggeriewe kan nie benut word nie omdat talle plase nog besig is om te herstel na die 2023 uitbrekings en boere is lugtig om te veel uit te brei in geval van toekomste uitbrekings en invoere.

Die belangrikste kwessies vanjaar is die inenting van hoenders teen voëlgriep, kompensasie vir besmette hoenders wat van kant gemaak moet word, die fluktuerende dinamiek van die bedryf, en stygende voerkoste weens die rand/dollar wisselkoers.

Hoewel entstof teen voelgriep in Suid-Afrika beskikbaar is, sloer die regering met die uitrol van ‘n inentingsprogram.

Inenting

Pogings om inenting teen voëlgriep te doen om ‘n toekomstige voëlgriepramp af te weer, het tot stilstand geknars. Tot op hede kon g’n plaas nog voldoen aan die streng biosekerheidsprotokolle wat inenting vereis nie. Dit skep ‘n dilemma vir die bedryf, want sonder inenting bly die sektor kwesbaar vir die verwoestende invloed van nuwe uitbrekings.

Die bedryf in die meeste Amerikaanse state en die meeste lande in Europa is ‘n rooi lig vir die bedryf in Suid-Afrika.  In 2023 het twee stamme van die virus, naamlik H5N1 en H5N7 die ergste uitbrekings in die Suid-Afrikaanse geskiedenis veroorsaak. H5N1 kom ook elders voor, terwyl H5N7 uniek is aan Suid-Afrika.

Volgens Breitenbach is  drie H5-entstowwe vir invoer goedgekeur, maar die verpligte toetsprotokolle beteken dit kan nog maande duur voordat die H7-entstowwe goedgekeur word.

Ten spyte van voortdurende onderhandelings met die staat, is daar nog nie ‘n prakties uitvoerbare oplossing nie. Die bedryf plaas ook voortdurend druk op landbouminister John Steenhuisen om in te gryp om die proses te bespoedig en om boere vir hulle verliese te vergoed.

Breitenbach meen alles moet in die stryd gewerp word om te voorkom dat die virus vanuit Europa en die VSA oorspoel en al oplossing is inenting, want standaard biosekerheidsprotokolle is nie genoeg om ‘n pandemie te keer nie.

In- en uitvoer

Voorts het die invoer van hoendervleis vanaf 2023 tot 2024 toegeneem, veral die invoer van meganies-ontbeende hoender en afval waarop nie invoertariewe gehef word nie. Argentinië, wat nie onderworpe is aan beperkings op die invoer van goedkoop hoenderprodukte na Suid-Afrika nie, plaas groot druk op plaaslike hoenderboere.

Uitbrekings in ander lande soos die Verenigde Koninkryk en Hongarye het gelei tot minder invoere van daar af, maar solank ander lande in gebiede wat nie deur voëlgriep geraak word nie hoenderprodukte tariefvry kan invoer, sal plaaslike produksie en pryse in gedrang bly.

Volgens Breitenbach is vordering gemaak met nuwe markte. Residu-moniteringsprogramme is voorgelê en die VK en Saoedi Arabië sal na verwagting binne die volgende paar maande kom inspeksie hou. Die inspeksies is ‘n voorvereiste vir uitvoer van veral gaar hoenderborsies na markte in die VK, die Europese Unie en Saoedi-Arabië. Die uitvoer van rou hoender word nie tans oorweeg nie. Dieselfde geld steeds die uitvoervereistes vir volstuisvleis.

Hoenders ter waarde van duisende dollars is die afgelope naweek in die staat Pennsilvanië gesteel – dit is hoe ernstig hoogs patogene avian influenza, oftewel voëlgriep, die VSA raak. Dieselfde kan in Suid-Afrika gebeur.

Voerpyse

Die prys van mielies en sojabone, noodsaaklike komponente van hoendervoer, bly ‘n bekommernis. Ten spyte van laer voerkoste en minder beurtkrag in 2024, is verouderde infrastruktuur en stygende energiekoste steeds ‘n probleem vir hoenderboere.

Al het boere gedurende 2024 ‘n beter prys verdien vir braaihoenders, is hulle steeds onder druk. Boere wat steeds probeer herstel van 2023 se verliese, en terwyl inentings en kompensasie vir verliese sloer, is lugtig om uit te brei.

Suid-Afrikaanse verbruiker is ook steeds onder finansiële druk en hoë kospryse beïnvloed aankope. Die SAPV in samewerking met die Vereniging van

In- en Uitvoerders van Vleis (Amie) en rolspelers in die bedryf, het versoek dat gevriesde hoenderstukke en -afval vrygestel word van verkoopsbelasting (BTW). Dit sal die druk op laer-inkomste huishoudings verlig en plaaslike hoenderboere help om  om koste-effektiewe hoenderporsies te voorsien.

Ten spyte van hierdie uitdagings is die bedryf veerkragtig en vasberade om die jaar se uitdagings die hoof te bied, aldus Breitenbach.

Bronverwysings

Kesslen, B. (2025) Someone stole 100,000 eggs because that’s a thing now. They’re worth $40,000. https://qz.com/100k-organic-eggs-stolen-from-pennsylvania-truck-1851755713?utm_source=Quartz_Daily_Brief_Europe_Africa&utm_medium=email&utm_campaign=2025-02-06

State of the SA poultry industry. https://www.sapoultry.co.za/state-of-the-sa-poultry-industry/

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0