Voëlgriep kan pluimveebedryf knak

withoender
Te midde van ‘n ekonomiese resessie en ‘n landboumark wat van droogte probeer herstel, kan die jongste uitbraak van hoogs aansteeklike voëlgriep (H5N8) die pluimveebedryf knak, indien produsente nie dadelik voorkomend optree nie.
So sê Liana Steenkamp van die landbougroep, Laeveld Agrochem, wat toegang het tot die uiters doeltreffende produk Virukill – beskikbaar in verpakkings van 250ml, 1 liter, 5 liter, 10 liter en 20 liter – en wat die groep deur al sy agente wil versprei om die voëlgriep hok te slaan.
Steenkamp waarsku dat hoewel daar tot gister net twee uitbrake (Standerton en Villiers) landwyd aangemeld is, die risiko vir verdere verspreiding geweldig hoog is, juis vanweë die voorkoms van wilde voëls in die gebiede, asook pluimvee wat lewend verkoop word. Die regering het wel ‘n verbod op die verkoop van lewende pluimvee geplaas, maar die verkoop van lewende pluimvee in die informele mark verhoog die bedryf se risiko.
Laeveld Agrochem staan by sy leuse “saam boer ons vooruit” en daarom wil Laeveld Agrochem die landboubedryf ondersteun. Ons versoek dat boere ons regstreeks sal kontak vir bestellings of hulp, het sy gesê.
Steenkamp het genoem dat ‘n onlangse uitbraak van voëlgriep in Amerika, binne minder as 2 jaar ekonomiese skade van $1 miljard (sowat R13-miljard) net alleen in die deelstaat Iowa veroorsaak het. Verder het die prys van hoendereiers en ander kosprodukte die hoogte in geskiet.
Hoewel die H5N8-stam nie ‘n regstreekse gevaar vir mense inhou nie, het dit wêreldwyd al tot miljoene pluimvee se vrekte gelei – hetsy regstreeks of weens voorkomende uitdunning. Die hoogs aansteeklike voëlgriep het nou vir die eerste keer onder kommersiële hoenders in Suid-Afrika uitgebreek – nadat die land se grootste pluimveeprodusent, Astral, bekend gemaak het dat die H5N8-stam op een van sy plase by Villiers gevind is.
Die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging (SAPV) sê die H5N8-stam is sedert November verlede jaar in verskeie Europese lande aangemeld, maar vanjaar ook in Afrikalande soos Egipte, Uganda, die Demokratiese Republiek van die Kongo en, verlede maand, in Zimbabwe. Wilde watervoëls speel die grootste rol in die vinnige verspreiding.
Dr. Charlotte Nkuna, uitvoerende bestuurder van die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging (SAPV), het gistermiddag gesê almal in die landboubedryf behoort voorkomend op te tree, “want wilde voëls kan enige plek land”. Die uitbrake in Villiers en Standerton is onder beheer, maar indien dit veroorsaak is deur wilde voëls, kan uitbrake elders voorkom, het sy gesê.
‘n Beroep is op die publiek gedoen om enige voorkomste van groot getalle vrektes onder wilde voëls of agterplaashoenders aan te meld.
Volgens Bomikazi Molapo, ‘n woordvoerder van die Departement van Landbou, kan dié virus baie vinnig versprei, en kan baie verskillende voëls die siekte opdoen. “Die virus kom natuurlik in baie voëls voor, en kan versprei deur kontak met besmette voëls en deur die inname van besmette kos of water.”