Categories: NewsPublished On: 21st April 2017

VKB/VL Veiligheidslessenaar bemagtig boere vir hulle eie veiligheid

By 3 min read
610 words
doringdraad

doringdraad

Dit is met groot dankbaarheid dat die VKB/VL Veiligheidslessenaar ’n bedrag van R420 000 van VKB ontvang het in ondersteuning van landelike veiligheid in die Vrystaat. Dié geld is deur die 2017-VKB Dryf vir Veiligheid Gholfdag op Clarens ingesamel. Die maatskappy bied al vir die afgelope vier jaar die gholfdag aan ter ondersteuning van veiligheid.

Die geld stel Vrystaat Landbou (VL) en die lessenaar in staat om boere te bemagtig in terme van hulle eie veiligheid, asook om samewerking tussen boere en die Polisie te versterk om misdaad in landelike gebiede aan te pak. “Sonder hierdie befondsing sou die VKB/VL Veiligheidslessenaar nie in staat wees om hulle rol ten volle te vervul nie. Ons is baie dankbaar vir VKB en al die deelnemende spanne se ondersteuning,” aldus Henk Vermeulen, hoofuitvoerende beampte van VL.

Die VKB-groep is ‘n trotse landbou-onderneming en word deur boere besit. Jan van der Walt, bemarkingsbestuurder van die VKB-groep, sê: “Ons erken die onmiskenbare rol wat die produsente in die welvaart van die maatskappy speel, deur in samewerking met Vrystaat Landbou (VL) strukture te help vestig en onderhou wat tot die welstand van produsente kan bydra. Ons voel dit is juis belangrik om met die borgskap erkenning te gee aan die rol wat boere, as primêre voedselprodusente, in die daaglikse lewe van elke mens vervul, en hierdeur leef ons ook ons leuse, “vir die liefde van die land”, uit.”

Sowat 65 instansies het die jaar aan die gholfdag deelgeneem, en 77 golfkarretjies, die meeste nog ooit op so baan, is op die dag gebruik. Pryse ter waarde van R80 000 was in die spel.

Die rol van die lessenaar

Sowat twee en ’n half jaar na die vestiging van die VKB/VL Veiligheidslessenaar, word die lessenaar se rol in veiligheid deur verskeie rolspelers in die bedryf as onmisbaar beskryf. Dit word beskryf as ’n bron wat waardevolle inligting verskaf wat die plaaslike asook nasionale gemeenskap op hoogte hou van gebeure in die provinsie en die stand van misdaad in die landelike gebiede, wat op hulle beurt ’n reuse bydrae tot Suid-Afrika se voedselsekerheid lewer.

Veiligheidsberade en opleidingsessies oor grondbesettings, veediefstal, dienslewering deur die SAPD en ander veiligheidskwessies word die afgelope twee jaar saam met die Polisie aangebied as deel van pogings om boere met kennis toe te rus in terme van misdaad. Die sessies fokus ook op die bou van verhoudings binne plaaslike veiligheidsnetwerke sodat boere weet wat hulle te doen staan tydens ’n krisis, asook oor wie hulle behoort te kontak. Veiligheidswenke vir die plaas, plaashuise asook voertuie word ook op ‘n gereelde basis gedeel. Die lessenaar vergader ook gereeld met plaaslike en provinsiale veiligheidstrukture. Vergaderings met die topbestuur van die SAPD vind ook op ’n tweemaandelikse grondslag plaas.

Statistiek

Die lessenaar hou volledige statistiek by oor alle voorvalle wat die provinsie se boerderygemeenskappe raak, van veediefstal tot plaasaanvalle. Vir elke plaasmoord, -aanval en ernstige geweldsmisdaad wat op die lessenaar se databasis verskyn, bestaan ’n saaknommer wat met die Polisie se databasis gekorreleer word. Die lessenaar was ook die eerste instelling in die land wat begin het om statistiek by te hou van hoe plaasaanvalle plaaswerkers raak.

Volgens die lessenaar se statistiek het plaasaanvalle in die Vrystaat toegeneem in die eerste kwartaal van 2017. Altesaam 17 aanvalle het tussen Januarie en Maart 2017 op plase plaasgevind. Tydens dieselfde tydperk verlede jaar is 12 aanvalle aangeteken. Die grootste styging is in Maart gesien, met 10 aanvalle wat plaasgevind het. In agt van die 17 voorvalle is produsente geteiken, en in nege werkers of bewoners op plase.

Vermeulen sê: “Ons hoop dat die lessenaar se pogings en diens ’n daadwerlike verskil sal maak in die misdaad situasie in die Vrystaat se boerderygemeenskappe.”

Bron: Vrystaat Landbou

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0