Verwagte kommersiёle mielie-oes onveranderd

mielies
Die grootte van die verwagte kommersiële mielie-oes is onveranderd gelaat op 13,207 miljoen ton. Die skatting van die oppervlakte onder mielies is 2,319 miljoen ha, terwyl die verwagte opbrengs 5,70 t/ha is.
Die oppervlak onder witmielies is 1,268 miljoen ha en vir geelmielies is die oppervlak 1,051 miljoen ha. Die produksieskatting van witmielies is 6,880 miljoen ton, terwyl die opbrengs 5,43 t/ha is. In die geval van geelmielies is die produksieskatting 6,327 miljoen ton, en die opbrengs is 6,02 t/ha.
Die produksieskatting vir sonneblomsaad is opwaarts aangepas met 8,37% of 66 350 ton na 858 605 ton, met ’n geskatte oppervlakte van 601 500 ha en ‘n verwagte opbrengs van 1,43 t/ha.
Ander gewasse:
Die produksieskatting van sojabone is onveranderd gelaat op 1,551 miljoen ton met ’n geskatte oppervlakte van 787 200 ha en ‘n verwagte opbrengs van 1,97 t/ha. Die verwagte grondbone-oes is ook onveranderd gelaat op 52 000 ton. Die oppervlakteskatting is 56 300 ha, terwyl die verwagte opbrengs 0,92 t/ha is.
Die produksieskatting van sorghum is opwaarts aangepas met 26,54% of 22 050 ton na 105 120 ton. Die oppervlakte beplant met sorghum is 28 800 ha. Die verwagte opbrengs is 3,65 t/ha.
In die geval van droëbone is die produksieskatting onveranderd gelaat op 65 610 ton. Die oppervlakte beplant met droëbone is 53 360 ha, en die verwagte opbrengs is 1,23 t/ha.
Die hoofrede vir die toename in die produksieskatting vir sonneblomsaad en sorghum is as gevolg van groter produsentelewerings (soos gerapporteer deur SAGIS), teenoor wat die Komitee in Julie 2018 aangedui het.
Nie-kommersiële mielies – Voorlopige oppervlakte- en produksieskatting: 2018
Die voorlopige oppervlakte beplant met mielies in die nie-kommersiële landbousektor word geskat op 314 835 ha, wat ‘n afname van 14,13 % verteenwoordig in vergelyking met die 366 650 ha van die vorige seisoen. Die verwagte mielie-oes van dié sektor is 593 975 ton, wat 18,74% minder is as die 731 000 ton van die vorige seisoen. Dit is belangrik om daarop te let dat ongeveer 40% van die mielies wat geproduseer word in die nie-kommersiële sektor, in die Oos-Kaap geplant word.
Wintergewasse – 2018 produksieseisoen
Die verwagte produksie vir koring is 1,808 miljoen ton, wat 17,79% of 273 050 ton meer is as die vorige seisoen se oes van 1,535 miljoen ton, terwyl die verwagte opbrengs 3,56 t/ha is.
Die verwagte produksie in die Wes-Kaap is 858 600 ton (47%), wat 271 800 ton meer is as die 586 800 ton geproduseer in die vorige seisoen. In die Vrystaat is die verwagte produksie 362 250 ton (20%), wat 26 250 ton meer is as die vorige seisoen se oes van 336 000 ton. In die Noord-Kaap is die beraamde produksie 292 600 ton (16%) – 19 050 ton minder as die 311 650 ton geproduseer in die vorige seisoen.
Die oppervlakteskatting vir koring is hersien na 508 350 ha, wat 16 750 ha hoër is as die 505 000 ha teenoor die vorige skatting. Die beraamde oppervlakte geplant in die Wes-Kaap is 318 000 ha of 63 %, die Vrystaat is 105 000 ha of 21 % en 38 000 ha of 7 % is in die Noord-Kaap.
Die produksieskatting vir moutgars is 390 840 ton, wat 27,31% of 83 840 ton meer is as die vorige seisoen se oes van 307 000 ton. Die oppervlakte beplant word beraam op 119 000 ha, terwyl die verwagte opbrengs 3,28 t/ha beloop.
Die verwagte kanola-oes is 112 000 ton, wat 19,79% of 18 501 ton meer is as die vorige seisoen se oes van 93 500 ton. Die oppervlakteskatting vir kanola is 80 000 ha, met ʼn verwagte opbrengs van 1,40 t/ha.
Die finale produksieskatting vir somergewasse vir 2018 en die tweede produksieskatting vir wintergewasse sal op 26 September 2018 vrygestel word.
Bron: Oesskattingskomitee