Verskansingstrategie vir onsekere tye

tlu-sa-logo
Gesonde sake- en risikobestuursbeginsels vereis dat boere deeglik oorweeg en beplan hoe om die onseker omgewing waarin boerdery bedryf word, aan te spreek. Dit is deel van die TLU SA se strategie om seker te maak dat lede en ander boere toegerus is om die regte besluite te neem.
Verskeie inisiatiewe en moontlikhede bestaan vir boere om behoorlike diversifikasie te bewerkstellig maar hulle is moontlik nie bewus van die verskillende opsies, faktore en oorwegings wat in ag geneem moet word nie.
In die lig hiervan het Old Mutual, die TLU SA en Agri All Africa ooreengekom om gesamentlike inligtingsessies aan te bied in verskillende streke sodat kommersiële boere die geleentheid kan kry om met kundiges opsies te bepreek en sodoende meer ingeligte besluite te neem.
Volgens Bennie van Zyl, hoofbestuurder van die TLU SA “maak die onsekere aard van landbou dit belangrik dat boere op verskillende maniere risiko’s moet bestuur om volhoubaarheid te verseker. Dit sluit in ‘n behoorlike finansiële plan wat risiko’s in die boerdery beter kan bestuur, sekerheid kan skep vir families met ‘n behoorlike opvolgplan en die opbou van bates buite die boerdery.”
Hy sê: “Die onsekere beleidsomgewing en toekoms van landbou in Suid-Afrika maak dit verder belangrik dat opsies oorweeg moet word om buite die Suid-Afrikaanse ekonomie te diversifiseer. In die opsig het die TLU SA reeds moontlikhede in Georgië en Bulgarye ondersoek wat landbou-vriendelike geleenthede aan boere bied. Dit is egter belangrik dat alle belangrike opsies oorweeg moet word en daarom wil ons boere ook bekendstel aan geleenthede in Afrika, waar hande gevat word met Agri All Africa, asook verskansingsmoontlikhede wat beskikbaar is deur finansiële instellings en platforms, waar Old Mutual as vennoot betrek is.”
Dr Theo de Jager, voorsitter van Agri All Africa, sê: “Agri All Africa het ten doel om geleenthede in Afrika meer toeganklik te maak vir boere deur die uitklaring van beleidomgewings, sluit van ooreenkomste met gasheerlande, vestiging van netwerke en die verskaffing van advies aan voornemende boere en landbou-ondernemings. Daar is reeds meer as 3 000 Suid-Afrikaanse boere in Afrika bedrywig en die kundigheid van ons plaaslike boere is groot in aanvraag. Ons neem graag deel aan die inisiatief om voorligting aan boere te gee want ons weet dat die vraag na voedsel sterk toeneem en goeie geleenthede vir boere, in Suid-Afrika, maar ook in die res van Afrika, bied.”
Volgens Koos Nel van Old Mutual se Agri-bemarkingspan, is “bates en beleggings buite die boerderybesigheid ‘n fundamentele bousteen van ‘n weldeurdagte sakeplan om seker te maak jy bereik jou langtermyndoelwitte. Bo en behalwe dat sulke bates jou leefstyl beskerm, verminder dit ook risiko’s omdat jy diversifiseer. Navorsing wat MSSA (Mark Studies en Statistiese Analise) in opdrag van Old Mutual gedoen het, toon dat slegs 6% van boere in Suid-Afrika oorsese beleggings het wat hulle teen moontlike swak prestasie in die Suid-Afrikaanse ekonomie kan verskans.
“Die geleentheid wat deur die TLU SA geskep word om kommersiële boere in te lig oor die verskillende moontlikhede, word graag ondersteun. Verskeie beleggingsgeleenthede op die wêreldmark is nou beskikbaar en toeganklik vanuit die gerief van jou kantoor of bakkie. Dit is belangrik dat boere bewus is van en opsies oorweeg hoe om swaarverdiende plaas-opbrengste te verskans te midde van ‘n relatiewe klein Suid-Afrikaanse ekonomie en die wisselvalligheid van die rand,” sê Koos.
Die voorligtingsessies sal vroeg in 2017 in vier streke gehou word (Gauteng, Limpopo, Noordwes en Mpumalanga). Verdere voorligtingsessies sal volgens behoefte aangebied word. Belangstellendes kan met Lynne Kayser by 012-804-8031 of media@tlu.co.za skakel by die TLU SA. Verdere inligting sal bekend gemaak word sodra die reëlings gefinaliseer is.
Bron: TLU SA