Verdere brandstofprysstygings in November verwag

brandstof
Deur Fanie Brink, Onafhanklike Landbou-Ekonoom
Die pryse van brandstof sal na verwagting in November nog styg weens die verdere styging in die ru-olieprys en die verswakking in die wisselkoers.
Volgens die jongste inligting van die Departement van Energie wat vanoggend bekend gemaak is, kan die prys van petrol 93 (ULP & LRP) in Gauteng op Woensdag, 1 November 2017 moontlik met 5,6c per liter en die prys van diesel met ‘n 0,005% swaelinhoud moontlik met 27,2c per liter styg.
Volgens internasionale bronne het die gemiddelde maandelikse Brent ru-olieprys hierdie maand tot sy hoogste vlak oor die afgelope twee jaar gestyg van $59,37 per vat gestyg.
Die lede en nie-lede van die Organisasie vir Petroleumuitvoerlande het gevolglik baie goed daarin geslaag met sy nege maande ooreenkoms wat in Julie vanjaar bereik was om die internasionale vraag en aanbod in ‘n beter balans te bring deur die vermindering van sy olieproduksie, met die vooruitsigte van ‘n mikpuntprys van $60 per vat.
Ten spyte van die hoër ru-olieprys, kan die veranderings in die gemiddelde internasionale pryse van petroleumprodukte ‘n moontlike daling van 16,0 sent per liter in die petrolprys volgende maand tot gevolg hê, maar ‘n moontlike verhoging van 4,7c per liter in die dieselprys.
Die daaglikse gemiddelde R/$-wisselkoers het sedert sy sterkste vlak van R/$12,75 in September baie verswak tot sy swakste vlak van R/$14,22 waarteen dit gister verhandel het, hoofsaaklik as gevolg van die onlangse politieke verwikkelinge en die swak seine wat die Minister van Finansies, Malusi Gigaba, se Oktoberbegroting uitgestuur het.
Hierdie verswakking in die wisselkoers sal na verwagting stygings van 21,6c per liter in die petrolprys en 22,5c per liter in die dieselprys tot gevolg hê.
Die finale prysveranderings sal deur die Minister van Energie bekend gemaak word.
Bron: Departement van Energie