Veranderende-weerpatrone: Wat kan boere verwag?
In hierdie stadium is dit baie moeilik om te voorspel presies wat die invloed van klimaatsverandering op ons daaglikse lewe gaan wees. Een ding blyk egter redelik seker te wees, naamlik dat ons in die toekoms al hoe meer uiterstes in weerpatrone kan verwag: Hitte, koue, droogtes, oorstromings (wat tot versuiptoestande sal lei), sowel as storms wat meer dikwels en met groter intensiteit gaan voorkom. Dit sal beteken dat daar byvoorbeeld meer haelstorms gaan wees, sowel as sterker winde. Al hierdie verskynsels sal meebring dat plante meer dikwels aan verhoogde spanning blootgestel sal word.
Plantsiektes
Aangesien elke plantsiekte sy eie spesifieke stel toestande (temperature, vogtigheid, lig, ensovoorts) het waari dit die beste floreer, kan veranderde klimaatstoestande daartoe lei dat een siekte moontlik in ’n besondere streek minder ernstig kan word. ’n Ander een mag weer meer ernstig word, terwyl sommiges op ongewone tye mag voorkom.
Nuwe of voorheen onbekende siektes kan binne ’n sekere streek voorkom, terwyl nuwe rasse van bekende siektes kan ontstaan of bevoordeel word.
- Onder buitengewoon warm toestande kan ’n mens verwag dat gewone bakteriese skroei, sowel as houtskoolvrot, meer dikwels sal voorkom.
- Hitte met gepaardgaande droogte sal weer die voorkoms van Fusariumvergeling, sowel as poeieragtige meeldou, aanwakker.
- Hitte met gepaardgaande hoë vog bevoordeel weer hoekige blaarvlek, sowel as Ascochyta en Rhizoctoniawortelvrot.
- Hoë lugvog alleen kan baie swamsiektes aanhelp, onder meer roes (mits die tydperke van hoë vog met droë, winderige tydperke afgewissel word en matige temperature voorkom). Hoë lugvog sal ook bakteriese bruinvlek, sowel as Sclerotinia, bevorder.
- In koue toestande, veral met gepaardgaande hoë vog, sal ’n boer kan verwag om meer Pythiumwortelvrot, Fusarium-wortelvrot (wat deur enige spanningstoestande aangehelp word), vetvlek, bakteriese bruinvlek en antraknose te sien. Ascochyta kan ook toeneem.
- Buitengewoon droë toestande sal aanleiding gee tot gewone bakteriese skroei, Fusarium-vergeling en Rhizoctonia, sowel as ander wortelsiektes.
- Versuiptoestande sal Pythiumwortelvrot bevoordeel. As Pythium eers die plant verswak het, kan ander wortelsiektes, veral Fusariumwortelvrot, volg.
- Sterk winde kan veroorsaak dat siektes vinniger versprei – onder meer die meeste swamsiektes soos roes en hoekige blaarvlek, en kan blaarskade veroorsaak wat weer op sy beurt die drie bakteriese siektes sal bevoordeel. Stamskade wat deur sterk winde veroorsaak word, kan tot verhoogde wortelvrotbesmetting lei.
- Hael kan veral bakteriese bruinvlek en ander bakteriese siektes bevoordeel. Ernstige spanning wat deur swaar hael veroorsaak word, kan ook die voorkoms van wortelvrot vererger.
Wat kan ons daaromtrent doen?
Dit voel miskien asof ’n indiwidu min kan vermag. Elkeen van ons KAN egter ’n verskil maak en saam kan ons groot veranderinge teweegbring! Elkeen van ons kan en moet energie bespaar en alles in ons vermoe doen om besoedeling van enige aard te verlaag.
Op plaasvlak is goeie bestuur die geheim.
- Dit sluit in korrekte kultivarkeuse vir die besondere streek. Klimaatsverandering kan binne ’n bepaalde gebied sekere kultivars bevoordeel of benadeel en kultivarkeuse sal moontlik by die veranderende voorkoms van siektes moet aanpas.
- Kultivars met korter of langer groeiseisoenlengtes kan ook meer voordelig word.
- Dit mag ook nodig wees om die plantdatum aan te pas.
- Omdat baie van die siektes wat deur groter uiterstes bevoordeel word, ook saadgedraagd is, is dit belangriker as ooit om siektevrye gesertifiseerde saad te plant. Omdat siektes deur wind, reen, klere en masjinerie ook oorgedra word, vrywaar siektevrye saad nie die boer van die voorkoms van die siekte nie. Siektevrye saad sal egter wel veroorsaak dat saadgedraagde siektes nie vanuit die staanspoor teenwoordig is nie en waarskynlik eers later in die seisoen posvat. Sodoende het die plant ’’n beter kans om te ontwikkel en peule aan te sit. Daar is minder tyd vir siekte-ontwikkeling en die siekte sal dus waarskynlik minder ernstige afmetings aanneem.
Goeie bestuur sluit ook die toepassing van goeie higiëne in.
- Skoon masjinerie en werktuie sal verseker dat siektes nie van een land na ’n ander oorgedra word nie.
- Laer reenval sal beteken dat goeie vogbewaring van uiterste belang is. Eksperimenteer byvoorbeeld met minimum- of geenbewerking, maar wees bedag daarop dat baie boontjiesiektes in plantreste oorleef. Dit versterk die behoefte aan goeie wisselboupraktyke.
- Wisselbou met ’n grasgewas soos mielies of koring is noodsaaklik, met bone elke derde of vierde jaar. Vir daardie buitengewoon nat tydperke, probeer die dreinering van versuipkolle verbeter. Eksperimenteer ook met plant op walletjies.
Wees op die uitkyk vir vreemde simptome
Dit is belangrik om vertroud te wees met alle boontjiesiektes, selfs die wat nie normaalweg in streek voorkom nie, aangesien buitengewone weerstoestande vreemde siektes, wat gewoonlik oral in ’n geringe mate teenwoordig is, kan bevoordeel. Wees op die uitkyk na vreemde simptome en tree betyds op deur, byvoorbeeld toepaslike swamdoders of kopermiddels toe te dien.
Die teel van nuwe kultivars bly belangrik
Deur teling kan verhoogde weerstand teen probleemsiektes verkry word. Dit kan ook toenemend nodig wees om kultivars te teel wat vir spesifieke gebiede en klimaatstoestande aangepas is. Die teler kan doelbewus meer seleksies in probleemgebiede maak en ook nuwe weerstandsbronne invoer wat in ander werelddele vir sulke omstandighede geteel is.
Boneproduksie kan nog steeds winsgewend beoefen word. Klimaatsverandering sal wel veroorsaak dat goeie bestuur al hoe noodsaakliker word. Die belangrikste is om nie moed te verloor nie!