Categories: NewsPublished On: 26th May 2022

Vennootskap van Blaauwklippen en Van Loveren goed vir SA wynbedryf

By 4 min read
709 words

BK VL Images 1

Van links: Bonita Malherbe (Nasionale Verkoopsbestuurder van Van Loveren), Phillip Retief (Van Loveren se Besturende Direkteur), André Markgraaff (Hoofaandeelhouer en Voorsitter van Blaauwklippen), Ben-Carl Havemann (Uitvoerende Hoof van Blaauwklippen) en Narina Cloete (Wynmaker by Blaauwklippen).

Die ikoniese Stellenbosse wynlandgoed en leefstyl-bestemming Blaauwklippen en die toonaangewende familie-maatskappy Van Loveren van die Robertson-vallei het aangekondig dat hulle ’n strategiese vennootskap sal aangaan wat daarop gemik is om hul premium-aanbiedings aan die plaaslike mark ’n verdere hupstoot te gee, maar spesifiek om van hul fynproewers-handelsmerke ’n veel stewiger vastrapplek op die wêreldmark te gee.

In wat beskryf word as ’n drieledige wenners-konsep – vir albei die vennote asook vir die land se wynbedryf in die breë – sal die vennootskap aanvanklik sentreer rondom die produksie en verspreiding van hul premium wyn-portefeuljes. Deur verhoogde “premiumisasie” en ’n strategie van saamwerk deur elke vennoot se unieke sterkpunte (“best-of-strength”) ten volle te benut, het die vennote ten doel om veral nuwe geleenthede vir Blaauwklippen se wynportefeulje te ontsluit, in die plaaslike en internasionale markplek.

Die Blaauwklippen-landgoed, wat dateer uit 1682 toe boerdery 340 jaar gelede op die plaas begin het, tel onder Stellenbosch se oudste wynplase en word gesien as een van die streek se pionier-wynprodusente wat veral in die 1980s en 1990s onder die land se mees bekroonde premie-handelsmerke getel het. Van Loveren – ’n derdegenerasie-familieonderneming in die Robertson-vallei – is Afrika se voorste private wyn-besigheid in familiebesit. Die vennote sê voortspruitend uit die samewerkingsooreenkoms sal hulle hul wingerde uitbrei, produksievermoëns aansienlik verhoog en nuwe wyne as deel van hul premium-portefeuljes bekendstel.

Blaauwklippen is aan die voetheuwels van die Stellenboschberg geleë en beslaan 115 hektaar – met 51 hektaar wat met wingerd beplant is. In die hartjie van die “Goue Driehoek” van die Stellenbosch Wynroete, is die plaas se terroir deel van ’n gebied wat wyd erken word as die beste wynbou-substreek in die land – spesifiek bekend vir die kwaliteit van die rooiwyne.

In 2017 – toe Blaauwklippen weer in Suid-Afrikaanse besit gekom het nadat die plaas lank in buitelanders se besit was – is daar met ’n omvattende omkeerstrategie begin om die wynplaas se posisie as een van die mees ikoniese landgoedere in die land te herwin. Dit het die herbekendstelling van die hele premium-portefeulje ingesluit, met ’n bewese fokus op die kwaliteit en die vernuwing van die plaas se boetiek van wyn-handelsmerke asook die kos-, ontspannings- en gasvryheid-aanbiedings wat omvangryk verbeter is.

“Die vennootskap met die Retief-familie van Van Loveren sal ons in staat stel om ons handelsmerk- en bemarkingsplanne te versnel en ons produksievermoëns te optimaliseer,” sê Ben-Carl Havemann, die uitvoerende hoof van Blaauwklippen. “Innovasie is al vir 340 jaar ’n hoeksteen van die Blaauwklippen-nalatenskap. Ons glo dat Van Loveren die ideale vennoot is om saam met ons te werk om ons suksesse verder uit te bou, ons storie op meer maniere te vertel met behulp van meer kundiges wat saamwerk en dit met meer eindverbruikers regoor die wêreld sal deel,” het Havemann gesê.

Vir Van Loveren en die Retief-familie is die vennootskap hul eerste amptelike toetrede tot die Stellenbosch Wynstreek. As ’n bekroonde familieboerdery het Van Loveren en die Retieffamilie se premium-handelsmerke oor die jare ’n stewige vastrapplek in die buiteland gekry, met ’n verskeidenheid van hul bekende kwaliteit-wyne wat na meer as 68 lande uitgevoer word. In vele van die onderskeie wyn-kategorieë is Van Loveren ’n markleier.

“Stellenbosch staan bekend as die land se voorste wynstreek. As deel van ons diversifikasie, groei en evolusie, glo ons dat Blaauwklippen ’n uitsonderlike toevoeging tot ons groeiende portefeulje en spesifiek ons premium-aanbieding sal wees,” sê Phillip Retief, Van Loveren se besturende direkteur. “Blaauwklippen kán en behoort een van die land se wynhandelsmerke te wees wat die meeste bekroon en geniet moet word. Met ons beproefde verspreidingsnetwerk en spesifieke vaardigheid is ons opgewonde oor die potensiaal van die handelsmerk om ’n markleier in sy eie reg te word. Samelopend met ons oorhoofse en voortgesette groeistrategie, sien ons hierdie vennootskap as ’n unieke geleentheid om by ’n uitsonderlike wyn-handelsmerk, wyn-toerisme, die landbou asook ’n besonderse en uitstaande ligging betrokke te raak,” aldus Retief.

Die omvang van samewerking sal gedoen word met die hulp van kundige adviseurs om te voldoen aan relevante regulatoriese vereistes.

Vir verdere inligting oor Blaauwklippen, besoek hulle webtuiste by www.blaauwklippen.com. Kontak Ben-Carl Havemann deur ‘n e-pos te stuur na bc@blaauwklippen.com

Vir verdere inligting oor Van Loveren, besoek hulle webtuiste by www.vanloveren.co.za. Kontak Phillip Retief deur ‘n e-pos te stuur na phillip@vanloveren.co.za.

Bron: EDB

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0