Veiligheid eerste op die paaie dié Paasnaweek

paaie verkeer
Paasnaweek-sterftes op Suid-Afrikaanse paaie bly ‘n probleem, alhoewel daar verlede jaar vir die eerste keer ‘n 46% vermindering gesien is in die aantal padsterftes teenoor dieselfde tyd in 2015. Die Automobiel Assosiasie (AA) hoop dat dit hierdie jaar weer sal verminder en waarsku motoriste dat dit in hulle hande is indien hulle op die paaie is. Die persoon agter die stuur moet te alle tye veiligheid eerste stel.
“Verkeer op hoofpaaie sal beslis verhoog soos die N1 na Moria in Limpopo, die N3 na KwaZulu-Natal en die N1 en N2 na Kaapstad. Motoriste moet in gedagte hou dat daar meer voertuie op die paaie gaan wees en dat daar ‘n langer wagperiode by tolhekke gaan wees. Bestuurders moet seker maak hulle is reg om die paaie aan te durf,” sê die AA.
Die AA noem ook dat die meeste ongelukke as gevolg van bestuurders se houding is en sê dat hulle alle padreëls moet nakom deur by die spoedgrens te hou, nie te drink en te ry nie en geen elektroniese toestel soos ‘n selfoon op paaie te gebruik nie.
“Teveel dink mense slegte situasies sal nie met hulle gebeur nie. Dit neem net een slegte bestuurder op die paaie om chaos te veroorsaak. Ons wil vra dat alle bestuurders aan die ander op die pad sal dink en om nie kanse te vat nie. Ons wil hê almal moet veilig by hulle eindpunt aankom en weer veilig terugkeer huis toe,” sê die AA.
Die AA gee veiligheidsriglyne vir bestuurders oor die Paasnaweek:
- Sorg dat jou veiligheidsgordel aan is, en jou passasiers s’n.
- Rus elke twee ure of 200 km – moenie bestuur indien jy moeg is nie. In 2016 het die Amerikaanse Automobiel Assosiasie (AAA) dronkbestuur en om te bestuur indien jy moeg is, gelykgestel.
- Ry soos die toestand van die pad jou toelaat en nie noodwendig wat die spoedgrens sê nie.
- Maak seker die bande, selfs die spaarband, is in ‘n goeie toestand.
- Fokus te alle tye op die pad en nie op jou selfoon nie.
- Moenie ‘n kar verbysteek as die soliede witlyn teen jou is nie. Kyk na jou aankomende verkeer.
- Ry nugter.
- Neem ander padgebruikers in ag.
- Gee ekstra spasie aan voetgangers, fietsryers en ander padgebruikers.
- Kyk vir kinders op paaie.
Die AA sê ook dat meer verkeersbeamptes aan diens sal sal wees op die hoofroetes. Veilig reis!
Bron: AA