Categories: NewsPublished On: 23rd November 2017

Veediefstal styg met 8,8%

By 3 min read
604 words

skape

Die Nasionale Veediefstal Voorkomingsforum versoek dat alle rolspelers in die rooivleisbedryf dringend ‘n aktiewe rol begin speel om veediefstal te bekamp en die algemene publiek word versoek om veeboere by te staan in die stryd teen veediefstal.

Die nasionale misdaadstatistieke wat op 24 Oktober 2017 deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens beskikbaar gestel is, is deur die Nasionale Veediefstal Voorkomingsforum geanaliseer en die volgende inligting is van belang.

Veediefstal het op nasionale vlak met 8,8% gestyg. Hoewel dié styging as dramaties beskou kan word, is die redes daarvoor onbekend. Dit mag weens ‘n werklike stying in veediefstalsake wees, of dit mag wees dat die slagoffers dit net meer aanmeld.  In Tabel 1 kan gesien word dat die stygings in die verskillende provinsies tot so hoog as 22,5% en so laag as 1,8% is.

Tabel 1: Veediefstalgevalle per provinsie

Provinsie 2015/16 2016/17 Styging/daling Persentasie
Noordwes 2 605 3 192 587 22,5%
Mpumalanga 2 337 2 867 530 22,5%
Gauteng 818 987 169 20,7%
Limpopo 1 756 1 956 200 11,4%
Vrystaat 3 466 3 677 21 6,1%
KwaZulu-Natal 5 731 5 959 228 4%
Oos-Kaap 5 809 6 023 214 3,7%
Wes-Kaap 861 885 24 2,8%
Noord-Kaap 1 132 1 356 24 1,8%
NASIONAAL 24 715 26 902 2 187 8,8%

Volgens die syfers in Tabel 1 is dit duidelik dat die provinsies met die hoogste onaanvaarbare stygings in veediefstal, Noordwes, Mpumalanga en Gauteng is. Al die ander provinsies is net bokant die nasionale gemiddelde of net onder die nasionale gemiddelde.

Polisiestasies met die hoogste stygings

Die polisiestasies met ‘n toename van meer as 50% word in Tabel 2 aangetoon:

Tabel 2: Polisiestasies met ‘n styging van meer as 50%

Provinsie Stasie Persentasie styging
Mpumalanga KwaMhlanga 171,2%
Noordwes Phokeng 149%
Mpumalanga Ermelo 107,9%
Vrystaat Selosesha 78,5%
Mpumalanga Belfast 77,9%
KwaZulu-Natal Nongoma 73,1%
Limpopo Matlala 56,8%

Tabel 3: Stasies wat meer as 150 sake vir die jaar 2016/17 geregistreer het

Provinsies Stasie Aantal sake
Oos-Kaap Sulenkama 231
Oos-Kaap Bityi 214
Oos-Kaap Qumbu 205
Oos-Kaap Maluti 185
Oos-Kaap Mthatha 179
Vrystaat Harrysmith 175
Mpumalanga KwaMhlanga 160
KwaZulu-Natal Bergville 158
Mpumalanga Piet Retief 155

Die vyf stasies waar die meeste sake aangemeld is, is almal in die Oos-Kaap, hoewel die provinsie slegs ‘n styging van 3,7% getoon het. Let daarop dat die Oos-Kaap nog altyd die meeste veediefstalsake gehad het, gevolg deur KwaZulu-Natal. Die rede daavoor is omdat die meeste vee in dié provinsies voorkom.

Nie-aanmelding van veediefstalsake

Statistieke Suid-Afrika het in 2011 gerapporteer dat 36,3% van veediefstalsake nie deur die slagoffers aangemeld word nie. In 2012 het dié syfer tot 40,1% gestyg en in 2013 het dit drasties tot 63% gestyg. Dié verskynsel is nie in 2014 se opname geëvalueer nie. Lombaard (2014) het egter bevind dat 75% van die diefstal van skape in die Vrystaat nie aangemeld word nie. Dié syfers word tans verder bevraagteken omdat inligting van die provinsies daarop dui dat die nie-aanmelding van sake tans so hoog as 80% tot 85% in sekere distrikte is.

Statistieke Suid-Afrika het in 2015 bevestig dat die nie-aanmelding van sake tot 67,7% en tot 70,1% in 2016 gestyg het. Die 2017 opname het nie die nie-aanmeldingkoers in berekening gebring nie.

Die feit dat veediefstal met 8,8% toegeneem het, word bevraagteken, aangesien dit onduidelik is of meer gevalle aangemeld is en of die aanmeldingskoers verbeter het.

Aan die hand van die beskikbare inligting en gesien in die lig van die feit dat die feesseisoen en die plantseisoen op hande is, versoek die Nasionale Veediefstal Voorkomingsforum die volgende:

  • Dat alle vee-eienaars ‘n unieke identifikasie merk (brand- of tatoeëermerk) in hulle name registreer en dit op alle vee in hulle besit aanbring op die voorgeskrewe manier soos omskryf in die Wet op Diere-identifikasie, Wet 6 van 2002.
  • Die voltooiing en indiening van die “dokument van identifikasie” en die veeverwyderingsertifikaat met alle transaksies.
  • Dat alle veekopers, afslaers, voerkrale en abattoirs vee-eienaarskap bevestig en weier om vee te aanvaar wat nie gemerk of waar die identifikasiedokument of veeverwyderingsertifikaat, nie voorsien word nie.
  • Dat alle identifikasiedokumente vir 12 maande op rekord gehou word.
  • Dat vee-eienaars hulle vee gereeld tel en nie gedurende die plantseisoen ophou om dit te doen nie. As verliese eers ná die plantseisoen ontdek word, is dit heeltemal te laat om iets daaraan te doen.

Bron: Nasionale Veediefstal Voorkomingsforum

 

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0