Valtrac sorg vir nuttige nuwe tegnologie

valtrac 1
Groot verrassings wag elke jaar op boere by Valtrac se NAMPO-standplaas. Vanjaar was die groot terrein weer gevul met blinknuwe, nuttige tegnologie.
Kuhn Boxer

Valtrac is die amptelike verspreider van Kuhn se uitstekende reeks hoogloopspuite in Suid-Afria, en die robuuste en ekonomiese Kuhn Boxer Mechanical is vanjaar by NAMPO bekendgestel.
Die selfaangedrewe spuit kan enige terrein met gemak hanteer en selfs skuinstes van tot 32% baasraak sonder om akkuraatheid in te boet. Die Boxer dra 2 000 liter spuitstof om die spuitbalke van 25 of 27 meter lank aan die spuit te hou. Sy konvensionele trok-tipe aandrywing na sy agterwiele maak sy brandstofverbruik en onderhoudskoste laer as dié van enige ander selfloopspuit in Suid-Afrika.
Die kajuit bied pure spuitplesier met 270° uitsig en ’n aktiewe lugveerstelsel wat die wiele stewig op die grond hou en die onderstel sagkens dra.
Die hele reeks Kuhn-spuite is tans beskikbaar met ’n spesiale voor-seisoenaanbod. Blaai om vir meer besonderhede op die advertensie.
Bredal-strooiers

‘n Bekende naam in Suid-Afrika, Bredal, is terug met al die nuwe tegnologie wat die afgelope paar jaar ontwikkel is. Die reeks kalk- en kunsmisstrooiers word in Denemarke gebou en hanteer vragte van drie tot twintig ton.
Die nuwe Bredal XE-strooier se werpskywe is ses meter van mekaar af agter die strooier geplaas. Dit sorg vir meer eweredige verspreiding sonder onnodige oorvleueling. Elke skyf het ’n deursnit van 70 cm en hulle word deur twee dryfbande van die hidrouliese vloervoerder af gevoer.
Die skywe draai na mekaar toe en plaas die materiaal in twee lae oormekaar om verspreiding so egalig as moontlik te hou. Die spoed waarteen die skywe draai kan afsonderlik verstel word vir presiese beheer.
Skywe met vier spane strooi kalk tot 30 m wyd en sesspaanskywe word gebruik om kunsmis tot 48 m wyd te strooi.
Pöttinger se Tegosem Multiline

Die Terradisc-kombinasieskottelbewerker se veelsydigheid is uitgebrei met die Multiline-stelsel wat dit moontlik maak om die Tegosem-planter te abba.
Die lugdrukplanter kan ’n wye reeks saad vir weiding of groenbedekking vestig. Saaduitmeting geskied elektronies en die kalibrasie is eenvoudig en vinnig. Die beheerpaneel in die kajuit gee al die inligting wat jy nodig het soos kg/ha, hoe vol die tenk is, en data soos ure gewerk en hektare geplant word vasgevang.
Hierdie stelsel maak dit moontlik om ’n kleiner trekker te gebruik, aangesien die werktuig se gewig deur die wiele ondersteun word sodat die trekker se hyser nie die volle gewig hoef te dra nie. ’n Konvensionele koring-tipe planter kan ook geabba word.
APV Multi-Metering-stelsel

Een eenheid, maar vele toepassings – dit is die groot aantrekkingskrag van APV se aanbieding. Brigitte Kodatsch van APV sê hulle doel is om boere te help om so bekostigbaar as moontlik so veel as moontlik gedoen te kry. Die APV-eenhede kan op die meeste grondbewerkers aangebring word en by NAMPO is daar ’n APV-multi-uitmetingseenheid bekendgestel wat met die regte toerusting van fynsaad tot slakpille kan toedien.
Dit kan gebruik word om breedweg te strooi of met lugdruk of swaartekrag in rye te plant.
Vir meer inligting oor Valtra se nuttige toerusting, kontak Attie de Villiers by attiedev@valtrac.co.za of 083-261-9863 of besoek www.valtrac.co.za.