Categories: Artikels, MeganisasiePublished On: 6th December 2022

Valtra se T-reeks: Troue diens vir twintig jaar

By 5 min read
899 words

Screenshot 2022-12-06 112923

Valtrac is nou al 25 jaar lank boere se staatmakerverskaffer van toerusting en vir ՚n goeie 20 jaar van die kwarteeu is Valtra se T-reeks op boere se lys van toptrekkers vir veelsydigheid, krag en tegnologie. Maar dit is nie al nie … Deur die jare het ProAgri by ՚n hele paar Valtra-boere gaan kuier en dit is wat hulle te sê het:

Brian en Robért Venema van Rosaly Farms stoei om eerste by die T213 Versu-model uit te kom, “want dit is net anders!”

“Die nuwe Valtra T193 is soos my Harley Davidson – selfs op die langste toer bly die sitplek sag,” vertel Gerrit Herbst van Lichtenburg. “Hulle is maar 140 kW-trekkers, maar hulle gooi die krag grond toe.”

“My trekkerbestuurders klim eerder in ՚n Valtra as in enige ander trekker,” sê James Lesley van Sesesonki Farming by Harrismith. Hulle gebruik drie trekkers in die T-reeks; T151, T171 en T213. ”Vir bonestroop met ՚n Pickett is daar nie iets beters nie. Jy draai net die sitplek om en gaan aan.”

Twee groen Valtra 8550’s wat swaar graanwaens trek in Hopetown in die vroeër 2000’s. Die trekkers was met lugremme en vooras-vering gerus.

Joe du Plessis van Rossgro by Delmas sê hulle ses Valtra T171-trekkers doen die werk van trekkers en vragmotors deur gestroopte mielies aan te ry: “Met die vierwiel-aandrywing is nat toestande geen probleem nie. Veral wanneer mis uitgery moet word, is dit baie makliker om ՚n trekker in te span en hy ry ewe gerieflik in die kraal as op die pad, waar hy gemaklik 45 km per uur volhou.”

Hy sê net soos ՚n gevorderde vragmotor, het die trekker ՚n kompressor wat sy lugdruk-remstelsel aandryf en lug voorsien vir lugdrukvering op die vooras. Hierdie lugvering is so te sê onderhoudvry en dit skakel die lastige kragwip (power hop) wat baie keer voorkom wanneer trekkers swaar vragte sleep, grootliks uit.

Die groen Valtra T190 in Prieska.

By die bedrywige Rosaly-groenteboerdery by Tarlton is die vloot Valtra-trekkers al sedert 2000 aan die werk. Hulle het begin met die voorgangers van die T-reeks, naamlik die 8000-reeks. Die 8050s is vir alles op die plaas gebruik en hulle geledere is aangevul soos die trekkers ontwikkel is. Deesdae spog hulle met T4- en T5-trekkers met hulle gevorderde tegnologie. Robért Venema sê: “Die trekkers gaan net aan en aan.”

Wynn Dedwith, bestuurende direkteur, en Johan Coetzer, verkoopsman by die eerste T190 in 2004 in Finland.

Na die 8000-reeks het die T120, T170 en T190 van 2004 af in Suid-Afrika verskyn. Van die eerste eienaars was Chris Vickers en Mathias Weigeld van Kwazulu Natal wat ook vandag nog Valtras gebruik.

Van 2006 af het die T121, T131, T151, T171 en T191 hulle merk begin maak in die land. In 2012 vertel Theunis Human van Human Landboudienste, wat sy T191 vir kontrakstrooiwerk gebruik, dat Valtra se trekkerkrag elke ander trekker in dieselfde kilowattklas oortref.

՚n T-reeks soos hierdie een van Mathias Weigeld-kontrakteurs met ՚n kuilvoerwa, is nog volop te sien op die paaie.

Van 2014 af was die T173 en T193 gewild onder boere. Dit was egter veral die Versu-modelle wat boere se harte warm laat klop het. Op Rosaly Farms praat Robért met groot lof van die nuttige T213 Versu met sy semi-outomatiese ratkas met 30 vorentoe en 30 truratte, kruipspoed, AutoTraction wat sorg vir gladde, koppelaarlose wisseling tussen agtertoe en vorentoe ry en die gesogte nuwe Valtra-armleuningbeheer.

Die kragtige hidrouliese stelsel word ook van die armleuning af beheer en die hyser lig lag-lag meer as 8 ton.

8550 by ՚n demonstrasie in 2002.

Dit is ook ՚n TwinTrac-model; die sitplek draai om en dan werk die trekker net so goed agtertoe as vorentoe!

Die meeste van die T191s en byna al die nuwegeslagtrekkers, die T4s, wat in 2016 vrygestel is en die T5s wat in 2022 by NAMPO bekendgestel is, is toegerus met TwinTrac.

Die nuwe reekse gebruik steeds die kragtige sessilinder AGCOpowerenjins van 6,6 of 7,4 liter, wat bekend is vir langlewendheid en spaarsamige brandstofverbruik. Die enjins was oorspronklik in Valtra se eie enjin fabriek ontwerp en gebou wat mettertyd deur AGCO oorgekoop is. Valtra ontwerp en vervaardig die kragoordragstelsels self in Finland. Die kragverskuiwing kan soos ՚n CVT (palwisselratkas) bestuur word. Met die outomatiese modus verstel die ratkas die wisselwerking op grond van jou versnelling en wringkragvereistes om te verseker jy het altyd die beste brandstofverbruik en krag.

Met al die nuwe tegnologie in die T5-reeks is jou pad oop na vingerpuntbeheer van jou presisieboerdery. Kyk net hoe gerieflik is al die skerms, instrumente en beheerstelsels geplaas – en jy sit lekkerder as op enige gemakstoel in ՚n koning se voorhuis.

Die T5-trekkers is in twee modelkonfigurasies beskikbaar, naamlik Active en Versu. Die Active-modelle het ՚n 160 liter geslote senterhidrouliese pomp met handbeheerde kleppe. Die Versumodelle het dieselfde pomp, maar die hidroulika word elektronies beheer deur die SmartTouch.

Een van die sigbaarste kenmerke van die T5-trekkers is die kleurvertoonskerm op die A-pilaar wat die tradisionele instrumentpaneel agter die stuurwiel vervang. Dit is waar al die belangrike inligting maklik gesien kan word. Die hele kajuit is herontwerp vir nog meer werksgemak.

Met keuses soos Valtra Guide, 96 seksiebeheer en Auto U-pilot maak Valtra jou pad oop na presisieboerdery.

Met Valtra se toptegnologie en Valtrac se legendariese dienslewering kan jy net wen!

Skakel Attie de Villiers by 083-261-9863 of 056-817-7308 vir meer inligting. Stuur gerus ook ՚n e-pos aan attiedev@valtrac.co.za of besoek www.valtrac.co.za.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0