Uniondale: ‘n Gemeenskap wat saamstaan ten spyte van uitdagings
Uniondale is ‘n landboudorp wat tussen die Kammanassie en die Kougaberge langs die R62 in die Wes-Kaap op die grens met die Oos-Kaap gelee is.
Die dorp sy naam gekry toe twee woonbuurte, Hopedale en Lyons in 1856 saamgesmelt het. Vandag nog deel die dorp se gemeenskappe mekaar se lief en leed.
Die Uniondale Landbouskou, wat op 8 en 9 November sy sestigste bestaansjaar gevier het, is die hartklop van die gemeenskap.
“Ons grootouers en ouers het ‘n visie gehad om ‘n skou op te bou en vir ons ‘n erfenis te laat waarop ons trots kan wees,” se Pieter-Matt Stemmet, skouvoorsitter sedert 2004. “Dit is nou ons verantwoordelikheid om hierdie tradisie voort te sit en vir die volgende geslagte te bewaar.
“In ‘n tyd waar baie dorpies se landbouskoue tot niet gaan, bewys Uniondale se skou dat toewyding en gemeenskaplike trots hierdie tradisie se voortbestaan kan verseker.”
Landbou die spil waarom alles draai
Sedert die eerste skou in 1964 gehou is, het baie dinge die dorpie verander. Fanie Kemp, boer van De Hoop, vertel meer oor die distrik se uitdagings en suksesse.
Omdat dit ‘n landboustreek is, is daar ‘n nou verband tussen die wel en wee van die boere en die gemeenskappe van Uniondale en Haarlem, De Vlugt en Avontuur wat binne ‘n 30-km radius vanaf die dorp geleë is.
Volgens Fanie skei die Kammanassierivier wat deur die Uniondale-poort in die Kammanassieberge vloei, die landbougebied klimatologies in twee dele, naamlik die Langkloof op die grens van die Oos-Kaap, en die Klein-Karoo gedeelte tot teen die Swartberge.
In die Langkloof, waar hoofsaaklik met kernvrugte soos appels en pere geboer word, is die klimaat meer gematig. Die Klein-Karoo, waar met steenvrugte soos appelkose en pruime, skape, angorabokke, volstruise en groentesaad geboer word, is warmer en droër. In hierdie deel is ook heelwat wildplase.
Langs die Kammanassierivier, wat in die Kamannassieberge ontspring, en die Olifantsrivier, wat uit die Sentraal-Karoo anderkant die Swartberge gevoed word, is besproeiing moontlik. Hier word veral groentesaad soos uie, wortels en preie gekweek en addisionele weiding soos lusern vir skape en angoras, wat hoofsaaklik op veldweiding oorleef, aangeplant.
Uitdagings
Volgens Fanie is die grootste uitdagings aardverwarming, wat wispelturige klimaat tot gevolg het, drakoniese insetkoste, Eskom se absurde elektrisiteitstarief-beleid, en die Departement van Arbeid se inmengery met boerdery.
Klimaatsverandering
Volgens Fanie is vroeër jare koring en hawer op droëland aangeplant, maar omdat die weerpatrone met verloop van tyd meer wisselvallig geraak het, is dit nie meer lonend nie.
“Die weerpatrone het verander. Insetkoste op droëland het te duur geword, en die wispelturige weerpatrone met langer droogtetye maak dit moeilik om te beplan,” se hy. “Die seisoene is deurmekaar: al die seisoene het aangeskuif, alles gebeur later. Dit het ‘n impak op boerderybeplanning.”
Die intensiteit van die klimaat se grille maak mens bang: Geweldig baie reën in die vorm van wolkbreuke veroorsaak vloedskade, ook sporadies hael, veral op sommige plase wat oënskynlik in ‘n haelgordel lê.
Die uitdagings wat die klimaat bied maak dit al moeiliker om te boer, veral wanneer daar nie hulp van owerheidsweë kom nie. “Na die oorstromings van 2007 is volledige opnames van die vloedskade gemaak. Uiteindelik het dit R7 miljoen beloop en die geld is toegeken – maar dit het nie by ‘n enkele boer uitgekom nie.”
Insetkoste
Insetkoste het ook opgeskiet. “Die ruilvoet basis ten opsigte van ons produkpryse teenoor produksiemiddele, implemente en dies meer, het drasties vir die boer negatief verander teenoor paar dekades gelede – die som klop net nie meer nie. En die boer is ‘n prysnemer – hy moet maar vat wat hy kan kry.”
Eskom
Volgens Fanie is Eskom se kragvoorsieningsbeleid absurd. “Daar is verskillende heffings wat twee-derdes van jou rekening opmaak, die ander derde is verbruik – wat jy moet betaal of jy die krag gebruik of nie.
“Besproeiingsboere wat elektriese waterpompe gebruik maak byvoorbeeld hoofsaaklik net in die besproeiingstydperk gebruik van elektrisiteit, maar Eskom vereis dat hulle betaal vir die krag ‘omdat dit beskikbaar is’, of jy dit gebruik of nie.
“Toe die Eskom-kraglyn in die gebied waar ek boer gebou is, moes ons kontraktueel ‘n lynfooiheffing betaal tot die lyn ‘afbetaal’ is. In 2013 was die lyn klaar betaal, maar tog word ons steeds swaar belas met die verskillende soorte heffings, soos beskikbaarheid.”
Departement van Arbeid
Nog ‘n uitdaging wat boere warm onder die kraag maak, is die Departement van Arbeid se werkwyse.
“Hulle teiken die boere. Hulle kom gedurig onaangekondig op die plaas aan met ‘n bakkievrag dokumentasie, bevraagteken alles en mors die hele dag die boer en die werkers se tyd.
“Landbou kan baie werksgeleenthede skep, maar met die inmengery wat boere teiken, meganiseer boere om van die rompslomp ontslae te raak.”
Volgens Fanie is die meeste van die werkers op vee- en gemengde boerdery-plase voltydse werkers wat op die plase woon en as ‘familie’ beskou word. “Op die plase, waar die permanente werkers woon, is ons een groot familie wat na mekaar kyk.”
Intensiewe boerderyvertakkings soos vrugte en groentesaad maak gebruik van seisoensarbeid afkomstig uit Uniondale, Haarlem en selfs De Rust.
Maatskaplike toelaes
Volgens Fanie is die Covid-toelae wat steeds elke maand uitbetaal word, nie ‘n fraksie van die lone wat boere aan werkers betaal nie.
“Net soos die Sassa-toelaes is die werkloosheidstoelaag ‘n tydbom wat tik wat nie volhoubaar is vir die krimpende belastingbetalerskomponent nie. Hoekom sal jy werk as jy ‘n paar rand kan kry sonder om ‘n vinger te lig? G’n wonder die werkloosheidskoers is so hoog nie,” sê Fanie.
“Die bedoeling met die toelaes is seker goed, maar word myns insiens geweldig misbruik. Dit dra by tot maatskaplike euwels soos drank- en dwelmverslawing, asook tienerswangerskappe ter wille van ‘n paar rand, al ontken die owerhede dit. Help liewer om die ekonomie te laat groei vir meer werksgeleenthede met ‘n gees van werkstrots.”
Onbewoonde plase
Onbewoonde plase, waar die eienaar voltyds elders woon, skep nog ‘n uitdaging. “Die plase is ‘n teelplek vir ongediertes wat ‘n nagmerrie vir veeboere in die omgewing is,” sê hy.
Landelike veiligheid
Deur saamstaan kry die gemeenskap dit egter by uitnemendheid reg om misdaad suksesvol te bekamp.
“Na die sluiting van die kommando’s is besluit om ‘n landelike veiligheidstruktuur daar te stel wat nie net misdaad help bekamp nie, maar ook tydens natuurrampe aktief gemobiliseer kan word ter beskerming van huis en haard en al die inwoners,” verduidelik Fanie.
“Die sukses wat met landelike veiligheid in die gebied ervaar word, kan as voorbeeld dien vir ander gebiede wat deur misdaad geteister word.
Die mees onlangse sukses is die blitsige inhegtenisneming van die vermeende moordenaars van bendebaas Mark Lifman, wat op 3 November in die Garden Route Mall in George koelbloedig afgemaai is.
“Die twee verdagtes se voertuig is later die Sondag op ons hoëmas-kameras by ontsnappingsroetes in ons gebied opgetel. Die kameras is aan ‘n sentrale beheersentrum gekoppel. Ons werk nou saam met en ter ondersteuning van die polisie en sekuriteitsmaatskappye. Veral AfriForum takke se veiliheidsafdeling, wat uit vrywilligers bestaan, gee vir ons uitstekende samewerking.”
Buiten die kameras, maak die plaaswag ook gebruik van hommeltuie en termiese nagsigtoerusting wat die boere uit hulle eie sakke aangekoop het.
“Ons landelike sekuriteit werk goed omdat ons georganiseerd, gestruktureerd en gedissiplineerd is. Die ontsnapvoertuie wat wegvlug van die toneel van ‘n transitorooftog word bykans weekliks opgetel,” verduidelik Fanie.
Volgens hom is daar al in die tyd van die kommando’s begin om doeltreffende gebiedsbeveiliging en voorkomende operasies te doen. “Ons het ‘n veiligheidsnet om ons gebied getrek. Nou is landelike veiligheidstrukture besig om dieselfde te doen en ander gebiede kan by ons kom kers opsteek. Dit is verblydend dat dit veral die jonger geslag is wat voor vat.”
Omdat die veiligheidstrukture so suksesvol is, dien dit as afskrikmiddel vir veediefstal en ander misdaad. “Die meeste ander misdaadinsidente kom voor weens drankmisbruik,” sê Fanie.
“Om boer te wees bly lekker en dit is ‘n voorreg om rentmeesters te wees van die stukkie van God se Skepping wat aan ons toevertrou is en ook deur ons nageslagte bewoon, bewerk en bewaar moet word.”
Bronverwysings
Du Toit, J. (2024) Uniondale-skou vier 60 jaar van tradisie en saamwees. George Herald
Francke, R-L. (2024) Underworld At War: Who is Mark Lifman? IOL