Undercover Farming is die toekoms

undercover farming
Die klimaatveranderingsdebat is ‘n ingewikkelde een en ons hou maar almal asem op, want vinnige temperatuurveranderinge voorspel niks goeds vir landbou nie. Die beskuttelandbousektor het gelukkig die vermoë om homself teen natuurverskynsels te verskans. Die Undercover Farming-skou en -kongres is onlangs in Pretoria gehou om te kyk wat die toekoms inhou.
Haygrove
Kevin Black is aan die stuur van projekte en aankope by Haygrove. Hy sê dat kweekhuisboere baie meer beheer oor hulle watertoediening, atmosferiese klimaat en groeimediumklimaat as konvensionele boere het – Dit moet net fyn en reg bestuur word. Haygrove verskaf kapasitorpeilstiffies (probes), pH-meters, vogmeters en elektriesegeleidingsmeters. Van die meters is beskikbaar as handeenhede om steekproewe te doen, of staties om deurlopend data in te samel waarmee ‘n baie nuttige geskiedenis opgebou word.
Mike Cordes
‘n Groente- en vrugteboer wat ernstig is oor sy boerdery, is ook ernstig om te sien waar eindig die produkte wat by sy plaashek uitgaan. Mike Cordes, hoofbestuurder van IMASA (Instituut vir markagente in Suid-Afrika) sê dat die belangrikste faktore wat ‘n boer se verkope beïnvloed gehalte, bestendige verskaffing, verpakking en vertoning, en kommunikasie met die markagent is. Daar is verskeie maniere om dit reg te kry:
Die boer moet ‘n persoonlike verhouding met sy agent bou, want sy agent is as’t ware sy verkoop- en bemarkingsbestuurder.
Hy moet gaan kyk hoe sy agent met die kopers werk en gesels. Is sy agent se werkplek skoon en netjies? Hoe vergelyk sy verpakking met die res van die boere s’n?
Francois Knowles
Francois Knowles is die adjunkdirekteur: Handel en Operasionele Bestuur by Pretoria-mark. Hy het ‘n paar interessante feite oor die mark met die kongresgangers gedeel. Die mark is een van 17 in Suid-Afrika en die tweede grootste in Afrika. Dit beslaan 32,8 ha en het ‘n handelsvloer van 58 000 m². Die rypwordingsfasiliteite het ‘n inhoudsmaat van 1 207 palette en in die yskaste kan hulle 2 130 palette berg. Die kliënte bestaan uit 70% formele en 30% informele handelaars.
Delphy SA
Dit is altyd wys om ‘n objektiewe en onafhanklike konsultant te kry wat jou kan help om die prosesse in jou kweekhuis meer vaartbelyn te maak. Joe Coetsee, ‘n konsultant van Delphy SA, sê: “Ons is 100% op kosproduksie in tonnels gefokus en wil hê boere moet uit die grond beweeg in ‘n groeimedium in. Ons fokus is op konsultasie vir groot boere wat hulp nodig het, maar ons leer ook kleiner boere om die regte ding op die regte tyd te doen. “Kennis is ‘n groot behoefte in Afrika. Ek was nou die dag op ‘n plaas waar ‘n boer elke dag vyf verskillende gifsoorte toedien wat presies dieselfde werk doen en hy dink hy doen die regte ding.”
Delphy se hoofkantoor is in Holland, maar hulle het verteenwoordigers in onder meer Suid-Afrika, Kenia en Etiopië. “Ons is heeltemal onafhanklik van verskaffers en sal dus nie na jou plaas toe kom om produkte te verkoop nie. Ons verskaf die regte handelsnaam se produk volgens jou behoeftes,” sê Herbert Stolker, ‘n konsultant vir Suid-Afrika. Weerskante van hom sit Majella van der Arend, internasionale projekbestuurder: Afrika en Joe Coetsee.
Cravo Equipment
“Ons bied intrekbare dakke wat buigsaamheid vir ‘n kweekhuis bied om gewasse in die winter- en somermaande te beskerm. Deur die dak op die regte tye oop en toe te maak, kan die gehalte van die gewas verbeter word – wat ook die raklewe van die produk kan verleng,” sê Bede Miller van Cravo.
Cravo Equipment gebruik ‘n poligeweefde materiaal wat op plat sowel as skuins A-rame soos varkhokke gebruik kan word. Op die plat rame gebruik hulle ‘n materiaal wat water kan deurlaat, maar wat verhoed dat die impak van die reën ‘n invloed op die gewasse het. Op die A-raam gebruik hulle ‘n materiaal wat aan beide kante UV-beskerming bied en heeltemal weerbestand is. Ons gebruik ‘n klimaatbeheerder om met die meganisme wat die dakke oop en toe te maak kommunikeer. Melissa Pols, verkoopkonsultant van ProAgri, Sergio Montesinos, verkoopbestuurder: Europa en Afrika, en Bede Miller, produkbestuurder, staan in die Cravo Equipment-stalletjie.
Jabeco Wireless Solutions
Willie Bornman van Wireless sê “As jy in ‘n kweekhuis gaan kyk, is daar ‘n geweldige klomp inligting wat vloei, byvoorbeeld pompe word aan- en afgeskakel om die hele waterstelsel aan die gang te hou. Dit kan selfs so ver gaan soos om gereeld die temperatuur in die groeimedium te meet. Inligting word geskep en jy moet die inligting in kennis omsit en dan in wysheid, sodat jy dit op ‘n sinvolle manier kan gebruik. Met ons stelsels kan jy rekord hou van elke gebeurtenis in ‘n boord en dit dan op ‘n databasis plaas. As die EuroGAP-inspekteurs op ‘n plaas opdaag, kan ons tot vir hulle sê hoeveel water het ‘n bepaalde kissie tamaties ontvang! Dit werk net nie om tussen ‘n klomp papiere te gaan rondkrap wat die werkers ingevul het nie.
“Akkurate rekordhouding is ‘n noodsaaklikheid en nie meer ‘n gerieflikheid nie. Ons beweeg almal in daardie rigting. Ons sit die boer se inligting op sy rekenaar, asook op ‘n bediener by ons kantore by die WNNR. As rugsteun kan ons digitale probleme oor die internet oplos of na die boer toe uitry om hardewareprobleme op te los.”
AgriLab
Lindane Zimande en Marike Mendes is van Dube AgriLab. “Ons is ‘n maatskappy wat spesialiseer in die vermeerdering van saailinge deur die weefsel in vegetatiewe produksie te gebruik. Dit werk baie goed vir plante wat nie maklik deur saad vermeerder kan word nie. Baie plante wat op hierdie metode geproduseer word, kry egter maklik siektes wat versprei, maar ons maak dit in ‘n steriele atmosfeer in ‘n laboratorium skoon. Daarna plant ons dit oor in ‘n kweekhuis en verkoop dit dan as gewone saailinge aan die boere,” sê Marike.
Die gewildste gewasse wat hulle vermeerder is saadriet vir suikkerriet, oftewel suikkerriet se beginmateriaal, piesangs en bamboes vir die bosboubedryf. Hulle vermeerder ook spesiaalgeteelde plante.