Uitstekende kondisie van Caledon jongooie ten spyte van droogte

Caledon inligtingsdag (1)
Ses Merino en 14 Dohne Merino-kuddes het hierdie jaar deelgeneem aan die Caledon kudde-evaluasies wat op 14, 15 en 21 Augustus plaasgevind het. Daar is van plaas tot plaas gegaan waar deelnemers hulle trop ooie voorgejaag het. Die beoordelaars, Frans Hugo van CMW en Pieter du Plessis van BKB het 25 ooie per deelnemer afgetel en geevalueer. Ondanks ‘n droë jaar was die jong ooie in uitstekende kondisie.
Die beste Merino-ooi met die beste wol is gekies vanuit die proefkudde van Carel le Roux van Roodebloem, terwyl dié vanuit sy kontrolkudde as naaswenner aangewys is. Kobus Wessels van Schildskloof, Rietpoel is as derdeplekwenner aangewys. ‘n Merino-ooi van dr George de Kock, Driefontein, is aangewys in die beste GDT-kategorie met ‘n gemiddelde toename van 139,3 g/dag. Die Merino-ooi met die beste bouvorm kom uit die kudde van Johannes du Toit van Remkuil.
Die Dohne Merino-wenner kom uit die kudde van Peter Delport van Franskraal met naaswenner Geo Muller van Soetmelksvlei, Greyton, en derde plek is toegewys aan Stefan Badenhorst, Kleine Wolwegat. Die Dohne Merino-ooi met die beste bouvorm kom vanuit Lemoenskop Boerdery (Dassiefontein) en Josias le Roux van Langhoogte het erkenning ontvang vir sy ooi met ‘n gemiddelde daaglikse toename van 180 g.
Kuddekompetisie sorg vir goeie opkoms na Caledon-inligtingsdag
As uitvloeisel van die kudde-evaluasie, is ‘n geslaagde inligtingsdag op Roodebloem, plaas van Carel le Roux, wat die beste Merino-ooi geproduseer het, gehou. Die roofdierspesialis Niel Viljoen, het die stel van ‘n rooikathok prakties gedemonstreer en die ongeveer 115 boere ingelig oor roofdierbestuur. Die onbekende meganisme van wolverhandeling op die JSE, is verduidelik deur Hans Smit van Agribase Group, handelaar van die JSE.
‘n Langtermyn proef is op Roodebloem aan die gang waar jong ooie ad-lib gevoer word vir beter reproduksie en Bertie de Wet van Meadow Voere het ‘n vorderingsverslag daaroor gelewer.
Wes-Kaap se produksie-adviseur, Jannie Fourie, het waardevolle redes gegee oor hoe graan- en veeboerdery met mekaar versoen kan word vir meer wins, onder andere om ‘n gesonde graan/veeverhouding van 60/40 of selfs 50/50 te handhaaf en gevare van hoë huur en risiko’s in graanverbouing uit te skakel. Die waarde van skape is weer eens bevestig en spesifiek in die huidige droogte dien ‘n skaap as ‘n belegging aangesien sy waarde oor tyd vermeerder, in teenstelling met kunsmis, saad, diesel, onkruiddoders en ander insette wat nie uit die grond gehaal kan word nie.
Hy het boere uitgenooi om in te skakel by studiegroepe, waar alles gemeet en huidige tegnologie kan help om te bepaal watter dier, kamp, kultivar, doseermiddel, dip en beste metode van bewerking op plaas die beste werk. Die doel moet wees om met so min as moontlik weiding en voer, die maksimum wol en vleis/teelooie te produseer.
Om ‘n blink toekoms in die Overberg te verseker, het Jannie boere aangemoedig om hulle risiko’s te verlaag en ‘n balans op die plaas te bewerkstellig wat vir hulle die beste gaan werk.
Bron: NWKV