Twee plaasaanvalle oor een naweek in die Vrystaat

skape-op-munisipale-bakkie
Vrystaat Landbou (VL) wil weer eens boere aanmoedig om uiters versigtig en paraat te wees soos wat die feesseisoen nader kom, met twee plaasaanvalle wat die naweek in die Vrystaat voorgekom het, een plaasaanval wat voorkom is en munisipale beamptes wat deur boere vasgetrek is nadat hulle vee gesteel het.
Volgens die VKB/VL Veiligheidslessenaar se inligting, het boere van Warden Sondag 27 November 2016, twee munisipale beamptes van die Phumelela Munisipaliteit vasgetrek wat glo sowat 35 skape gesteel het. Die boere was op pad van die kerk af huis toe, toe hulle die bakkie langs die pad gewaar met 10 skape agter op, maar met geen traliewerk soos wat deur die wet vereis word nie. Ben Greyling, veiligheidskoördineer, sê die plaaswagstelsel is in kennis gestel en boere het die pad afgeblok en die voertuig afgetrek, waarna die Polisie ontbied is. Vyf skape is in die plaaslike nedersetting terugggevind. Nuwe tatoeërmerke was reeds aan die binnekant van die diere se ore aangebring. Die afsetpunt vir die veediewe is glo QwaQwa. Een van die munisipaliteit se bakkies is tydens die voorval gebruik. Die saak word tans verder ondersoek, en nog arrestasies is moontlik.
’n Plaasaanval is Vrydagaand 25 November 2016, in die Reitz-distrik voorkom. Die plaaslike veiligheidstruktuur en Polisie is Donderdag 24 November 2016 oor die moontlike voorval ingelig. Na meer besonderhede bevestig is, het die Polisie en boere saamgewerk om die voorval te voorkom. Een verdagte is gevind by die huis waar die vermeende aanvallers glo sou ontmoet. Dwelms is op die perseel gevind, en die verdagte is onmiddellik in hegtenis geneem. Nog inligting word in verband met die voorval opgevolg, en verdere arrestasies is moontlik.
Vrystaat Landbou het sy dank uitgespreek teenoor informante wat baie keer hulle lewens op die spel plaas om misdaad te beveg. “Ons wil diegene wat deel vorm van veiligheidstelsels herinner dat informante baie belangrike rolspelers is en dat hulle inligting en identiteite beskerm moet word.”
Intussen is VL baie dankbaar dat geen lewensverlies voorgekom het tydens plaasaanvalle by Viljoenskroon en Ladybrand nie. Jannie du Plessis, ’n boer van die plaas Ramdam naby Viljoenskroon, is Saterdagoggend, 26 November 2016 tussen 01:00 en 01:30 deur ses verdagtes in sy huis aangeval. Hy het wakker geword van die geluid van iets wat breek, en die volgende oomblik is sy kamer se lig aangeskakel. Jannie is vasgebind, en met wapens en messe gedreig. Die verdagtes het met wapens, sy bakkie en ander goedere op die vlug geslaan.
Na sowat twee ure kon Jannie homself loswikkel en hy het die Polisie en plaaslike veiligheidstruktuur van die voorval in kennis gestel. Hy het na sy familie naby aan hom gery, en sy bakkie langs die pad gevind. Een van die verdagtes was nog in die bakkie, maar hy het te voet op die vlug geslaan toe hy Jannie en die Polisie se voertuie se ligte sien.
Die plaaslike veiligheidstruktuur, VL en die lessenaar wil opregte dank uitspreek teenoor een van die Polisiebeamptes wat sy eie voertuig gebruik het om Jannie te hulp te snel. Die plaaslike Polisiestasie se bakkie het deur die loop van Vrydag gebreek, en die beampte en drie van sy kollegas het in sy eie voertuig na Jannie se plaas gejaag. Jannie se bakkie en een gesteelde wapen is teruggevind. Verdagtes word nog gesoek in verband met die saak.
Twee verdagtes word gesoek na hulle ’n voorman op die plaas Italy in die Ladybrand-distrik aangeval het Sondagoggend 27 November 2017, omstreek 02:00. Die 60-jarige ML Masebo is aangeval terwyl hy geslaap het. Die verdagtes het ML met messe aangehou en geld geëis. Hulle het met kontant op die vlug geslaan. Verdagtes word tans gesoek.
Henk Vermeulen, hoofuitvoerende beampte van VL, betuig opregte dank teenoor al die Polisiebeamptes wat hulle werk getrou verrig en landelike gemeenskappe se belange op die hart dra. “VL wil graag alle boere aanmoedig om uiters paraat te wees in die komende maande, veral aangesien misdaad op plase tradisioneel toeneem in dié tyd.”
Tommie Esterhuyse, voorsitter van VL se Wet en Orde Komitee, sê die organisasie is baie dankbaar vir die goeie samewerking wat tussen die Polisie en boere in die provinsie bestaan wat tot die suksesse van die naweek bygedra het. “Lig jou werkers in dat hulle jou op hoogte moet hou van enige besoekers wat hulle verwag, en stel die plaaslike veiligheidstrukture in kennis van verdagte voertuie. Maak ook seker dat die veiligheidstelsels op die plaas en by jou huis in goeie werkende toestand is en toets dit gereeld.”
Bron: VKB/VL Veiligheidslessenaar
Foto: verskaf