Twee plaasaanvalle in die Vrystaat in 14 uur
Twee plaasaanvalle het sowat veertien uur uitmekaar in twee verskillende dele van die Vrystaat voorgekom. Volgens die VKB/VL Veiligheidslessenaar se inligting is ses werkers Dinsdag op Johan Botha se plaas, Balitho, naby Clocolan aangeval. Die plaas lê teen Suid-Afrika se grens met Lesotho.
Twee mans het omstreeks elfuur vier werkers op die plaas genader en aangedui dat hulle glo melk wou koop. Kort daarna het die twee mans wapens uitgeruk, en het vier ander verdagtes by hulle aangesluit terwyl hulle die werkers gedwing het om na die plaashuis toe te gaan. In die huis is die vier werkers en twee huishulpe vasgebind, en die huis is geplunder terwyl die verdagtes vir hulleself kos gemaak het. Onder die items wat gesteel is, is wapens.
Die verdagtes het hulle buit op ‘n trekker en wa gelaai en van die plaashuis, wat ‘n paar honderd meter van die Caledonrivier geleë is, gery. Daar is die goedere deur die rivier gedra en in ‘n voertuig gelaai waarmee op die vlug geslaan is. Net voor die verdagtes weggery het, het hulle die veld aan die brand gesteek.
Die vermoede bestaan dat die aanvallers aanvanklik wou wag dat Johan tuiskom na hy soos oudergewoonte die kinders by die skool gaan haal het, maar Johan se bakkie het gebreek en hy het nie gery nie. Hy was besig om te stroop in landerye waar geen selfoonopvangs is nie en het omstreeks drie-uur die werkers en die brand by sy huis aangetref. Hy het die noodplan geaktiveer, en terwyl roetes gepatrolleer is, het van sy bure hom kom help om die brand te blus. Slegs die veld het afgebrand. Niemand is ernstig tydens die voorval beseer nie.
In ‘n tweede voorval het Gustav Louw omstreek halfeen op 2 Augustus 2017 wakker geword van sy honde se geblaf en ’n veiligheidsheining se alarm wat afgegaan het op die plaas Leeuwfontein tussen Theunissen en Virginia. Die plaas is geleë in ’n wildskamp wat deur ’n myn se gronde omring word.
Gustav het ondersoek ingestel, en gesien hoe een van vyf verdagtes besig was om oor die veiligheidsheining te klim. Hy het ‘n waarskuwingskoot afgevuur, waarna die verdagtes op die vlug geslaan het. Die plaaslike veiligheidstelsel is geaktiveer, en boere van Theunissen en Virginia het die roetes gepatrolleer as deel van die soektog na die verdagtes. Die Polisie se honde-eenheid was ook op die toneel. Die verdagtes word nog gesoek.
Tommie Esterhuyse, voorsitter van Vrystaat Landbou (VL) se Landelike Veiligheidskomitee, wil boere aanmoedig om baie paraat te wees, veral langs die Lesothogrens. Volgens die lessenaar se statistiek, is dit die vyfde voorval in die Clocolan-omgewing die jaar. Esterhuyse voeg by dat die lessenaar se statistiek oor die afgelope tyd ook aandui dat die aantal aanvallers tydens plaasaanvalle toenemend meer word as die aantal slagoffers wat geteiken word.
“Die komitee en lessenaar gaan tydens ons gereelde gesprekke met die Polisie en die Weermag, vanaf plaaslike plaaswagstelsels tot by vergaderings met provinsiale hooggeplaasdes, die druk verhoog vir verskerpte beveiliging, veral langs die grens,” sê Tommie.
Bron: VKB/VL Veiligheidslessenaar