Twaalf plaasaanvalle in die Vrystaat vir 2017
Twee plaasaanvalle, een by Kroonstad en een by Clocolan, het die afgelope naweek in die Vrystaat plaasgevind. In ’n derde voorval is ’n egpaar van die Reitz-distrik ongedeerd.
Volgens die VKB/VL Veiligheidslessenaar is twee werkers van die plaas Delportsrus naby Kroonstad, Saterdag deur sowat 10 rowers aangeval en aangerand. Die rowers het met ’n bakkie en waentjie op die plaas opgedaag, en het die werkers aangehou terwyl hulle in die huis en by skure ingebreek het. Altesaam is 14 sonpanele met batterye asook ander werkswinkeltoerusting gesteel. Die skade word op sowat R200 000 beraam.
In ’n tweede voorval is Nikki Haddad van die plaas Howie in die Clocolan-distrik Sondagmiddag deur twee mans aangeval. Die verdagtes het agter sy motorhuis geskuil en op hom afgestorm na hy op die plaas gestop het van die dorp af. Hy is in sy een been en in sy linkerarmholte geskiet, waarna die verdagtes hom geroof het. Daar is nie in sy huis of buitegeboue ingebreek nie.
Deon Roux, veiligheidskoördineerder van die Clocolan Boerevereniging, sê die plaaslike veiligheidsnetwerk is geaktiveer na Nikki met hulle kontak gemaak het. Boere was eerste op die toneel om Nikki by te staan, terwyl die Polisie se honde-eenheid die omgewing deursoek het en ’n plaaslike sekuriteitsmaatskappy ook ’n hommeltuig gebruik het om die omgewing te deursoek. Die verdagtes word nog gesoek. Nikki is in ’n stabiele toestand in ’n hospitaal op Bethlehem.
Voorval by Reitz
In ’n derde voorval het Jasper Naudé en sy vrou van die plaas, Delsville, in die Reitz-distrik die plaaswagstelsel geaktiveer na hulle by die huis gekom het van die kerk af en onraad gemerk het. ’n Man het oor die woning se heining gespring en weggehardloop toe hulle voertuig gestop het. Die plaaswag het saam met die egpaar deur die huis beweeg om seker te maak dis veilig. Die egpaar se twee honde is doodgemaak. Nog geen gesteelde items kon geïdentifiseer word nie. Die Polisie se honde-eenheid het ook die toneel en die omgewing deursoek, want die mielielande in die omgewing is baie dig.
Almal is teikens
Die VKB/VL Veiligheidslessenaar se statistiek in terme van misdaad op plase in die Vrystaat dui ’n toename aan, asook dat alle landelike inwoners moontlike teikens van die misdade is wat op plaasaanvalle kan uitloop. In vier van die 12 plaasaanvalle is kommersiële boere aangeval, en in een voorval ’n opkomende boer. In die sewe ander aanvalle is werkers of plaasbewoners geteiken.
Henk Vermeulen, hoofuitvoerende beampte van Vrystaat Landbou (VL), sê die organisasie is baie dankbaar dat geen lewe in die naweek se voorvalle verloor is nie. “Die veiligheid van boere en landbou gemeenskappe is ons eerste prioriteit, en een aanval is een te veel. Ons wil boere weer eens aanmoedig om deel te word van hulle plaaslike veiligheidstrukture en om so ver moontlik paraat te wees vir verdagte omstandighede, gebeure, persone of voertuie en hulle strukture ingelig te hou daarvan.”
Tommie Esterhuyse, voorsitter van VL se Landelike Veiligheidskomitee, sê die organisasie is weekliks met ander organisasies en rolspelers in gesprek. “Veiligheid as saak en die beskerming van mense moet die hooffokus van alle aksies bly, en ons sal sover moontlik met alle rolspelers binne die raamwerk van die Landelike Beveiligingsplan (LBP) saamwerk om landbougemeenskappe veilig te probeer hou. Terwyl die voorvalle Sondag in die Vrystaat voorgekom het, het boere en die Polisie beveiligingsoptredes in ander dele ingeoefen. Volgens die LBP se bepalings moet twee inoefeninge per distrik per jaar plaasvind.”
Bron: VKB/VL Veiligheidslessenaar