Categories: NuusPublished On: 18th January 2019

Toyota wen die 2019-Dakar

By 5 min read
959 words
hilux

hilux 1

Die laaste sneltrajek van die 2019-Dakar het by die tentkamp buite Pisco afgesluit nadat die Toyota Gazoo Racing SA-jaer, Nasser Al Attiyah, en sy navigator, Mathieu Baumel, hulle Suid-Afrikaans geboude Toyota Hilux in ’n geskiedkundige oorwinning in die eerste plek oor die wenstreep gestuur het. Dit was nie net die eerste oorwinning vir Toyota nie, maar ook die eerste petrol-aangedrewe motor wat die Dakar-ren in Suid-Amerika gewen het.

Dié jaer van Katar het sy Franse navigator, wat Donderdag (17 Januarie) 43 geword het, van die beste verjaarsdaggeskenk denkbaar verseker toe die twee by die laaste tydbeheerpunt van die 2019-Dakar aangekom het met hulle spanmaats, Giniel de Villiers en Dirk von Zitzewitz kort agter hulle. Die twee Toyota Hilux-spanne het die hele sneltrajek saam gejaag nadat De Villiers/Von Zitzewitz bykans 55 minute vir die voorjaers gewag het om verby te kom sodat hulle saam met hulle tot by die eindpunt kon ry.

Die emosies het vir Glyn Hall, die spanhoof, oorgeloop toe hy sprakeloos was toe sy twee renjaers by die mediapunt ná die laaste tydbeheerpunt aankom. “Ons wag al lank vir hierdie oorwinning,” het hy uiteindelik uitgekry voordat ’n horde mense hom met gelukwensinge oorweldig het.

Die wenjaer het egter nie gesukkel om sy sê te sê nie: “Ons is in ons noppies dat ons die Dakar kon wen – nie net vir onsself nie, maar ook vir Toyota en die hele Toyota Gazoo Racing SA-renspan. Almal het so lank so hard gewerk en verdien die oorwinning. Dankie dat ons hierdie motor kon ry!”

Toyota Gazoo Racing SA het van die eerste tot die laaste sneltrajek in die 2019-Dakar-veldtydren voor gejaag nadat Al Attiyah/Baumel eerste bloed geproe het voordat hulle die fakkel aan De Villiers/Von Zitzewitz ná Sneltrajek 2 oorhandig het. Maar toe kom die rampspoedige Sneltrajek 3 waarna die Katarees weer die voortou geneem het – ’n voorsprong wat hy ten ondanks van die moeilikste sneltrajekte nog in enige van die Suid-Amerikaanse Dakar-weergawes nie ’n enkele keer afgestaan het nie.

“Toe ons aanvanklik gehoor het dat die hele ren net in een land sou plaasvind, was ons skepties,” het Hall gesê nadat hy kalmte herwin het. “Die organiseerders het egter seker gemaak dat vanjaar se ren nog lank onthou sal word as een van die moeilikste die afgelope dekade.”

Al Attiyah/Baumel se oorwinning in die 2019-Dakar beteken dat Toyota Gazoo Racing nou al twee die wêreld se moeilikste motorrenne – die Le Mans-uithouren oor 24 uur en die Dakar-veldtydren – gewen het.

Soos Hall voorheen gesê het: “Om die Dakar te wen, is nooit maklik nie – baie mense probeer. Vanjaar se ren was gewis nie ’n uitsondering nie, en het ’n mengelmoes emosies en uitslae vir die span opgelewer.”

Die eerste ernstige terugslag was toe De Villiers/Von Zitzewitz in Sneltrajek 3 teen die algehele renvolgorde teruggetuimel en buite bereik van ’n oorwinning geëindig het nadat hulle ’n klip in digte stof getref het. Dit het die 2009-kampioene tot ’n ondersteunende rol laat oorskakel. Dieselfde het die Nederlandse lid van die span, Bernhard ten Brinke, en sy Franse navigator, Xavier Panseri, net die volgende dag oorgekom.

“Dit was in ’n sekere sin gerusstellend om te weet ons het twee voertuie om Nasser te ondersteun,” het Hall ná die ren gesê. “Ek sou nogtans eerder wou gehad het dat al drie om ’n algehele posisie eerder as bloot ’n sneltrajekoorwinning hier en daar moes jaag.”

Ten Brinke/Panseri’s ren het ongelukkig in Sneltrajek 8 voortydig geëindig toe hulle motor se ratkas in van die grootste duine in vanjaar se ren die gees gegee het. Dit het beteken De Villiers/Von Zitzewitz was die enigste span wat Al Attiyah/Baumel kon ondersteun.

“Ons het uit die aard van die saak kom deelneem om te wen,” het De Villiers, wat uiteindelik negende algeheel was, gesê.

“Toe daardie droom egter kortgeknip is, was ons heeltemal tevrede daarmee om Nasser en Mathieu se poging te ondersteun. As ons dit nie self kon wen nie, was die volgende beste dat een van ons spanmaats die oorwinning losjaag, en ek is baie in my skik met die uitslag.”

De Villiers, wat nog net een keer buite die top-10 in sy 15 Dakar-renne was, het sy pad deur die renveld oopgeveg en was met nog net een sneltrajek oor in die agtste plek algeheel.

“Die organiseerders het die laaste sneltrajek in die omgekeerde posisies laat begin, en die span het besluit dat ek en Dirk maar vir Nasser en Mathieu moet wag. Ons het dus weggespring, maar toe van die pad af getrek en in die duine gewag,” het De Villiers verduidelik. “Ons kuipespan het geluk twee kampstoele ingepak sodat ons die ren darem uit ’n gemaklike posisie kon dophou.”

De Villiers-hulle het die 55 minute voordat hulle spanmaats sou wegtrek, uitgesit en hulle toe op kort afstand gevolg. Dit het De Villiers/Von Zitzewit ongelukkig een posisie algeheel gekos, en hulle moes uiteindelik met die negende plek tevrede wees. De Villiers se Top-10-rekord het egter behoue gebly.

Die oorwinning in Peru was vir Toyota Gazoo Racing SA die kersie op die koek van ’n ongelooflike geskiedenis in die Dakar.

“Dit was die een oorwinning wat ons nodig gehad het,” het ’n oorstelpte Hall gesê nadat die stof oor die 41ste weergawe van die Dakar-veldtydren gesak het.

“Dit voel fantasties om uiteindelik te wen!”

TOYOTA GAZOO RACING SA SE DAKAR-GESKIEDENIS:

(Beste uitslae)

2012               3de (G. de Villiers)

2013               2de (G. de Villiers)

2014               4de (G. de Villiers)

2015               2de (G. de Villiers)

2016               3de (G. de Villiers)

2017               5de (G. de Villiers)

2018               2nd (N. Al Attiyah)

2019               1ste (N. Al Attiyah)

ALGEHELE POSISIES NÁ SNELTRAJEK 10:

  1. Al Attiyah / Baumel (TOYOTA)
  2. Roma / Haro (MINI) +46:42
  3. Loeb / Elena (Peugeot) +01:54:18
  4. Przygonski / Colsoul (MINI) +02:28:31
  5. Despres / Cottret (MINI) +02:48:43
  6. Prokop / Tomanek (Ford) +03:19:02
  7. Al Rajhi / Gottschalk (MINI) +04:30:56
  8. Garafulic / Palmeiro (MINI) +07:57:58
  9. De Villiers / Von Zitzewitz (TOYOTA) +07:59:16
  10. Chabot / Pillot (TOYOTA) +08:09:58
0
Tags: ,

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0