TOYOTA lewer nog ‘n skittervertoning

fortuner-83_1800x1800
Toyota het nou ’n bykans onoorkombare voorsprong van meer as 24 558 verkope teenoor sy naaste teenstander op sy pad om sy markleierskap in Suid-Afrika die 37 ste keer te bekragtig.
Toyota was ondanks ’n algehele markdaling van 10,1% teenoor voertuigverkope in Oktober verlede jaar die enigste vervaardiger wat weer eens die grens van 10 000-kleinhandelverkope met ’n algehele verkoopsyfer van 11 129 eenhede in Oktober gehaal het.
“Dit is die meeste voertuie wat ons nog vanjaar verkoop het en dit kan grootliks toegeskryf word aan goeie verhoudinge in die kleinhandelwêreld met betrekking tot talle van ons modelle, waaronder die Hilux (2 781), Etios (1 520), Quantum (1 451), Corolla Quest (1 272) en Fortuner (1 172),” het Calvyn Hamman, senior vise-president vir verkope en bemarking by Toyota Suid-Afrika Motors, gesê.
“Trouens, Toyota het ’n aantal bestes in die segment vir Oktober aanteken: die Quantum was eerste in die mensedraerklas, die Quest tesame met die Corolla en die Auris (saamgestelde verkope van 1 968 eenhede) het die C-segment oorheers, die Fortuner was ver voor in die sportnutssegment waar hy verkope van 1 172 eenhede aangeteken het, en die Avanza, wat onlangs met bykomende veiligheidstoerusting opgekikker is, het die topposisie in die veeldoelvoertuigklas gemaklik ingeneem.”
Melding moet ook gemaak word van die Aygo (216), wat besig is om staanplek in die A-segment te kry, terwyl die Land Cruiser-bakkie aan die ander kant van die spektrum ’n bestendige 276 eenhede vir die maand aangeteken het – ’n merkwaardige prestasie as ’n mens die spesialis-gebruik van hierdie voertuig in ag neem. En, moenie vergeet dat Suid-Afrika se topverkoper-voertuig, die Toyota Hilux, die pas met ’n aansienlike voorsprong in die bakkie-brigade aangee nie. Die Hilux is vir die jaar tot nou 3 739 eenhede voor sy naaste mededinger wat verkope betref.
Handelsvoertuigverkope is ewe uitdagend, maar die Hino het nogtans sy markleierskap in die medium handelsvoertuigsegment (MHV) behou met ’n markaandeel wat op 26,5% staan.
Bron: Toyota