TLU SA wys leiers vir volgende jaar aan

tlu-sa-begin
Op TLU SA se kongres in Pretoria is die nasionale leiers eenparig herkies. Louis Meintjes bly die president en Henry Geldenhuys bly die adjunk-president.
Theunis Kruger is herkies as voorsitter van Wes-Streek, Steven Vermaak van Noord-Streek, Wannie Scribante in Sentraalstreek en Johan van Dyk in Oos-Streek. Die voorsitters van die ander provinsies is reeds in streekskonferensies aangewys. Hulle is Wollie Burger (Noord-Kaap), Bennie Liebenberg (Wes-Kaap), Herman de Wet (Natal), Hennie Naudé (Vrystaat) en Louise Rossouw (Oos-Kaap).
In sy presidentsrede het mnr Meintjes die vraag gevra: Bou ons die toekoms of leef ons in die verlede?
Hy het TLU SA se geloofsbegronding bevestig asook sy lede se identiteit en gebondenheid aan die grond soos uitgedruk in die woorde van die Engelse skrywer, Ramsay McDonald, wat die Afrikaners soos volg beskryf het: “Hulle is met Suid-Afrika vereenselwig; hulle is die natuurlike wasdom van die veld; hulle is diep in die bodem van die land gewortel”.
Hy sê kommersiële boere se bydrae oor die eeue heen was seker die grootste bydraende faktor gewees om Suid-Afrika op te bou en ekonomies te rig, want geen mens kan leef sonder voedsel nie.
“In vandag se tyd sal ‘n verantwoordelike regering deeglik besef dat die grootste bate waaroor ‘n land kan beskik, sy produserende kommersiële boere is. Dit is net ironies dat lande vanoor die wêreld ons deurdrempels stukkend trap in die soeke daarna dat ons boere aldaar gaan produseer, want wyd word hulle gereken as van die beste in die wêreld. Hopelik gaan die Suid-Afrikaanse regering wakker skrik en besef dat landbou ‘n ekonomiese proses is waar daar net een meganisme is wat bepaal dat die beste boere in produksie bly ten einde die kosmandjie vol te hou en dit is die vryemarkbeginsel waar boere met privaat besitreg hulle kundigheid aanwend.”
Hy sê: “TLU SA bou vir ‘n toekoms. Daarom het ons baie energie ingesit om strategies te beplan vir die toekoms. In die proses is daar baie mooi toekomsmusiek waaroor ons opgewonde is.”
‘n Paar van die fokuspunte wat hy uitgelig het is:
– Lede se behoeftes – soos ekonomie, veiligheid, infrastruktuur en dan, baie belangrik, ‘n realistiese toekomsvisie.
– Daar is ver gevorder om ‘n eie Landboukollege te begin wat op ‘n Christelike grondslag in Afrikaans met afstandsonderrig as onderrigmetode gevestig sal word.
– Geleenthede plaaslik sowel as internasionaal sal tot voordeel van TLU SA se lede verder ontwikkel word;
– Op die veiligheidsterrein sal TLU SA voortgaan om in samewerking met die SAPD en ander organisasies wat wil saamwerk te werk om die aanslag teen ons lewens te oorkom.
– Baie moeite word deurlopend gedoen om bondgenote te kry wat landbou verstaan en om die regte redes help werk aan die toekoms. TLU SA beklemtoon dit opnuut dat ons bereid is om saam te werk met ander rolspelers, maar dat venootskappe gevorm moet word rondom beginsels.
– Op die arbeidsterrein is TLU SA in beplanning om binnekort verskeie rolspelers byeen te bring waar daar spesifiek gefokus gaan word op die keuring / sifting van werklose blankes ten einde hulle moontlik ‘n toekoms op plase te kan aanbied
– Die droogte se gevolge gaan vir geruime tyd nog met ons wees. Die herstel vir elke plaas is ‘n eie uitdaging. TLU SA het groot waardering vir instansies soos Solidariteit Beweging, Afriforum en Helpende Hand wat ruim bygedra het ten einde die las te help verlig. Heelwat voer is versprei na die gebiede waar dit swaar gaan. TLU SA werk ook saam met Boere in Nood en daar is heelwat geskakel met mekaar.
Hy sê TLU SA bemark en regverdig nie die regering se beleid aan ons boere nie: “Ons fokus is op ons boere se belange en daarom bevorder en bemark ons die boere se saak. Aan al my medeboere wil ek graag ‘n uitnodiging rig om julleself te posisioneer as positiewe, realistiese rolspelers. Sorg dat u elkeen so goed as moontlik ingelig is en neem dan verantwoordelike besluite. Ons moenie toelaat dat die negatiewe magte vir ons ‘n negatiewe toekoms skep nie. Dit is ons verantwoordelikheid as rentmeesters van die grond om alles in die stryd te werp om seker te maak dat die bodem bewaar word vir die nageslag by wie ons dit eintlik net leen, maar dan ook om ‘n gesonde beleidsomgewing te skep waarbinne elkeen kan gedy.
“Dit bring ons weer by die vraag naamlik werk ons vir die toekoms of leef ons in die verlede? Ons fondament tesame met ons kultuuropdrag, rig ons vir die toekoms. Met die beste poging in die wêreld kan niemand die geskiedenis verander nie, maar kan daar gewerk word om ‘n beter toekoms te skep. Daarvoor word ons energie aangewend.”
Bron: TLU SA