TLU SA maak beswaar teen staking van veilings

WhatsApp Image 2021-07-01 at 08.53.48
Artikel verskaf
29 Junie 2021
TLU SA vind dit onaanvaarbaar dat veilings in terme van die aangepaste vlak vier van die inperking gestaak word.
“Die president het Sondagaand beklemtoon dat alle ekonomiese aktiwiteite so ver as moontlik moet voortgaan en dat mense wel by hulle plek van werk mag aanmeld indien dit nie moontlik is om van die huis af te werk nie,” sê mnr. Henry Geldenhuys, die president van TLU SA. “Dit is dus vir ons onverstaanbaar waarom veilings in hierdie stadium gestaak word.”
Die regulasies wat vandeesweek hieroor gepubliseer is, verwys net na veilings en dit is nie duidelik of dit na die veilings van vaste eiendom verwys en of dit lewende hawe ook insluit nie.
“Veilings is baie belangrik vir die landboubedryf en die verspreiding van voedsel,” verduidelik mnr. Geldenhuys. “Dit is veral die kleiner boere wat hulle in ‘n baie moeilike situasie vind wanneer veilings nie voortgaan nie. Hulle het geen ander maniere om hulle lewende hawe te verkoop nie.”
Die geleenthede word vooruit beplan en die boere wat more by geskeduleerde veilings sou deelneem moet dringend, ten minste voor 14:00 vanmiddag weet of die reëlings aangepas moet word.
“Dit is vir ons onaanvaarbaar dat die president, die regeringsdepartemente en die ANC bykans nooit uit dieselfde mond praat nie. So kan ‘n land mos nie funksioneer nie.”
Vir meer inligting kontak:
Mnr Henry Geldenhuys, President van TLU SA
083 560 1273
Mnr Bennie van Zyl, Hoofbestuurder van TLU SA
082 466 4470