TLU SA Jongboer van die Jaar 2020 finaliste bekend gemaak

agri4all 1
TLU SA stel graag die top drie finaliste in TLU SA se Jongboerkompetisie 2020 bekend. Die wenner word op 23 November tydens ‘n geleentheid in Silverton, Pretoria aangekondig.
“Dit wil vir ons voorkom asof die inskrywings wat ons ontvang, jaar na jaar al hoe beter raak,” sê mnr. Henry Geldenhuys, die president van TLU SA. “Hoewel ons opgewonde is dat die toekoms van landbou in hierdie bekwame hande lê, maak dit die taak van ons beoordelaars aansienlik moeiliker om ‘n wenner aan te kondig!”
Die wenner ontvang die volgende van ons borge:
- ‘n Oorsese reis na die Manitou fabriek in Frankryk;
- R25 000 kontant van Santam; en
- R10 000 kontant van CMH Kempster Ford Hatfield.
Santam gee ook R15 000 aan die naaswenner en R10 000 aan die derde plek.
“Ons is dankbaar dat hierdie borge ingestem het om die toekoms van landbou in Suid-Afrika te versterk, deur in jong boere te belê,” sê mnr. Geldenhuys. “Dit is baie belangrik dat hoop vir die toekoms dwarsdeur die waardeketting gevestig word.”
Die drie finaliste is:
- CT van der Merwe (35) van Dendron in Limpopo. CT boer die afgelope 13 jaar op Al3 Boerdery met aartappels, botterskorsies, uie, beeste en het onlangs ook dragon fruit by hulle produkte gevoeg.
- Danie Bester (35) van Balfour in Mpumalanga boer al vir 17 jaar. Hy boer die afgelope 12 jaar op Rietbult met mielies en soja’s.
- Janis Terblanche (32) van Marble Hall in Limpopo boer al vir tien jaar. Hy het die Janis Terblanche Boerdery ses jaar gelede gekoop en boer voltyds met druiwe.
Bron: TLU SA