Categories: Artikels, MeganisasiePublished On: 6th April 2023

Tegnuus: Die nuutste in landboutegnologie van regoor die wêreld

By 6 min read

Screenshot 2023-04-06 125725

The two millionth John Deere tractor produced in Mannheim, the 6250R, with the 6400, which was the millionth tractor produced in Mannheim in 1993. Also pictured is the first tractor from the factory, the HL 12 Lanz Bulldog in 1921. John Deere took control of Heinrich Lanz Ag and its factories in Germany and Spain in 1956.

Tweemiljoen-mylpaal vir Mannheim

Hierdie 6250R is die tweemiljoenste trekker wat by John Deere se Mannheim-aanleg in Duitsland vervaardig is. Die spesiale model is versier met meer as 300 foto’s van werknemers, en hy sluit nou aan by die eenmiljoenste trekker, ՚n 6400, in die fabrieksmuseum.

Meer as 3 000 werknemers help om 40 000 trekkers per jaar by Mannheim te vervaardig. Dit is die grootste John Deere-fabriek buite Noord-Amerika en dit is ook die grootste trekkerproduksieaanleg in Duitsland, aangesien tweederdes van alle trekkers wat in Duitsland vervaardiguit die Mannheim-fabriek kom.

Mannheim is nie net ՚n fabriek nie, maar ook ՚n ontwikkelingsentrum vir alle medium trekkers. Die hooffokus vir die 250+ ingenieurs is op werkverrigting, gerief en doeltreffendheid, maar hulle werk ook aan alternatiewe ontwikkelings, soos die gebruik van biobrandstof.

Elektriese aandrywings word ook ontwikkel, al is dit net vir kleiner trekkers. Die maatskappy sê dat batterykapasiteit vir groter masjiene nog nie voldoende is nie. John Deere beplan om die eerste volledig outonome en batteryaangedrewe trekker (ongeveer 75 kW) in 2026 aan te bied. (Bron: profi)

Om onkruid met lasertegnologie te bestry, word lewensvatbaar

Carbon Robotics™ doen baanbrekerswerk vir die volgende rewolusie in landboutegnologie: laseronkruidbeheer.

Onkruidbeheer is een van boerdery se grootste kopsere. Deur gebruik te maak van kunsmatige intelligensie en lasertegnologie, lewer Carbon Robotics chemielose, geenbewerking-onkruidbeheer vir spesiale gewasse.

Hulle hoëresolusiekameras voer beeldmateriaal intyds na ՚n superrekenaar aan boord wat rekenaarvisiemodelle laat loop om gewasse en onkruid te identifiseer. Hoëkraglasers maak dan onkruid by die teelweefsel dood, sonder om gewenste gewasse te benadeel.

Laseronkruidbeheer werk dag of nag, in alle weerstoestande. Dit is ՚n hoëpresisie-oplossing wat oesopbrengs verbeter en algehele koste wat met moderne boerdery gepaard gaan, verminder. Daarbenewens skep laserbeheer ՚n volhoubare oplossing vir na bewarings- en organiese boerdery.

Die Autonomous Weeder lyk soos ՚n groot blok op wiele. Dit maak onkruid dood sonder om grond of waterbronne te beskadig en werk outonoom, wat die afhanklikheid van handearbeiders uitskakel.

Terwyl hy homself in rye laat loop, bekyk sy 12 kameras die grond. ՚n Aanboordrekenaar, aangedryf deur kunsmatige intelligensie, identifiseer onkruid en die robot se koolstofdioksiedlasers skiet en dood dan die plante.

Die Autonomous Weeder kan meer as 100 000 bossies per uur uitroei en 6 tot 10 hektaar op een dag skoonmaak.

Die nuwe LaserWeeder is nie outonoom nie – dit moet deur ՚n rytrekker
gesleep word, wat beteken dat iemand beskikbaar moet wees om dit te bestuur. Dit het egter drie keer meer lasers as die outonome eenheid en in een uur kan dit sowat een hektaar dek en 200 000 bossies uitroei.

Die LaserWeeder vernietig onkruid met lasertegnologie. ՚n Volledig outonome weergawe is ontwikkel, maar hierdie 2023-weergawe wat trekkerkrag benodig, is deur boere in Amerika verwelkom.

Paul Mikesell, Carbon Robotics se uitvoerende hoof en stigter, sê: “Ons het die doeltreffendheid van ons lasertegnologie bewys en die geweldige voordele wat dit aan boere bied, insluitend gesonder gewasse en grond, verminderde onkruiddodergebruik en verminderde chemiese en arbeidskoste.

“Om die beste in boere se behoeftes te voorsien, het ons die ontwerp van ons produk aangepas, maar sal steeds ons bewese laseronkruidtegnologie benut,” het hy voortgegaan.

Die Autonomous Weeders dien nou as demonstrasie-eenhede, maar die LaserWeeder is kommersieel beskikbaar.

“Die LaserWeeder outomatiseer een van die mees veeleisende, duur en tydintensiewe take op die plaas: onkruidbeheer,” sê Josh Roberts, president en hoofbestuurder van Triangle Farms in Salinas, Kalifornië.

“Die werktuig se ontwerp is bekend en pas maklik in by daaglikse bedrywighede, terwyl onkruidbeheer volhoubaar verbeter word, sodat boere se ondernemings kan groei.”

՚n Paar van die kunsmatige-intelligensie- en laserkenmerke wat in die ontwerp ingesluit is:

  • Aangedryf deur Nvidia grafiese verwerking
  • Hoë-resolusiekameras wat onkruid uitken en teiken
  • Rekenaarleermodelle
  • Onafhanklike onkruid-modules
  • 150 W CO2 lasers met millimeterakkuraatheid
  • Gereed om elke 50 millisekondes te vuur
  • Bedbladbeligting doeltreffend in alle toestande

(Bron: Freethink en Carbon Robotics)

Plaagbestande tamaties uiteindelik beskikbaar na 30 jaar se werk

՚n Vasbyt-plantteler het meer as ՚n dosyn nuwe reekse natuurlik-plaagbestande tamaties ontwikkel, wat moet help om ՚n toekoms te skep waarin boere nie op plaagdoders hoef staat te maak om hulle gewasse te beskerm nie.

Martha Mutschler-Chu, ՚n plantteler en genetikus by Cornell Universiteit, kyk na haar insekbestande tamaties.

Meer as 30 jaar gelede het Martha Mutschler-Chu, ՚n plantteler en genetikus aan die Cornell Universiteit, die taak aangepak om ՚n tamatie te ontwikkel wat natuurlik plaagbestand sou wees, wat die behoefte aan plaagdoderbespuitings verminder of selfs uitskakel.

Sy verwag om die projek oor ‘n paar maande af te sluit en saadmaatskappye toegang te gee tot twintig elite-lyne van natuurlik-plaagbestande tamaties.

Insekte kan tamaties regstreeks benadeel deurdat hulle blare en vrugte eet, maar as die insek ՚n virus dra, kan dit ook die plant met die virus besmet, wat selfs erger skade aanrig. ՚n Soort tamatie inheems aan Peru, Solanum pennellii, het egter nie hierdie probleem nie.

Die Peruaanse variëteit skei druppels suikerverbindings, genaamd “asielsuikers”, deur klein haartjies op sy oppervlak uit. Wanneer insekte op die plant land, veroorsaak die asielsuikers dat hulle hulleself oormatig begin skoonmaak en vinnig wegvlieg eerder as om te voed.

S. pennellii smaak egter nie lekker nie, daarom het Marthe en haar kollegas die gene wat verantwoordelik is vir die produksie van asielsuikers in die wilde plant probeer vind om hulle in te teel in ՚n soort tamatie wat mense graag eet.

Die lyne wat sy nou voorberei om vir saadmaatskappye toeganklik te maak, bevat net 2,5% van die wilde tamaties se DNS, so hulle het nie sy ongewenste geur en ander negatiewe eienskappe, soos klein vrugte en te veel takke nie. Hulle weer egter ՚n verskeidenheid insekspesies af.

Sodra saadmaatskappye toegang tot Martha se elite-lyne het, sal hulle die plante met hul eie variëteite tamaties moet kruis. Daardie proses kan tot vyf jaar duur, so die tamatiesaad sal eers oor ՚n hele paar jaar beskikbaar wees.

Aangesien Martha tradisionele teeltegnieke gebruik het om die plaagbestande tamaties te skep eerder as om dit met gene van ander spesies te verander, sal hulle nie deur die lang regulatoriese goedkeuringsproses vir GMO’s hoef te gaan nie. Dit beteken ook vinniger aanvaarding deur verbruikers.
(Bron: Freethink, Foto: Jason Koski /Cornell University)

Landini wys sy eerste 223,7 kW (300 pk) trekker

Landini, die Italiaanse trekkervervaardiger, het sy eerste 223,7 kW-trekker by die onlangse Poolse Agrotech-plaasmasjinerieskou gewys. Die 8-reeks sal in twee V-Shift-modelle aangebied word: die 8-270 (203,6 kW) en 8-310 (233,4 kW). Landini-handelaars en klante vra al ՚n geruime tyd vir ՚n trekker met meer krag as die 7-230, veral omdat die McCormick X8, wat van dieselfde Argo Tractors-stal afkomstig is, al ՚n paar jaar in produksie is.

Baie van die spesifikasies is nog nie bekend gemaak nie, maar joernaliste by
die Agrotech-skou sê die Landini 8-vlagskip lyk baie soos die X8. Dit word ook aangedryf deur dieselfde 6,7-liter sessilinder Stage V FPT-enjin. Dit is toegerus met ՚n elektronies beheerde turboaanjaer en uitlaatgasbehandelingstelsel. Die V-Shift CVT in die Landini 8 bereik 40 km/h teen ՚n rustige 1 300 opm of 50 km/h teen 1 600 opm.

Hierdie eerste hoëkrag (223,7 kW) Landini is by ՚n Poolse plaasmasjinerieskou ten toon gestel.

Die vier-pilare-kajuit het semi-aktiewe hidrouliese vering, en die luggeveerde operateursitplek bied outomatiese hoogteverstelling en ՚n rugleuning met verwarming en ventilasie. Die hoofkontroles en multifunksie-beheerstok is op die regterarmleuning geleë. Die 8-reeks kan ook toegerus word met Landini se vlootbestuur- en afstanddiagnosestelsel.

Die asafstand is tot 3 m, die standaard hidrouliese stelsel verskaf tot 157 ℓ/min (of opsioneel 212 ℓ/min), en die driepunthysvermoë is 12 ton.
(Bron: profitechnika.pl, Foto’s: Artur Jakubek)

0
0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0
0