Syngenta se Graan Akademie: ’n Toekoms vir slim boere

syngenta
Syngenta het hulle vierde jaarlikse Graan Akademie-program saam met die Universiteit van die Vrystaat se sakeskool en met die ondersteuning van Graan SA van stapel gestuur.
Hierdie leierskapsprogram is veral gemik op jong kommersiële boere om hulle voor te berei op die uitdagings van die landboubedryf.
“Ons moet voorbereid wees op enige iets wat kan gebeur in die landbougemeenskap. Daar is byvoorbeeld geen geneesmiddel wat onmiddellik die droogte kan stop nie. Ons kan onsself wel op die ergste voorberei met die gebruik van tegnologie en navorsing. Daar is geen beter manier as om ons dinamiese boere te help groei in hierdie tydperk nie,” sê Antonie Delport, besturende direkteur van Syngenta Suid-Afrika.
Boerdery in Suid-Afrika is baie in die kollig as gevolg van die droogte en die boere dra by tot voedselsekuriteit, ekonomiese volhoubaarheid en werkskepping. Die sukses van die landboubedryf weerspieël dus die sukses van die hele land.
“Die fokus sal wees op Suid-Afrika se onvermoë om voedselsekuriteit in die droogtetyd te verseker en die impak wat dit op die langtermyn het,” sê Antonie.
Daar is drie vroulike deelnemers wat deel is van die groep van 25 mense. Hulle kom van verskeie graanverbouingstreke in Suid-Afrika. Daar is baie talent tussen die jaar se deelnemers. Van die deelnemers is Wandile Sihlobo, ‘n landbou-ekonoom by Graan SA en Wandile Mtsweni, een van die direkteure by Amatsweni Amahle Farming Enterprise.
“Die Graan Akademie-program is in lyn met Syngenta se Good Growth Plan wat die vermoë wil skep om meer voedsel met minder hulpbronne te produseer,” sê Antonie.
“Syngenta wens die Graan Akademie 2016-klas net die beste toe. Die insig wat hulle gaan kry, gaan hulle vaardighede na die volgende vlak neem. Ons weet hulle sal die inligting wat hulle gekry het deel met die boeregemeenskappe met wie hulle in aanraking kom. Ons landboutoekoms is in jou hande,” sê hy ook.
Hierdie jaar se Graan Akademie gaan onder meer fokus op:
- Droogte en voedselsekuriteit
- Die uitdagings van georganiseerde landbou
- Oorhandiging van beheer na die volgende geslag
Bron: Syngenta