Swartvlek in sitrus: Die oorlog woed voort
Meer as vyf-en-tagtig jaar gelede het die eerste Suid-Afrikaans verboude sitrus in Europa aangekom. Dit
was die begin van ’n stewige handelsband wat selfs die boikotaksies oorleef het en vandag is Europeërs steeds
afhanklik van die Suid-Afrikaanse boer om hulle oggendlemoensap teen ’n baie mededingende prys te geniet.
Die Europese Unie is vandag die grootste verbruiker van Suid-Afrikaanse sitrus en is afhanklik van Suid-Afrika vir 70% van hulle invoere. Dit beloop ongeveer 670 000 ton met ’n waarde van 1-miljard Euro en maak tussen 40% en 45% van ons lemoene, pomelo’s, mandaryne en suurlemoene uit wat hulle weg uit ons hawens vind.
Hierdie rooskleurige handelsbetrekkinge het egter oor die afgelope paar jaar drasties verander en vandag is dit geen grappies vir Suid-Afrikaanse sitrusuitvoerders om die winkelrakke in Europa vol te hou nie. Die Europese Unie het oor die afgelope decade telkemale hulle neus opgetrek vir Suid-Afrikaanse sitrus as gevolg van die teenwoordigheid van die sitrusswartvlekswam op ons vrugte.
Die sitrusproduserende lande indie suide van die Europese kontinent, soos Spanje, Italië, Frankryk en Griekeland, is oënskynlik baie bekommerd dat hulle boorde met die swam besmet sal raak. Die swam veroorsaak lelike vlekke op sitrusskille, maar het geen invloed op die gehalte, smaak of tekstuur van die vrug nie en hou geen gevaar vir mense in nie.
Die EU het verlede jaar aangedui dat, indien hulle in meer as vyf verskepings uit Suid-Afrika swartvlek vind, hulle alle invoere sal opskort. Dit het toe in November gebeur en Suid-Afrikaanse boere het ernstige geldelike verliese gely as gevolg van vragte wat na ander hawens verskeep moes word. Die probleem is baie ernstig vir die multimiljard rand Suid-Afrikaanse sitrusbedryf en vir die derduisende werkers in die bedryf.
Teen die middel van verlede jaar het ’n paneel wetenskaplikes uit Brasilië, Argentinië, die VSA, Uruguay, Australië en Suid-Afrika bevind dat swartvlek nie deur middel van die verskeepte vrugte versprei kan word nie en dat swartvlek nie in die Mediterreense streek kan oorleef nie. Daarvoor het swartvlek ’n subtropiese klimaat met somerreënval nodig. Die EU se wetenskaplikes verskil egter van die bevindinge.
Die Europese Unie gaan tans deur ’n baie moeilike ekonomiese tydperk en dit wil voorkom of veral Spaanse boere, wat ook reuse sitrusprodusente is, alles in die stryd werp om hulle mark te vergroot, maar die interne
ondersteuningstelsel en die Europese beskermingskultuur vir hulle boere is
nie mededingend genoeg in ’n wêreldwye vryemarkstelsel nie.
Deon Joubert, spesiale EU-gesant van die Sitruskwekersvereniging, is egter vol moed dat hulle die stryd met die EU sal wen.
"Suid-Afrika, wat in die Suidelike Halfrond geleë is, produseer sitrus in die teenoorgestelde seisoen as Europa, wat vir ons ’n stewige houvas
op die Europese mark gee en dit is slegs ons laat mandaryne wat met hulle produksietyd oorvleuel, maar ons is vasberade om hierdie kosbare mark te behou," sê hy.
Swartvlek het wel ’n invloed op die gehalte en volume van ’n sitrusboer se oes, maar volgens dr Tiaan Schutte
van Citrus Research International (CRI) kan die siekte "maklik beheer word as die regte spuitprogramme
met produkte van geregistreerde maatskappye gebruik word. Indien die reën die boere oorval soos wat verlede
jaar gedurende die kritieke behandelingstyd gebeur het, kan boere net eenvoudig van kontakprodukte na
sistemiese swamdoders oorskakel".
’n Ligpuntjie vir Suid-Afrikaanse sitrusboere is dat die VSA onlangs hulle maatreëls teen die invoer van sitrus uit swartvlekgebiede heelwat verslap het. Nadat swartvlek in 2010 in Kalifornië sy verskyning gemaak het, het die US Animal and Plant Health Inspection Service (APHIS) aangedui dat dieselfde standaarde en praktyke vir ingevoerde sitrus kan geld, solank naspeurbaarheid, pakhuisregistrasie en -prosedures en fitosanitêre behandeling op standaard is.
Dit bied dalk vir Suid-Afrikaanse boere die geleentheid om hulle eiers beter oor die verskeidenheid mandjies te versprei. "Ons stuur tans ongeveer 3% van ons sitrus na die VSA. Ons ander kliënte is Kanada, Rusland, Sjina en die Midde-Ooste. Ons is ook nou besig om ’n vastrapplek in Afrika te kry en omdat die mark nader en baie geriefliker is, sal ons baie erns maak daarmee," sê Deon.