Swak paaie sny Loeriesfontein keelaf

kokerboom
Die kokerboomwoud is uniek aan die Hantam. (Bron: https://www.sa-venues.com/attractionsnc/quiver-tree-forest.php)
Loeriesfontein, ’n klein dorpie met sowat 2 744 inwoners in die Hantamstreek van die Namakwa-distriksmunisipaliteit in die Noord-Kaap, is volgens inwoners, boere en sakelui feitlik afgesny van die res van die land weens swak padinfrastruktuur.
Die dorp lê diep in die Karoo en beskik oor slegs een geteerde toegangspad – die 65 km-roete vanaf die afdraai by Nieuwoudtville. Alle ander verbindings is grondpaaie: ongeveer 120 km na Brandvlei, 90 km na Calvinia en 258 km na Springbok.
Volgens Carlo Visagie, voorsitter van die Hantam-Karoo Hoogland Paaieforum, is Loeriesfontein se isolasie ’n ernstige ekonomiese probleem. “Daar is nie ’n direkte geteerde roete vanaf Calvinia nie, en al die grondpaaie in die Karoo Hoogland-bedieningsgebied word deur die Namakwa-distriksmunisipaliteit bestuur. Vir ’n dorp soos Loeriesfontein is paaie letterlik die slagare waardeur die ekonomie leef.”
Die uitgestrekte Hantamdistrik beslaan sowat 30 000 vierkante kilometer, met ongeveer 70% van die bevolking van 20 000 wat in dorpe woon en werk. Landbou – veral skaapboerdery, lusern en rooibostee – vorm die ruggraat van die plaaslike ekonomie.
Daarby speel hernubare energieprojekte, mynbou en toerisme ’n toenemend belangrike rol. Die Loeriesfontein- en Khobab-windplase, met altesaam 122 windturbines oor 6 653 hektaar, vorm die grootste hernubare-energie-opwekkingsfasiliteit in Suid-Afrika. Soutmyne en die Kanakies-gipsmyn dra ook tot die plaaslike ekonomie by. Toerisme lok jaarliks besoekers van regoor die wêreld danksy die streek se blommeskouspel, die ikoniese kokerboomwoud en een van slegs twee windpomp-museums ter wêreld.

Weens die swak toegangspaaie na Loeriesfontein en omgewing wil groot vervoerkontrakteurs nie meer die paaie gebruik nie. (Bron: Noordwes-Karoo Nuusblad)
Maar al hierdie ekonomiese aktiwiteite steun op paaie wat besig is om te verbrokkel.
Volgens Callie van Zyl, Loeriesfontein se paaieverteenwoordiger, is die DR2972-grondpad die dorp se belangrikste ekonomiese lewensaar. Langs dié roete is daar twee windplase, ’n sonplaas en die gipsmyn. Sowat 700 swaar vragmotors gebruik die pad elke maand, wat dit waarskynlik die grondpad met die swaarste verkeer in die Namakwa-streek maak.
“Die stof en die swak toestand van die pad maak dit uiters gevaarlik, en daar was al talle ongelukke,” sê hy. “Nog wind- en sonplase word beplan. Dit gaan net nog meer druk op die pad plaas.”
Dit juis hierdie energieprojekte wat die grootste ekonomiese inspuiting vir die dorp bring. Die ontwikkeling van windplase het volgens Van Zyl tot groot groei gelei, met meer gastehuise en bedrywighede wat ontstaan het.
Tog word die infrastruktuur nie dienooreenkomstig onderhou nie.
“Op die DR2972 word ongeveer R250 000 per maand uit private sakke aan padonderhoud bestee,” sê Van Zyl. “Die pad se blad is totaal weg. As die privaat sektor nie inspring nie, gebeur daar feitlik niks. Die departement het die pad die afgelope twee jaar net twee keer geskraap.”
Nog ’n belangrike roete is die MR737, beter bekend as die Kliprantpad na Springbok. Ook dié pad dra swaar verkeer, onder meer van die Kanakiesmyn. Boere wat die pad gebruik, dra maandeliks geld by tot ’n fonds sodat hulle self die pad kan laat skraap wanneer dit onbegaanbaar raak. Dit gebeur gemiddeld drie keer per jaar. Die Kanakiesmyn dra ook privaat by om gedeeltes van paaie te herstel en nuwe bladmateriaal aan te bring.

Boere moet self inspring om die paaie met plaasimplemente te herstel. (Bron: Noordwes-Karoo Nuusblad)
Landbouers voel die impak van die swak paaie daagliks. Die Brandvlei-grondpad is noodsaaklik vir die vervoer van voer vanaf die Oranjerivier na Loeriesfontein, terwyl die MR570 tussen Loeriesfontein en Calvinia ’n sleutelroete is vir die vervoer van vee na markte en abattoirs.
Baie van die kleiner plaaspaaie is egter in só ’n swak toestand dat vervoerkontrakteurs huiwer om dit te gebruik. “As hulle wel die werk doen, vra hulle ekstra koste omdat die paaie so sleg is,” sê Van Zyl. “Daar is selfs boere wat sekere plase nie meer met voertuie kan bereik nie en hulle skape te voet moet aanjaag.”
Die gevolge is verreikend: voertuie breek, vragmotors sit vas, vervoer raak duurder en boere sukkel om voer op plase te kry om vee vir die mark voor te berei.. Dit belemmer nie net produksie nie, maar kniehalter ook verdere ekonomiese ontwikkeling.
Volgens Visagie en Van Zyl het die gemeenskap reeds verskeie pogings aangewend om hulp van die owerhede te kry.
“Ons het vergaderings probeer reël, e-posse gestuur, die media ingespan en selfs bedryfsorganisasies genader,” sê Van Zyl. “Maar daar is min reaksie.”
Die mening is dat die probleem grootliks by swak bestuur en ’n gebrek aan kundigheid lê. Volgens hulle is daar onvoldoende tegniese kennis oor padbou, waterafloop en ingenieurspraktyke. Paaie word verkeerd geskraap, wat skade vererger eerder as herstel, en masjinerie staan dikwels ongebruik omdat poste nie gevul word nie. “Daar is nie ’n span of program vir volhoubare herbou van paaie nie,” sê Visagie. “Alles word op ’n krisisbestuursbasis gedoen.”
Die situasie word verder bemoeilik deur Namakwa se uiteenlopende klimaatstoestande. Omdat die distrik winter- en somerreënvalgebiede insluit, is daar byna deurentyd vloedskade iewers in die streek.
Hierdie skade meestal net tydelik herstel, wat uiteindelik die probleem vererger.
Die verantwoordelikheid vir padonderhoud word tussen verskillende regeringsvlakke gedeel. Nasionale paaie soos die N7 val onder SANRAL, terwyl provinsiale en streekspaaie hoofsaaklik deur die Noord-Kaapse Departement van Paaie en Openbare Werke bestuur word. Sekere plaaslike roetes en dorpspaaie val weer onder plaaslike munisipaliteite soos Hantam en Nama Khoi.
Volgens Visagie bepaal Namakwa se eie dokumentasie dat die instandhouding en opgradering van gruis- en teerpaaie deel vorm van die munisipale paddienste. Tog voel inwoners dat die staat nie sy mandaat nakom nie.
“Boere maak gereeld self die ergste kolle reg,” sê hy. “Maar ons beskik nie oor swaar grondverskuiwingstoerusting nie. In ’n ekstensiewe landboustreek moet elke sent, net soos elke druppel water, versigtig bestuur word.”
Benewens die ekonomiese skade tas die swak paaie ook die gemeenskap se moraal aan. Volgens inwoners daal plaaswaardasie, nuwe toetreders sukkel om hul ondernemings aan die gang te kry en jong landbouers kies al hoe meer om oorsee te gaan werk.
“Die voortdurende gesukkel maak mense moedeloos,” sê Visagie. “Werkers trek eerder dorp toe, veiligheid en gesondheidsdienste verswak, en noodvoertuie word ook deur die swak paaie benadeel.”
Vir die gemeenskap van Loeriesfontein gaan die probleem dus oor veel meer as net slaggate en stofpaaie. Dit raak die voortbestaan van landbou, die groei van hernubare energie, toerisme, werkskepping en die toekoms van ’n hele streek.
Die burgemeester van die Karoo-Hoogland-munisipaliteit het teen druktyd nog nie op ‘n navraag reageer nie.