Categories: NewsPublished On: 15th November 2016

Swaar reën oor die noordelike dele van die Vrystaat

By 2 min read
414 words
swaar reen

swaar-reen-herman-weisse

Talle boere in die noordelike dele van die Vrystaat is vandag besig met skade-opnames na swaar reën en hael oor die naweek sporadies voorgekom het. Reënmetings in die Parys-distrik het tussen 30 mm en 200 mm binne vier ure op Vrydagmiddag, 11 November 2016, gewissel.

Kobus Dannhauser, voorsitter van die Parys Boerevereniging, sê sporadiese wolkbreuke het oor gebiede voorgekom. “Een boer het 30 mm oor vier ure gemeet, ‘n ander 100 mm oor dieselfde tydperk en nog ’n boer 200 mm.” Die reën volg op sowat 250 mm wat die vorige drie weke oor dele van die gebied geval het.

“Ten spyte van die skade is ons ongelooflik dankbaar! Die plaasdamme is almal vol, die Vaalrivier loop mooi en ons is dankbaar dat ons kan weet die Bloemhofdam kan nou aangevul word,” aldus Kobus. Sowat 80% van boere in die distrik is reeds klaar geplant, en veral sojaboon-aanplantings het erge haelskade. Talle landerye het ook spoelskade en skure se dakke het afgewaai of op werktuie ineengestort.

Herman Weiss, voorsitter van Greenlands Boerevereniging naby Koppies, sê talle plaas- en werkershuise se dakke het ook in dié omgewing afgewaai of ingegee, terwyl ander huise oorstroom het. “Tussen 120 mm en 150 mm het binne ‘n kort tyd oor dele van die distrik uitgesak en ons is baie dankbaar vir elke druppel.”

Boere in dié omgewing het al begin aanplant, maar nie baie van hulle het klaar geplant nie. Herman sê daar is ook wild deur die hael doodgeslaan of het verdrink. Skade in dié verband word nog nagegaan.

60 stuks wild het op Koos van Niekerk, ’n lid van Gottenburg Boerevereniging noord van Heilbron, se plaas gevrek. Van die diere is deur die hael doodgeslaan, en ander het verdrink. Koos sê tot 236 mm het binne 24 uur in die omgewing geval. “Ons is ongelooflik dankbaar vir die reën.” Boere in die omgewing is tans besig met skade-opnames na dakke ook hier afgewaai of ingeval het en aanplantings beskadig is.

In die Bothaville en Wesselsbron-distrik is skade-opnames ook onderweg, veral op koringaanplantings wat deur hael getref is. Tussen 60 mm en 100 mm is Vrydagmiddag in die omgewings gemeet, en hael het ook sporadies voorgekom.

Verder wes en in die westelike en suidelike dele van die Vrystaat het talle boere steeds geen noemenswaardige reën ontvang nie, dus het die droogte die boere steeds in sy greep.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens waarsku ondertussen dat nog swaar reën en oorstromings die week in die noordelike dele van die Vrystaat moontlik is.

Foto geneem deur: Herman Weisse 

Bron: Vrystaat Landbou

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0