Categories: NuusPublished On: 13th February 2020

Suid-Afrikaners is moeg vir leë beloftes!

By 2 min read
380 words

SAFRICA-POLITICS

Pres Cyril Ramaphosa

President Cyril Ramaphosa se 2019 staatsrede het groot beloftes vir die land en al sy mense ingehou. ‘n Bestekopname wat betref die president se beloftes en ondernemings en of hy en sy regering dit gestand gedoen het, dui daarop dat ons land op vele terreine agteruitboer!

In die vorige staatsrede het die president sewe prioriteite uitgelig. Van die vier mees kritiese prioriteite wat insluit ekonomiese transformasie, werkskepping, onderwys en gehalte dienslewering, het dadels gekom.

Groeivooruitsigte vir Suid-Afrika is deur die Wêreldbank verlaag tot onder 1% vir 2020. Statistieke SA dui aan dat die amptelike werkloosheidskoers tans op 29,1% staan. Die ware matriekslaagsyfer word bereken op 42,2%. Volgens die Ouditeur-generaal het die aantal munisipaliteite met skoon oudits vanaf 14% tot 8% verlede jaar gedaal. Dit het ‘n wesenlike impak op dienslewering!

“Dis tyd vir aksie en ons moet ‘n paar groot “Wêreldbekers” wen om die land se verswakkende ekonomiese groei en gebrek aan dienslewering om te draai”, sê Omri van Zyl, Agri SA se uitvoerende direkteur. 

Die president moet op die volgende vyf kernfaktore fokus:

  • Onteiening sonder vergoeding sal die ondergang van die land se ekonomie en voedselsekerheidstatus beteken. Die regering moet saam met Agri SA werk om volhoubare landbouontwikkeling te bewerkstellig.
  • Maak droogteramphulp ‘n nasionale prioriteit en werk saam met die privaatsektor om die probleem om te los.
  • Gebruik die privaatsektor se vaardighede om risiko’s soos bek-en-klouseer te mitigeer.
  • Maak landelike veiligheid ‘n nasionale prioriteit.
  • Privatiseer staatsbeheerde maatskappye soos Eskom en SAL en kry kundiges om die werk te doen.
  • Die Zondo kommissie ontbloot dag na dag die omvang van staatskaping. Die Nasionale Vervolgingsgesag moet die skuldiges vervolg en die reg moet sy loop neem. Kader ontplooiing moet ook gestaak word en professionele werkslui wat oor die kundigheid en etiek beskik om die land en al sy mense met passie te dien, moet aangestel word.

“Mense is moeg vir praat – dit is nou tyd vir doen – en tyd vir die president om leierskap te toon”, sê Christo van der Rheede, Agri SA se adjunk-uitvoerende direkteur.

“Ons planne is in plek om die ekonomie vorentoe te vat en om risiko’s te bestuur, maar die gebrek aan politieke wil om uitvoering aan hul eie ondernemings te gee, skep hewige frustrasie in die landbousektor en die ekonomie in geheel“, beaam van der Rheede.

Bron: Agri SA

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0