Categories: NewsPublished On: 10th December 2014

Suid-Afrikaanse mielie-uitvoerders slaan 'n slag in Sjina

By 2 min read

Met ons wisselende mielie-oeste produseer Suid-Afrikaanse boere gereeld oorskotmielies wat êrens ’n heenkome moet vind en nou is daar meer as1,3 miljard Sjinese wat ook ons mielies kan verbruik.

Senzeni Zokwana, minister van Landbou, Bosbou en Visserye en minister Zhi Shuping, (Algemene Administrasie vir Kwaliteit, Toesig, Inspeksie en Kwarantyn van Sjina (AQSIQ), Beijing) het eergistermiddag die protokol vir fitosanitêre vereistes vir die uitvoer van mielies na Sjina onderteken. Mnr Jannie de Villiers, uitvoerende hoof van Graan SA, noem dat dit goeie nuus is vir marktoegang vir Suid-Afrikaanse mielies na die Sjina-uitvoermark. Hierdie ooreenkoms speel ‘n belangrike rol om stewige fondamente te lê om die volhoubare groei van die landbousektor in Suid-Afrika te ondersteun, sê mnr De Villiers.

Sjina het oor die afgelope 5 jaar gemiddeld 2,9-miljoen ton mielies per jaar ingevoer. Die invoere het jaarliks tussen 980 000 ton en 5,2-miljoen ton gewissel. Die verwagting is dat Sjina vir die bemarkingsjaar tot einde September 2015, 2,5-miljoen ton mielies sal moet invoer. Sjina voer gewoonlik mielies uit die VSA in, maar het sedert 2013 ook begin om mielies uit Argentinië en die Oekraïne in te voer.

Die herleiding van handel na nuwe en moontlik meer volhoubare markte bly ‘n kernfokusarea van Graan SA. Met hierdie doel voor oë word alternatiewe deurlopend gesoek en word daar vereis om hieruit munt te slaan. Die fokus is veral daarop om alternatiewe markte vir mielies buiten die huidige gevestigde Afrika-markte te kry. Dit kan enige mark in Asië, die Midde-Ooste en elders wees.

Voldoening aan biosekuriteit bly ‘n belangrike fokusarea vir Suid-Afrikaanse graan vir toegang tot internasionale- en streeksmarkte. Suid-Afrika het ‘n voordeel bo ander mededingers in die mark te danke aan sy gunstige ligging vir uitvoer en sy vermoë om van die beste gehalte graan te produseer. Suid-Afrikaanse graanprodusente produseer voortdurend oorskotoeste, wat nie net tot voordeel van die verbruiker strek nie, maar ook bydra tot die land se inkomste.

“Die ontwikkeling van ‘n uitvoermark vir mielies na Sjina volg na harde werk wat deur die destydse voorsitter van Graan SA, mnr Neels Ferreira, in samewerking met minister Tina Joemat-Pettersson (voormalige minister van Landbou, Bosbou en Visserye) begin is. Dank word uitgespreek teenoor minister Zokwana en die personeel by die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye, veral dr Julian Jaftha en me Alice Baxter, wat hard gewerk het om die marktoegang na Sjina te bewerkstellig. Hierdie deurbraak beteken geweldig baie vir die mense van Suid-Afrika en die produsente wat die land voed,” sê mnr De Villiers.

 Bron: Graan SA

0
0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0
0