Stories van pyn en hoop in boek oor plaasaanvalle
“Op ‘n goeie dag sal jy vyf keer per dag aan die plaasaanvalle dink en op ‘n slegte dag honderd keer. Dit los jou nooit nie. Daar gaan nie dag verby dat dit nie by jou is nie. Dis deel van wie ons nou is.”
So vertel Neville Karg (65) na die aanval op sy plaas naby Mooirivier waarin sy vrou, Lorraine, en twee plaaswerkers vermoor is. Sy storie is een van die tien verhale van slagoffers van plaasaanvalle wat in die boek, Plaasmoorde: Slagoffers vertel self, deur Carla van der Spuy, verskyn.
Hoewel daar tabelle met plaasaanvalsyfers agter in die boek verskyn, is hierdie boek nie ‘n probleemontleding of wetenskaplike studie nie. Dit is mense se stories. Die familielede wat oorleef het vertel hoe die aanvalle gebeur het, hoe hulle gevoel het en hoe hulle die trauma agterna probeer hanteer het.
Soos ‘n goue draad deur byna al die verhale is die rol wat die plaasmense se geloof speel om hulle staande te hou en die behoefte om uiteindelik te vergewe om te kan aangaan.
Die doel van die boek is om die kollig op plaasaanvalle te plaas in die hoop dat dit sal bydra tot oplossings. Dit sal ongetwyfeld die meeste mense wat dit lees se harte aanraak, maar of dit beleidmakers sal beweeg om plaasaanvalle in die openbaar te verdoem, dit as prioriteitsmisdaad te verklaar en meer bronne vir die bestryding daarvan beskikbaar te stel, is te betwyfel.
Tog kan die boek gesien word as deel van die stroom van protes teen hierdie afgryslike verskynsel in Suid-Afrika wat van boerdery die gevaarlikste beroep in die land maak, selfs meer gevaarlik as om ‘n polisieman te wees.
Die skryfster, Carla van der Spuy, is self diep geraak deur die voorvalle wat sy in die boere se eie woorde beskryf het, maar soos sy sê: “Wat my egter meer as dit getref het, was die goedheid van mense, die daadwerklike medelye met die slagoffers van plaasaanvalle: die saamstaan, die empatie en medemenslikheid. Dit spreek uit die vertroue tussen boere en hulle werkers, die ondersteuning wat landelike mense aan mekaar bied en hoe die boere met die hulp van ander en ondanks hulle bloed, sweet en trane opstaan en voortgaan. Omdat boerdery in hulle bloed is. Omdat hulle dit nie oor hul harte kan kry om hul plaaswerkers in die steek te laat sonder ‘n inkomste nie. Omdat hulle, bowenal, lief is vir hulle grond.”
Plaasmoorde: Slagoffers vertel self, is ook in Engels beskikbaar. Dit beslaan 240 bladsye met lekker groot druk wat maklik lees en ‘n fotobeeld agter in. Die uitgewer is Bargain Books en die aanbevole kleinhandelprys is R120.
Kontak Maritha Snyman by 082-381-8540, of Carla van der Spuy by 082-895-3200 vir meer inligting oor waar om die boek te kry.
ISBN: 978 0992 219642 (Afrikaans)
ISBN: 978 0992 219659 (Engels)