Categories: NewsPublished On: 7th July 2010

Staalmeester-bied-die-baasplan:-Maal-mielieplante-maklik-vir-veevoer

By 3 min read

‘n Wonderlike ding is die mielieplant. Was dit nie vir gestroopte mielielande nie, dan sou beesboerdery in groot dele van ons land elke winter tot stilstand moes knars.

Trio B-boerdery daar by Tierpoort, so 45 km van Bloemfontein af Jagersfontein se kant toe, haal nou self meer uit die mielie.

Hulle plant droëlandmielies uitsluitlik as voerbron vir hulle Brangus-beeste. Om die mielies ten beste te benut, gebruik hulle ’n Staalmeester-stroopmeule. Dit is ’n hamermeule op wiele met ’n mielie­plukkerkop vooraan gemonteer, waarmee jy mielies (of enige ander rygewas, soos ook sorghum en sonneblom) net daar in die land met een ekonomiese beweging netjies en skoon sny en maal – sonder enige vermorsing.

Dit los die probleem op wat boere dikwels daarvan weerhou om gemaalde mielieplante as voerbron te benut. As jy die plante op die land moet afsny, die heel plante moet oplaai en aankarwei na ’n hamermeule toe en dan die hamermeule moet voer, is die arbeid, tyd, vermorsing en voerbesoedeling net te veel om ekonomies te wees.

Maar met die Staalmeester-stroopmeule is dit ’n ander saak:

Die mielieplukkerkop trek die plant met vingers in die voertonnel in en sny hom netjies af. Daarna stoot ’n wurm hom na twee klopspane wat hom op presies die regte manier in die hamermeule invoer. Hierdie ontwerp sorg vir ’n gladde voerproses sonder rukke en stote sodat ’n trekker van 40 tot 70 kW heeltemal voldoende is vir die taak.

Die hamermeul maal die hele mielieplant met koppe en al en blaas dit deur ’n sikloon na twee of as jy wil, vier, sakvullers op ’n platform agteraan, waar twee werkers sakke aan- en afhaak en die vol sakke op die grond neersit om later opgelaai te word.

Jy kan ook die meel in ’n sleepwa agter die stroopmeule blaas vir grootmaathantering.

Oom Boet von Benecke, bestuurder van die boerdery, is ingenome met die werkverrigting en gehalte voer wat die masjien lewer.

Die gemaalde mielieplante is die beste bron van ruvoer vir hulle voermengsel. Dit is belangrik dat die mieliepitte doeltreffend gebreek moet word, want ’n bees verteer nie ’n heel mieliepit nie. Die Staalmeester stroopmeule breek al die pitte heel doeltreffend.

Trio B se Brangusse is ewe tevrede met die Staalmeester stroopmeule se produk – hulle eet dit graag en gedy daarop.

Boonop is die ondervinding wat hulle van die plaaslike Staalmeester-agent, Bloemfontein Massey Ferguson, het baie positief. “Die mense se diens is baie goed,” sê oom Boet. “Hulle verstaan boerdery en gee ’n goeie voorbereidingsdiens en hulp om die masjinerie wat jy by hulle koop ten beste te benut.”

Daarby is Staalmeester ’n bekende en vertroude naam in landboutegnologie. Die stigter, mnr PML Coetzee, het die eerste mobiele stroper en grondbonedopper in Suid-Afrika ontwerp en vervaardig en later na ander wêrelddele uitgevoer.

Hy het ook talle ander landbouwerktuie spesiaal vir die Suid-Afrikaanse boer ontwerp en vervaardig, sodat hy in 1964 ’n eredoktorsgraad as meganiese ingenieur, met volle professionele status toegeken is.

In 1951 het hy Staalmeester gestig en in 1982 het sy seun, Martin, al die aandele in die maatskappy gekoop. Staalmeester se wye reeks werktuie is regoor die wêreld ’n toonbeeld van doelgeskiktheid en betroubaarheid, vandaar die Staalmeester-leuse: Produktiwiteit, koste­doeltreffendheid en diens aan die boer.

Vir meer inligting oor die Staalmeester-stroopmeule en ander Staalmeester-produkte, kan binnelandse boere Neels Hamman (082-558-4456) of Dirk Rossouw (076-481-4882) van Bloemfontein Massey Ferguson skakel of ’n faks na 051-434-3521 stuur.

As jy elders in die land boer, skakel Staalmeester by 018-431-0300 of 018-431-0693.

 

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0