Categories: Crop production, IrrigationPublished On: 18th April 2016

Sprinkelaartegnologie: Valley maak besproeiing steeds doeltreffender

By 3 min read
601 words

sprinkel 194

Die wêreld se grootste ontwikkelingsinrigting vir spilpunttegnologie is in die klein dorpie, Valley, naby die stad, Omaha, in die staat, Nebraska, in die VSA geleë. Dit is waar Valley se hoofkantoor, navorsing- en ontwikkelingsaanleg en plase amper 60 jaar gelede opgerig is. Met hierdie stewige basis onder hulle, doen Valley vandag nog steeds baanbrekerswerk in die ontwikkeling van ʼn tegnologie wat veel meer behels as wat op die oog af mag lyk.

Gert van der Werff is Valley se bemarkingsbestuurder in Suid-Afrika en hy is baie opgewonde oor die vorde-ring wat die Suid-Afrikaanse afdeling van hierdie wêreldwye maatskappy maak. “Valley hou tred met ontwikkeling en deesdae is energie- en waterbesparing op alle omgewingsbeswustes se lippe. Valley wend nou ʼn baie sterk poging aan om besproeiingsboere se naam in hierdie kwessie skoon te hou. Hierdie neiging pas Suid-Afrika soos ʼn handskoen, want ons huidige kragvoorsieningskrisis byt diep in boere se beursies en water bly maar skaars in ons kontrei,” sê Gert.

“Ons het ʼn punt bereik waar ons tevrede is met die ontwikkeling van ons spilpuntstrukture en daarom fokus ons nou sterk op sproeitegnologie en die doeltreffende oordrag van water vanaf die sprinkelaar na die plant,” sê hy.

Vandag kan ʼn boer nie meer bekos-tig dat minder as 90% van die water wat hy ten duurste verplaas het, deur die plant opgeneem word nie. Valley begin nou in die rigting van 95% beweeg, want dit kan die verskil tussen 14 ton en 15 ton per hektaar beteken.

In samewerking met die vervaardigers van sprinkelaars doen Valley noukeurige navorsing om elke waterdruppel se grootte en spoed presies reg te kry. “Jy wil nie hê dat die druppel so hard teen die grond vasslaan dat dit verdigting veroorsaak of uit die lande loop nie, maar die druppel moet ook nie halfpad ondertoe begin verdamp of deur die wind weggewaai word nie,” sê Gert.

“Die plant se behoeftes verander ook soos die seisoen aanskuif. Wanneer daar min plantbedekking is, moet die water nie die grondstruktuur beïnvloed nie en later moet die regte hoeveelheid water op die regte diepte in die grond eindig waar die wortels dit wil opneem.

“Dit gebeur baie dat jy verby ʼn spilpunt ry en dan ʼn pragtige mis rondom die sproeikoppe sien waarin daar ʼn lieflike reënboog skyn, maar daar is nie altyd ʼn pot goud aan die onderkant van daardie reënboog nie, want baie keer gebeur dit dat baie van daardie kosbare water verdwyn in die atmosfeer,” sê Gert.

Die hoeveelheid druk agter ʼn sprinkelaar kan deesdae ook baie vir ʼn boer se sak beteken. In die ou dae het ʼn sprinkelaar tussen 2,5 en 3 bar druk nodig gehad om doeltreffend te werk, maar deesdae kan Valley se sprinkelaars met so min as 0,5 bar hulle werk doen. Dit beteken dat ‘n kleiner pomp wat minder elektrisiteit vreet gebruik kan word, dat goedkoper pype die werk kan doen en as die pyp se deursnee geoptimaliseer word, boer ʼn boer net vorentoe.

Sprinkelaars wat deur Valley aangewend word, word ook voortdurend verbeter om toe te sien dat die leeftyd verleng word. “Vervaardigers van sprinkelaars ontwikkel steeds nuwe sproeiers sodat die sand en yster in die water nie die binnegoed en fynere werking vernietig om sprinkelaars se akkuraatheid te benadeel nie,” sê Gert.

Volgende keer word daar na die rewolusionêre nuwe sprinkelaar uit Oostenryk gekyk waarmee Valley-boere meer doeltreffend en langer kan werk.

Besoek gerus die Valley webwerf by www.valleyirrigation.com/za of kontak hulle vaardige mense by 010-350-0050, of stuur ʼn e-pos na infosa@valmont.com om meer uit te vind wat Valley vir die boer kan bied.

 

Valley-spilpunte se jongste ontwikkeling is sprinkelaars wat langer hou en elektrisiteit en water bespaar.

Valley-spilpunte se jongste ontwikkeling is sprinkelaars wat langer hou en elektrisiteit en water bespaar.

 

0
Tags:

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0