Categories: News, WheelsPublished On: 3rd July 2017

Splinternuwe Pajero Sport kom in September 2017

By 4 min read
821 words
pajero

pajero-sport_1800x1800

Mitsubishi Motors Suid-Afrika (MMSA) stel die hoogaangeskrewe splinternuwe Pajero Sport in September 2017 bekend. Dié stylvolle nuwegeslag-Mitsubishi-sportnuts bied verfynde rydinamika danksy talle toonaangewende tegnologiese verbeterings, waaronder ’n hipermoderne outomatiese agtgang-transmissie.

Die toevoeging van verskillende weelde- en gemaksnuwighede vir die bestuurder en passasiers maak die splinternuwe Pajero Sport ’n alledaagse genot om in te ry – hetsy dit knap stedelike roetes, hoëspoed-snelweë of enige ander grond- of veldryroete iewers in die platteland is.

Die eintlike voorbeeldige rygedrag van die nuwe Pajero Sport is hoofsaaklik te danke aan die naatlose samevoeging van sy indrukwekkende hoë verrigting, nuwegeslag-turbodieselenjin met ’n aluminium enjinblok, en sy moderne outomatiese transmissie met gevorderde tegnologie (waaronder ’n oordraratkas met laestrek vir die vierwielaangedrewe weergawe). Die vierwielaangedrewe model pronk ook met die jongste toevoeging van Mitsubishi se unieke Super-Select II-4 4WD-stelsel.

Die treffende nuwe Pajero Sport, wat ook met Mitsubishi se stylvolle Dynamic Shield-voorkantontwerp pronk, wys sy elegante en eietydse ontwerplyne wat van ’n gesagehebbende teenwoordigheid op die pad spreek.

Die blinknuwe Pajero Sport is die volmaakte sportnuts vir die moderne avonturier. Sy skitterend verfynde rydinamika, gekunstelde ontwerp en indrukwekkende teenwoordigheid op die pad, tesame met sy weelderige motoragtige gemak en skitterende ruimte sowel as Pajero se ikoniese bewonderenswaardigheid, sal ongetwyfeld die gees vir avontuur wat in die bloed van elke Suid-Afrikaner is, aanwakker.

’n Meer verfynde ervaring

Stewigheid en gemak was nog altyd deel van die Pajero Sport se DNS, en dit is dalk een van die redes agter Mitsubishi Suid-Afrika se klantelojaliteitsyfer van 92%.

Die moderne hedendaagse avonturier vereis egter meer as net blote topklas-veldryvermoë en gemaklike rit.

Aan die binnekant is die kajuit van die nuwe Pajero Sport spesifiek ontwerp om ergonomies te wees met sagte hoëgehalte materiale wat ’n uiters verfynde omgewing soos dié van ’n weelde-passasiersmotor bied.

Hoewel die verbeterde veerstelsel ontwerp is om selfs die uiterste terrein die hoof te bied, het Mitsubishi se ingenieurs verseker dat die uiterste rygenot van hulle nuwegeslag-sportnuts ewe motoragtig, weelderig en stil is. Die nuwe Pajero Sport sal sodoende vertroue oor enige terrein inboesem.

Die Pajero Sport is maklik om elke dag mee saam te leef danksy sy aansienlike standaard-toerusting, weelderige en ruim kajuit, gemaklike leersitplekke, uiters soepel outomatiese agtgang-transmissie regdeur die reeks en magdom veiligheidstoerusting en -stelsels wat daartoe gelei het dat die nuwe Pajero Sport ’n vyfster-gradering deur die Australasiese nuwemotorveiligheidsprogram (ANCAP) losgeslaan het.

Styl wat ’n tweede kykie regverdig

Mitsubishi se wêreldwye ontwerpbenadering wat “Form Follows Function” genoem word, was deurslaggewend in die ontwerp van die maatskappy se nuwegeslag-sportnuts, maar dit was van inherente belang dat die ingenieurs ’n ogie op die toekoms hou om te verseker dat die nuwe Pajero Sport uitstaan in ’n mark wat oorheers word deur groot gesinsportnutse wat spook om hulle tradisionele luikrugwortels versteek te hou.

Die stilering van die nuwe Pajero Sport is energiek en treffend terwyl dit terselfdertyd ’n onverskrokke stelling maak dat hy enige terrein kan baasraak, hetsy ’n inkopietog in die stad, ooppadry op die snelweg of oor rowwe terrein kruip – die Pajero Sport is ontwerp om gemaklik in enige omgewing te pas.

“Mitsubishi se ingenieurs het ingevolge hierdie nuwe ontwerpbenadering, wat ‘Dynamic Cruising Off-Roader’ genoem word, die beste van alle wêrelde in die splinternuwe Pajero Sport – ’n gevestigde vierwielaangedrewe sportnuts wat ’n mens met vertoue aan die wêreld kan wys – gekombineer,” sê Nic Campbell, hoofbestuurder van Mitsubishi Motors Suid-Afrika.

Verrigting wat by sy kragtige voorkoms pas

Die hoogsaangeskrewe en splinternuwe Pajero Sport is die gevolg van jare se beproefde tegnologiese ontwikkeling en sal die mees gekunstelde sportnuts wees wat Mitsubishi nog aangebied het.

Die nuwe hoëverrigting-turbodieselenjin bied die beste verrigting in sy klas, en tesame met sy hipermoderne outomatiese agtgang-transmissie bied hierdie kombinasie klante uiters soepel motoragtige verrigting, ’n ontspanne ry-ervaring, passasiersmotor-doeltreffendheid en -brandstofekonomie sowel as epiese veldryvermoë wanneer dit benodig word.

Mitsubishi se jongste weergawe van sy legendariese Super-Select II-4 4WD-stelsel sal gewis vertroue inboesem vir bestuurders wat dit verkies om heelwat tyd op grondpaaie deur te bring.

Eienaars van die bestaande Pajero Sport, wat steeds lojaal teenoor hulle kanniedood-voertuie is, sal bly wees om te hoor dat die nuwe Pajero Sport net so sterk en betroubaar is terwyl die nuwe model op sy onverskrokke reputasie voortbou deur ruimskoots op die gebied van verrigting, styl, weelde en veiligheid uit te bou.

Die nuwe Pajero Sport-modelreeks wat in Suid-Afrika beskikbaar gestel sal word, sal slegs uit hoëtoerusting-weergawes met 4×2- en 4×4-aandrywing beskikbaar wees – almal met die nuwe, verfynde outomatiese agtgang-transmissie.

“Pryse en toerusting-detail sal tydens die Pajero Sport-bekendstelling in September aangekondig word, maar vir nou kan ons onthul dat die nuweling mededingend in sy segment geposisioneer sal wees.”

Die splinternuwe Pajero Sport het ook al talle pryse losgeslaan, waaronder Thailand se Motor van die Jaar vir 2016 en Beste 4WD-sportnuts met ’n dieselenjin kleiner as 2,5ℓ; Indonesië se OTOMOTIF-Motor van die Jaar vir 2016; Nieu-Seeland se top-“leefstylsportnuts” vir 2016 en Motor van die Jaar in die Oekreine vir 2017 (middelgrootte sportnuts).

Bron: Mitsubishi

0
Views: 431Comments Off on Splinternuwe Pajero Sport kom in September 2017

Deel hierdie artikel.

0