Spekboom: Wonderplant help aarde asemhaal

spekboom 9
Spekboom (Portulacaria afra) is ՚n besonderse plant met die unieke vermoë om groot hoeveelhede koolstofdioksied uit die atmosfeer op te neem, koolstof in plantmateriaal te omskep en via die wortels terug in die grond te plaas.
In die lig van aardverwarming wat veroorsaak word deur te veel koolstofdioksied in die atmosfeer en te min koolstof in die grond is dit belangrik dat beskadigde spekboomveld gerehabiliteer en hervestig word om klimaatsverandering te help teenwerk.
Wat is spekboom?
Die spekboom is inheems aan die Oos- en Wes-Kaap en kom voor in ՚n ekologies sensitiewe gebied waar die fynbos-, vetplant- Karoo- en Albanystruikveld-biome saam voorkom.
Subtropiese ruigteveld word gekenmerk deur digte, verstrengelde plantegroei wat immergroen bome, laaggroeiende struike, sukkulente of vetplante, en doringagtige rankplante insluit.
Spekboom is ՚n sukkulente struik wat tot vyf meter hoog kan word. Dit is droogte- en hittebestand en groei vinnig met min sorg en water.
Die welige, spreidende groeiwyse en die digte laag molm onder die boom maak die grond meer vrugbaar en waterhoudend en verskaf ՚n koel, klam klimaat waar ander plante kan ontkiem.
Sodoende skep die spekboom ՚n ekostelsel wat tot voordeel van ander plante en diere strek, enersyds omdat dit die grond verryk, en tweedens omdat die blare en takke voeding verskaf.
Voordele van spekboom
• Spekboom het ՚n merkwaardige vermoë om, afhangend van die omstandighede, in dor gebiede tussen 4 en 10 ton koolstof per jaar te berg.
• Dit is ook besonders in die opsig dat dit sonenergie kan berg sodat fotosintese snags voortgesit kan word.
• Die hervestiging van spekboom, waar die plante deur oorbeweiding vernietig is, kan bydra om die koolstofvoetspoor van die mens se aktiwiteite uit te balanseer.
Aardverwarming
Die mens se invloed op ekostelsels dra by tot aardverwarming wat lei tot klimaatsverandering, wat uiterste weerstoestande soos oorstromings en droogtes veroorsaak. Uiterste temperature verdor die aarde en die plantbedekking verskrompel. As dit dan in oorvloed reën, spoel die bogrond weg en veroorsaak erge gronderosie. Omdat die reënwater wegloop en nie in die hardgebakte grond wegsink nie, word die watertafel nie gevoed nie en die veld raak al droër.
- Nuwe spekboomsteggies word tussen die ander plante geplant.
- In die kwekery in die tuin van die NG Kerk op Vanwyksdorp is tans sowat 138 000 spekboomplantjies wat as 15 cm-steggies van spekbome in die veld geoes is.
Oorsaak: Oorbeweiding
Net soos in die Oos-Kaap, is oorbeweiding ook die oorsaak van die skade aan spekboom in die Klein-Karoo.
Volgens André Britz, boer en uitvoerende direkteur van Jobs 4 Carbon NPC, is oorbeweiding nie bokke se skuld nie, maar die grondeienaars s՚n.
Hy verduidelik so: “Bokke word allerweë beskou as die oorsaak van oorbeweiding van spekboomveld. Maar dit is nie die bokke se skuld nie, dit is die mens wat die veld swak bestuur wat die skuld moet dra.
“Om vir jou ՚n voorbeeld te gee: Pionierboere het sê maar 1 500 morg (1 200 ha) grond gekry – eers onder die huurpagstelsel, wat later die erfpagstelsel geword het. Toe kon die boer ՚n huis bou, daarin woon en dit aan sy erfgename nalaat.
“Sê maar die boer het drie seuns en drie dogters. Die dogters raak geholpe met mans wat op die buurplase grootgeword het, terwyl die seuns wat met buurdogters trou by pa moet erf. Pa verdeel die grond in drie gelyke dele wat elk toegang tot ՚n suiping in
die rivier moet hê. Die seuns moet ook ewe veel vee hê. So, as pa 300 stuks kleinvee (bokke of skape) gehad het, moet elke seun ook 300 hê. Nou is dit altesaam 900, plus pa se 300 kleinvee-eenhede.
“Met die herderstelsel is daardie bokke elke dag soggens veld toe gevat om te gaan wei en te gaan water drink by die rivier, en saans moet daardie bokke weer terugkom kraal toe. Maak jou somme dan sien jy hoekom die veld oorbewei en uitgetrap is. Dit is nie die bokke se skuld nie …”
Volgens André het boere in die Calitzdorp-omgewing in die depres-siejare toe daar niks geld was nie, selfs spekboom vir volstruisvoer geoes. Dit beklemtoon hoe waardevol die plant as veevoer is omdat dit ryk aan voedingstowwe is, maar ook hoe sensitief dit is vir oorbenutting wat die besondere biodiversiteit van hierdie veld dramaties verskraal het.
Oplossing: Spekboom-restourasie in die Klein-Karoo
Die Jobs 4 Carbon-projek (J4C) wat in 2015 by Vanwyksdorp in die Klein-Karoo afgeskop het, rehabiliteer spekboomveld terwyl dit werk skep en die ekonomie van dié plattelandse dorpie stimuleer.
Jobs 4 Carbon is onder die vaandel van die Gouritz Groeps-Biosfeerreservaat (Gouritz Cluster Biosphere Reserve, of GCBR) van stapel laat loop.
In daardie stadium is dit deur die Wildlife and Environment Society of South Africa (Wessa) bestuur.
Destyds al het dr Steve du Toit, toe by Wessa, gesê: “Ons moet ernstig let op grootskaalse rehabilitasie van die omgewing anders gaan hierdie biodiversiteit, wat wêreldwyd erkenning geniet, verlore.”
Altesaam 60 voorheen werklose mense van Vanwyksdorp het onder leiding van André Britz, boer van die omgewing, begin met die rehabilitasie van spekboomveld op 300 ha grond.
Grond wat geskik is vir spekboomrehabilitasie is deur kundiges dr Annelise en Jan Vlok van Oudtshoorn identifiseer. Grondeienaars het grond beskikbaar gestel waarop spekboom gratis hervestig is met die verstandhouding dat die eienaars die grond vir die volgende 15 jaar sal laat braak lê en nie bewei of andersins benut nie.
Die mense van Vanwyksdorp is opgelei om spekboomsteggies te oes en te plant en ander plante te identifiseer, maar het ook opleiding in lewensvaardighede soos noodhulp, algemene gesondheid en veiligheid, asook leiding in die hantering van hulle persoonlike finansies, ontvang.
Aanvanklik is die projek deur die Europese Unie en die Departement van Omgewingsake gefinansier. Volgens André ontvang hulle tans sowat 65% buitelandse befondsing wat deur die GCBR gekanaliseer word, en 35% uit ander bronne, onder meer die staatskas.
- Melvin Oosthuizen en Katrien Opperman, die J4C-span se twee toesighouers.
- Die Jobs 4 Carbon-span maak gate teen die klipperige hang sodat spekboomsteggies geplant kan word.
Indringerplantegroei en erosiebeheer
Deel van Jobs 4 Carbon se werk is om indringerplante te verwyder en gronderosie te beheer. Meer daaroor in die volgende artikel.
GCBR
Die GCBR beslaan ՚n gebied van 3,2-miljoen hektaar bestaande uit staat- en privategrond. Die gebied, wat drie UNESCO-wêrelderfenisgebiede naamlik die Swartbergkompleks, die Boosmansbos-natuurreservaat en die Baviaanskloof insluit, word deur UNESCO erken as ՚n gebied van betekenisvolle belang. Dit gaan oor die bewaring van die ryk biodiversiteit tot voordeel van die sosio-ekonomiese ontwikkeling van die mense in die gebied.
Kontak Andre Britz by (+27)72-062-8444 of britzieaj@gmail.com of besoek die jobs4carbon-webtuiste by https://jobs4carbon.co.za/
Besoek die GCBR-webtuiste by https://gouritz.com/
Bronverwysings
AFP. (2024) Veelsydige spekboom help dorre aarde herleef. Maroela Media
https://maroelamedia.co.za/nuus/sa-nuus/veelsydige-spekboom-help-dorre-aarde-herleef/
Botha, L. (2024) Spekboom help wynplaas meer koolstof sink as wat dit gebruik. Landbou.com
https://www.landbou.com/landbou/bedrywe/herlewingslandbou/spekboom-help-wynplaas-meer-koolstof-sink-as-wat-dit-gebruik-20240520
Preventing, halting and reversing loss of nature
www.decadeonrestoration.org
Spekboom Restoration Research Group
https://www.spekboomrestorationresearch.org.za/home



