Southtrade: Bargam-selfloopspuit bespaar tyd en geld

southtrade 1
Die Bargam Grimac werk uitstekend op sojabone en Brian Robertson se groenteplaas met sy grondvryhoogte van 990 mm.
Brian Robertson is lief daarvoor om self sy hande in sy grond te steek. Hy hou ’n ferm hand oor sy boerdery en spuit ook self sy gesaaides. Hy het onlangs besluit om sy boerdery na ’n volgende vlak te neem deur sy eerste selfaangedrewe spuit te koop.
Southtrade is die invoerders van die Bargam-spuitreeks en verskaf dit aan verskeie agente, onder andere Carlu Trekkers in George. Hierdie is die vierde Bargam-spuit wat Brian by Carlu Trekkers gekoop het of waarmee hulle gehelp het.
Brian se spuite werk hard. Die selfloper gaan vir al twaalf maande in die jaar sy kant moet bring en word gemiddeld agt keer per aanplanting ingespan.
“Ek is baie beïndruk met die werktuig en werk nog hard om die baie funksies baas te raak,” sê Brian. “Ek en die Carlu-span is ook nog besig om die verskillende spuitkopkonfigurasies uit te toets om te bepaal wat ons moet gebruik vir elke bepaalde behoefte.”
Brian boer hoofsaaklik met broccoli en blomkool en plant ook soms kuilvoermielies. Die selfaangedrewe Bargam-spuit pas sy boerdery perfek. “Sy grondvryhoogte is 990 mm en ek kon dadelik begin spuit sonder dat die wiele verstel moes word. Al my trekkers se wielafstand is 1,5 m en my beddings is ook so uitgewerk. Jy kan die Bargam in ’n model van 1,8 of 1,5 meter bestel en toe kies ek die smal opsie.”
Die kousbalk van 21 m is egter die funksie wat Brian die meeste opgewonde maak. Dit bespaar hom baie geld aangesien dit deur middel van ’n blaasaksie die gif- en watermengsel diep in die plante inblaas.
Sy nuwe selfloper het ’n 2 000-liter tenk en ’n 21-meter balk. Met sy vorige spuit met ’n 15-meter balk moes hy baie meer terugry om die 1 200-liter tenk vol te maak. Met die kousbalk hoef hy net 400 liter spuitstof per hektaar te spuit, terwyl die vorige spuit 600 liter moes plaas om dieselfde uitwerking te gee. “Dit gaan meebring dat ek ook ’n derde van die tyd bespaar omdat die balk langer is en die tenk langer vol bly. Waar ek voorheen in elke tiende bedding moes ry, kan ek nou in elke veertiende bedding ry,” sê hy.
As jy baie ure in enige voertuig deurbring, is gemak ’n moet. Die Bargam-selfloper het ’n lugversorger en radio-straalplaatspeler. Jy kan die sitplek ook oppomp tot op die verlangde hoogte. Met die lugkussing onder jou kom jy nie eers agter dat die dag verbygaan nie. Die kontrole-raakskerm het ook tred gehou met die jongste ontwikkelings en wys al die nodige funksies om onnodige berekeninge uit te skakel.
“Dit wys deurlopend hoeveel liter in die tenk oor is, asook die drukking in die stelsel. Dit pas die neerslag aan soos jy vinniger of stadiger ry. Die spuitkoppe se kritieke onderdeeltjies, wat van keramiek gemaak is, kan outomaties verstel om die verlangde hoeveelheid vloeistof toe te dien, nadat jy die keuse op jou skerm gemaak het,” sê hy. Southtrade kies hulle agente sorgvuldig. “Ek koop ook baie ander produkte by Carlu Trekkers en hulle diens is uitstekend,” sê Brian.
Kontak vir Southtrade by +27 (0)21-981-6044 of e-pos southtrade@iafrica.com of besoek hulle webwerf by www.southtrade.co.za om ook na hulle ander produkte te kyk.

In die donker, onder ’n ultravioletlig, kan jy mooi sien hoe deeglik die Bargam-selfloperspuit die spuitmiddel tot diep in die plant in blaas.

Southtrade se Bargam Grimac 1J glip deur lande en groentebeddings terwyl dit teen enige spoed presies die verlangde hoeveelheid vloeistof plaas.

Carlu Trekkers in George het onlangs in een week twee van Southtrade se Bargam Grimac 1J-selfloopspuite verkoop; een aan Brian Robertson en die ander aan sy buurman, Ruben Barnard.