Categories: Artikels, Meganisasie, NewsPublished On: 30th November 2021

Slim kunsmisstrooier put volle waarde uit duur kunsmis

By 7 min read
1337 words

DSC_0664

Die Vicon-kunsmisstrooier bied uitstekende waarde vir geld en verhoog die boer se opbrengs sodat die strooier homself in ՚n japtrap betaal.

Die boer wat wen is die een wat die beste uit al sy hulpmiddels put. Met die hoë kunsmispryse moet boere deesdae doodseker maak dat elke korrel kunsmis vir hulle werk, anders is groot verliese hulle voorland.

Daarom kies die wyse boer die toerusting wat kunsmis die akkuraatste, egaligste en doeltreffendste toedien — geen vermorsing en geen oorslaanstukke.

Een so ՚n boer is Hendrik Jacobs van Jacobs-boerdery in die Normandien-distrik tussen Newcastle en Ladysmith in Natal.

“Ons het by Wasbank begin boer met 150 ha, drie broers en ՚n pa, en ons het maar so uitgebrei en uitgebrei tot waar ons vandag is,” vertel Hendrik Jacobs.

Die drie Jacobs-broers het elk sy eie vertakking binne die boerdery. Hendrik behartig die gewasvertakking. Hy plant 1 000 ha sojabone, mielies en hawer onder besproeiing.

Die ander twee broers is verantwoordelik vir die veevertakking, die voerkraal en die slaghuis.

Hendrik boer al die afgelope vyftien jaar in die distrik. Hy vertel: “Vir die afgelope twaalf jaar is ek ՚n bewaringsboer en fokus op minimumbewerking op my lande. Ons het nie baie werktuie nie, maar ons spuit baie en dit is waarom ons hoëpresisie-spuite en -strooiers gebruik.

“Bewaringsboerdery vereis dat alles presies gedoen moet word. In vandag se dae is dit noodsaaklik dat jou toerusting en werktuie maklik moet wees om mee te werk, betroubaar om jare te hou en om aan jou boerdery se behoeftes te voorsien,” sê Hendrik.

Gewoonlik het strooiers twee of vier werpers, maar wat die Vicon RO-EDW GeoSpread-kunsmisstrooier uniek maak, is sy agt werpers, wat vir ՚n perfekte strooipatroon sorg.

Dis hier waar Jupidex vir die boer na vore tree met ՚n reeks presisiekunsmisstrooiers vir elke toepassing. Jupidex is welbekend vir sy diens aan die boer met net die beste landbouwerktuie, en sy Vicon-kunsmisstrooiers hou hierdie trotse naam hoog.

“Ons strooi groot hoeveelhede kunsmis op ons gewasse omdat ons alles onder besproeiing het,” sê Hendrik. “Daarom is dit van uiterse belang dat die kunsmis presies toegedien moet word — in die regte hoeveelheid en op die regte plek. Die rede waarom ek op Jupidex se duursame RO-EDW Vicon GeoSpread met sy hoë gehalte besluit het, is sy vermoë om uiters akkuraat op my lande te werk. Die akkuraatheid bepaal hoe egalig die kunsmis versprei word en verminder vermorsing terwyl dit my oeste verbeter. Elke korrel werk.”

“Voordat ek die presisie kunsmisstrooier gekoop het, moes ek altyd 5% ekstra kunsmis bestel, maar dit is nou ՚n probleem van die verlede. Die kunsmis wat ek bestel en dit wat ek gebruik is 99,9% akkuraat.”

՚n Groot voordeel van Jupidex se RO-EDW Vicon GeoSpread-kunsmisstrooier is sy gebruikersvriendelikheid. Die kunsmisstrooier is ISOBUS-gereed en integreer met enige trekker se sagtewarestelsel.

Alle ISOBUS-versoenbare Vicon-kunsmisstrooiers kan as standaard veranderlike toedieningbeheer doen. Dit word gedoen op ՚n voorskrifskaart wat in kombinasie met die GPS-stelsel werk. Die kunsmisstrooier verander sy pla-sing outomaties gegrond op ՚n voorafbepaalde en plekspesifieke verspreidingsvoorskrif.

“Dit is nogal ՚n pluspunt vir my. Met baie van die ander tegnologie moet jy die hele stelsel koop met ՚n skerm en alles. Hierdie kunsmisstrooier is reeds ISOBUS-gereed. Wanneer jy die strooier met jou trekker se sagtewareskerm koppel dan herken hy onmiddellik die strooier en hy is dan reeds gereed en ingestel. Die strooier gebruik die skerm wat reeds in my John Deere-trekker is en trek net die data van die strooier daarop. Jy hoef nie nuwe sagteware aan te koop of enige bykomende kostes aan te gaan nie,” sê Hendrik.

Presisie-aanbevelings word op die raakskerm van die trekker gedoen.

Die strooier vat drie ton kunsmis, wat die tyd en logistiek bespaar om elke nou en dan vol te maak.

“Dit is net ongelooflik hoe akkuraat die strooier is,” sê Hendrik.

Jupidex se strooiers verseker dat jy jou kunsmis egalig en akkuraat versprei sodat dit vir jou kan werk. Met die seksiebeheer kan jy presies aandui binne watter grense daar gestrooi moet word en die strooier skakel self oorvleueling uit.

Hendrik sê hy skryf vir die strooier ՚n voorskrifkaart en dan gooi hy nie ՚n enkele korrel kunsmis oor die grens nie. Al die lande word opgedeel in blokke, elke gedeelte kry kunsmistoediening volgens sy spesifieke behoeftes soos die grondontleding uitgewys het.

Die werkwydte van die RO-EDW Geo-Spread kunsmisstrooiers strek vanaf 12 tot 54 meter en daar is modelle beskikbaar wat van 1 500 tot 3 900 liter hou.

“Jupidex se diens is onverbeterlik en dit is waarom ek weer en weer by hulle werktuie koop,” verklaar Hendrik. “Ek het ՚n reëling met Jupidex — hulle span kom gedurende die af-seisoen wanneer die werktuie stilstaan en nie gebruik word nie uit plaas toe om die werktuie deur te gaan en seker te maak alles is reg vir die volgende seisoen. Hulle versien my strooier, vervang al die seëls waar nodig — so as ek hom haak is hy gereed vir aksie!”

“Ek het voorheen drie 1,2-ton strooiers gehad, elk met sy eie trekker en operateur. Nou het ek al drie daardie strooiers met hierdie een Vicon RO-EDW GeoSpread-kunsmisstrooier vervang. Dit is ՚n beduidende besparing op trekkers, diesel en arbeid.”

Christopher Laubscher van Jupidex saam met Hendrik Jacobs by sy Vicon-kunsmisstrooier.

“Hierdie strooier is ook baie akkurater. In die ou dae moes ons rye aftel om te bepaal watter strook volgende gestrooi moet word, maar die Vicon se seksiebeheer en outomatiese aanpassing by trekkerspoed skakel hierdie bekommernis uit.”

Die strooier het ՚n dubbele insetratkas en weeg 695 kg (leë bak sonder verlengings).

Die kalibrasie van die strooier is baie eenvoudig. Jy skakel net in op die toepassing wat op jou foon of skootrekenaar afgelaai kan word om jou strooier te kalibreer. Die strooier kalibreer homself ook deurlopend in die lande, elke dertig sekondes.

“Ons bespaar tyd met die outomatiese kalibrasie en met die strooi van die kunsmis. As jy op die regte tyd strooi, word die gewasse bevoordeel en uiteindelik beteken dit ՚n groter oes. Dit maak die aankoop die moeite werd,” sê Hendrik.

“Die vloei van die kunsmis word deurlopend beheer. Met die vorige drie strooiers het ek teen 10 km per uur gestrooi waar ek nou teen 16 km per uur kan strooi, wat nog meer tyd en kostes bespaar .”

As jy by ՚n kontoer kom en jy skakel oor na ՚n laer rat, bly die hoeveelheid wat gestrooi word presies dieselfde.

“Nog ՚n pluspunt van hierdie strooier is dat my John Deere-trekker (6170) hom met gemak sleep,” vertel Hendrik.

Die Vicon is so ontwerp dat hy nie jou kunsmiskorrels stukkend slaan en verpoeier nie.

Die strooier wat tot Jacobs-boerdery se presisieboerdery bydra.

Sommige kunsmisstrooiers maal en slaan die kunsmiskorrels fyn sodat jou duur bemesting op die wieke van die wind weggewaai word en plante brand waar dit land, maar nie die Vicon nie. Hy begelei die kunsmiskorrels sagkens en galant, maar baie beslis, tot waar dit bedoel is om te beland.

“As jy so baie strooi soos ek, klop die som uit en uit en die strooier betaal homself sommer gou-gou af,” sê Hendrik.

“As ek ՚n voldag strooi, kan ek maklik 200 ha met die strooier dek. Ek sal beslis hierdie strooier vir ander boere aanbeveel omdat jou doeltreffendheid soveel beter is, jou begroting altyd klop, jy baie vinniger strooi … en dan is die diens wat Jupidex lewer boonop puik,” sê Hendrik. “Ek bel die manne van Jupidex op ՚n Saterdag of Sondag-middag — selfs net voor Kersfees — met ՚n probleem en hulle sal altyd antwoord en bystaan om te help,” glimlag Hendrik.

Hendrik is ook ingenome met die Vicon se betroubaarheid, te danke aan die slim ontwerp. Die werkende dele is eenvoudig, wat beteken dat probleme nie maklik voorkom nie. So lank as wat jy die strooier reg gebruik en skoon hou, sal hy sonder probleme werk.

Jy kan ook strooi sonder strooi. Kry jou Vicon RO-EDW GeoSpread-kunsmisstrooier vandag nog deur (+27)33-386 3574 te skakel vir meer inligting. Besoek https://www.jupidex.co.za/product-category/spreading-equipment/spreading-equipment-disc-spreader/ om die verskeidenheid strooiers te bekyk wat die boer help om groter oeste te lewer en tyd en geld te bespaar.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0