Slim geboer op Landboukorrels Boeredag
Boere het weer vanjaar hope praktiese inligting by die Landboukorrels Boeredag by Cullinan ontvang. Die sprekers het almal uit die hart uit gepraat oor die tema: Boer slim met vee. Die Boeredag word deur TLU SA Sentraalstreek en ProAgri gereël met Radio Pretoria as mediaborg. Vanjaar is daar ook ‘n Ile de France produksieveiling en ‘n veiling van komersiele diere aangebied.

Dr Hinner Koster, ‘n bekende boer en voedingskundige was die eerste spreker. Die kern van sy boodskap was dat koeie in optimale kondisie moet kalf. Hy sê veral met kalftyd net na die winter is dit ‘n probleem, maar met beplanning is dit moontlik.
“Moenie deur die winter probeer bespaar nie, dit is goedkoper en makliker om ‘n dragtige dier se kondisie te handhaaf, in plaas daarvan om haar weer terug te kry na goeie kondisie wanneer sy moet kalf.”
Hy sê dit is belangrik dat die bronne van voeding op die plaas doeltreffend benut moet word en dat die doelwit bly dat die koei elke twaalf maande moet kalf.
Hy het boere daaraan herinner dat aanvullings net aanvullings is – dit kan nie weiding vervang nie.

Die bosluiskenner, Pierre van Niekerk, het die boere by die Landboukorrels Boeredag laat regop sit met sy reguit uitsprake. Sy boodskap aan boere was: Ken jou plaas, ken jou parasiete en ken hulle siklusse.
Pierre sê die grootste probleem van bosluise is nie siektes soos rooiwater en hartwater nie. Die grootste probleem is dat die speeksel van bosluise ‘n eetlusdemper bevat. Met ander woorde, dit onderdruk groei. Melkproduksie verlaag en diere kan ‘n gewigsverlies van tussen 15 en 40 kg toon.
Pierre sê hy kom op baie plase en as die hek skeef hang en die krip lek, kan jy maar weet daar gaan ‘n bosluisprobleem ook wees.
Dr Dave Midgley is ‘n veegesondheidskundige wat nie saam met die stroom swem nie. Hy gee raad oor gesondheid, nie “siekheid” nie. Hy sê boere vat hulle motorkarre in om gediens te word sonder dat daar ‘n probleem is, maar met hulle diere wag hulle tot die dier siek is voor hulle iets doen. Dan probeer hulle eers self dokter en net voor die dier amper dood is, word die veearts ingeroep.
Hy het die waarde van voorkomende gesondheid verduidelik aan die hand van verhoogde produksie deur ‘n verkorte paartyd. Die ideaal is dat koeie in die eerste twee weke van kalftyd kalf. Die koeie wat laat kalf skep ‘n probleem, want ‘n koei se baarmoeder het 42 dae nodig om te herstel.
‘n Ander probleem is dat ‘n koei se weerstand laer is in kalftyd. In die tyd wat haar baarmoeder oop is, kan slegte kieme, soos van vuil hande, maklik indring en probleme veroorsaak.
Dr Midgley sê dragtigheidsondersoeke deur ‘n veearts is eintlik te laat. Voorkomende gesondheid beteken dat die veearts eerder ingeroep moet word om die koeie voor paartyd te ondersoek.
Hy sê hy het al dikwels gevind dat tot drie uit 100 koeie in ‘n kudde ‘n probleem het met ‘n vuil baarmoeder. Soos die bul werk, kan die besmetting oorgedra word en lei tot 15 tot 20% besmetting van die kudde.
Die voordeel van ‘n korter paartyd lê dus hoofsaaklik in die langer hersteltyd voor die bul met sy werk begin.

Dr Duncan Prinsloo van Biosem naby Bronkhorstspruit het Kolletjie die geduldige koei nader geroep om te verduidelik en te wys hoe embriospoeling werk. Dit is ‘n fyn raakvattegniek om die embrio’s uit die baarmoeder te haal, maar as dit reg gedoen word kan jou kosbare teelkoei tot 60 kalwers in ‘n jaar produseer, wat dan natuurlik deur ander minder kosbare koeie gebaar word.
Dr Prinsloo sê die KI-bedryf is nog glad nie so lank aan die gang nie, maar “jy kan jou hande saamslaan oor al die ontwikkeling”.
Hy het hulde gebring aan boere wat wetenskaplikes druk om oplossings te vind. Hy sê hierdie tegnieke word nie sommer net uitgedink deur mannetjies in wit jasse in laboratoriums nie, dit word ontwikkel omdat boere die moontlikhede sien en meer produktief wil boer.
Hy sê: “Ek wil my hoed afhaal vir ons boere; ons boere is edel mense. Daar is nie nog boere soos ons Suid-Afrikaanse boere nie.”
Dr Prinsloo is ‘n paar jaar gelede in ‘n plaasaanval in die rug geskiet en hoewel hy moeilik beweeg en met krukke oor die weg kom, is hy nog elke dag aan die werk om studente te leer en tegnologie te ontwikkel wat boere kan help.

Boere en die polisie moet ten nouste saamwerk om veediefstal hok te slaan, het kolonel Johan Scott, provinsiale koördineerder van Sentraal-Transvaal se Veediefstaleenheid, tydens Landboukorrels Boeredag gesê.
Kol Scott het ook gesê dat boere daarop moet aandring dat patrollies in hulle gebiede gery móét word, aangesien dit ‘n baie sterk afskrikmiddel vir veediewe is.
Van die boer se kant af moet hy ook binne die wet optree om sake vir die polisie makliker te maak, soos om diere te brandmerk. Van al die vee wat in die land gesteel word, is net 17% gebrandmerkte diere.

Boere kon ook na afloop van die lesings kyk na ‘n vriesbranddemonstrasie deur Abri van Myburgboerdery. Met vriesbrand word die vel nie gebrand nie, maar die pigmentasie van die hare word verander, sodat die merk nie deur diewe weggebrand kan word nie.

Oud en jonk het aandagtig gekyk en geluister na Phil Rawlins met sy praktiese kleinveehanteringsdemonstrasie.

Andria Cronjé en oom Cees Legemaat deel ‘n grappie tydens Andria se prikkelende praatjie oor kruie en hulle gebruike.

Ossewaritte is ‘n tradisie by Landboukorrels Boeredag en elke jaar verwonder mense hulle aan die deursettingsvermoë van die Voortrekkers wat die binneland op ossewaens aangedurf en getem het.